Hof

Verkeerdevlei: Seuns ís aangerand, getuig boer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die boer in wie se bakkie 'n pa en sy twee minderjarige seuns in Verkeerdevlei gery het toe hulle na bewering deur drie ander boere aangerand is, het Vrydag in die landdroshof op Winnie Mandeladorp (Brandfort) getuig die twee seuns ís deur die manlike beskuldigde aangerand.

Andries Bornman van die plaas Atheloon by Verkeerdevlei is die pa se werkgewer.

Die susters Janné en Lize-Mari Smith en Hendrik Steyn, al drie boere, staan tereg op aanklagte van poging tot moord, ontvoering, roof, crimen injuria, aanranding, aanranding met die opset om ernstig te beseer en regsverydeling.

Die Smith-sussies Lize-Mari en Janné verlaat Vrydag die beskuldigdebank tydens hul verhoor in Winnie Mandela-dorp se landdroshof.  Foto: Mlungisi Louw
Die Smith-sussies Lize-Mari en Janné verlaat Vrydag die beskuldigdebank tydens hul verhoor in Winnie Mandela-dorp se landdroshof. Foto: Mlungisi Louw

Dit hou verband met gebeure op 30 Julie 2023 toe die susters glo die pa en seuns in die bakkie van die pad afgetrek het omdat hulle vermoed het dit is veediewe.

'n Groep boere het uiteindelik in die middernagtelike ure voor Verkeerdevlei se polisiekantoor saamgetrek, met die polisie wat gevrees het dat hulle aangeval word en die boere wat glo gefrustreerd was omdat die polisie vroeër nie na die toneel uitgekom het nie.

Bornman het getuig Steyn het een van die kinders geskop.

"Ek het herhaaldelik vir Hendrik gesê: ‘Dit is nie grootmense nie, dit is kinders. Jy kan nie dit doen nie,' " het hy getuig.

Hendrik Steyn verlaat die beskuldigdebank.  Foto: Mlungisi Louw
Hendrik Steyn verlaat die beskuldigdebank. Foto: Mlungisi Louw

Steyn boer reg langs die Smith-sussies se onderskeie plase in die Verkeerdevlei-distrik. Hy het getuig hy ken hulle reeds van hul geboorte af.

Die bevrore beesvleis wat in die pa en sy twee seuns se besit gevind is, was 'n geskenk van Bornman af.

Hy het getuig 'n bees het op sy plaas versuip en dat hy die vleis aan een van sy plaaswerkers gegee het.

Die plaaswerker het toestemming gehad om met Bornman se bakkie te ry, hoewel nie op die spesifieke pad waar hy voorgekeer is nie.

LEES OOK| Verkeerdevlei-‘aanranding': 16-jarige knak onder kruisondervraging

Die pa het glo weggehardloop nadat Janné die vleis op die grond wou gooi en hy geweier het dat sy dit doen.

Die twee seuns is aangesê om op hul knieë te staan.

Bornman het getuig Steyn het die twee seuns later op hul maag laat lê. Steyn was volgens hom baie aggressief.

"Toe ek op die toneel kom, het een van die seuns gehuil en my gesmeek om hulle asseblief te help," het Bornman getuig.

Van links sit Janné Smith, Hendrik Steyn en Lize-Mari Smith in Winnie Mandela-dorp (Brandford) se landdroshof.  Foto: Mlungisi Louw
Van links sit Janné Smith, Hendrik Steyn en Lize-Mari Smith in Winnie Mandela-dorp (Brandford) se landdroshof. Foto: Mlungisi Louw

Ten spyte van sy pleidooi aan Steyn om die seuns uit te los, het hy besef Steyn gaan nie luister nie.

Hy het toe in sy bakkie gaan sit.

Toe hy uitvind die kinders se pa is by die polisiekantoor, het hy daarheen gejaag.

Bornman het verskeie kere in sy getuienis daarna verwys dat die boere in Verkeerdevlei swaar onder veediefstal ly.

Bornman se kruisondervraging gaan op 10 Desember voort nadat die hof Vrydag weens 'n wateronderbreking vroeg verdaag het.

Die landdros het Bornman daaraan herinner dat hy die saak intussen met niemand mag bespreek nie.

"Ek het in elk geval niemand met wie ek die saak kan bespreek nie. Verkeerdevlei se mense praat nie met my nie en ek praat nie met hulle nie," het Bornman hierop gesê.