In Diepte

Charles Smith: ’n Monument vir genl. De Wet

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die monument vir genl. Christiaan Rudolph de Wet wat op die plaas Klipfontein, Dewetsdorp, opgerig is. Rentia Joubert sê hulle wil sy geestelike krag huldig. Dit gaan in Februarie 2022, 'n eeu ná sy dood, onthul word. Die monument is gebou tussen die vier mure van 'n ou klipskuur wat daar was toe De Wet hier gewoon en gesterf het. Foto: Charles Smith
Die monument vir genl. Christiaan Rudolph de Wet wat op die plaas Klipfontein, Dewetsdorp, opgerig is. Rentia Joubert sê hulle wil sy geestelike krag huldig. Dit gaan in Februarie 2022, 'n eeu ná sy dood, onthul word. Die monument is gebou tussen die vier mure van 'n ou klipskuur wat daar was toe De Wet hier gewoon en gesterf het. Foto: Charles Smith

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se besluit om onder meer die naam Huis C.R. de Wet op die kampus te verwyder, gebeur ironies kort voordat 'n monument onthul gaan word op die Vrystaatse held genl. Christiaan Rudolph de Wet se plaas om sy geestelike dryfkrag op sy 100ste sterfdag te gedenk. Charles Smith het op Klipfontein, Dewetsdorp gaan kuier.

"Vir my was hy die blink môrester van die Afrikaner se opstaan uit ellende en die pad na oorwinning," sê Rentia Joubert op Klipfontein en streel oor die monument vir genl. Christiaan Rudolf de Wet, wat sy en haar man, Gideon, opgerig het.

Sy verwys na die blink punt van die klein suil wat in die generaal se ou skuur gebou is en deur die klipmure beskut word. Die sinkdak is weg en die punt van die suil wys na die môrester.

Die Jouberts beplan 'n klein gedenkgeleentheid op Sondag 30 Januarie om die monument te onthul. De Wet is op 3 Februarie 1922 in die huis op dié plaas dood. Hy is by pres. M.T. Steyn, vader Kestell en Emily Hobhouse by die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe.

Joubert wil egter nie dié oorlogsheld, wat die Britse weermag drie jaar lank in die Anglo-Boereoorlog aan die raai gehou het, hier huldig nie, maar eerder sy geestelike krag wat gemaak het dat hy al die teëspoed in sy lewe kon oorkom.

"Ek wil hom graag vir sy psigiese krag vereer. As kliniese sielkundige stel ek baie daarin belang. Hy het getriomfeer oor al sy terugslae. Met sy dood het hy al tien kinders verloor, hy het baie terugslae in die oorlog gehad van manskappe wat oorlede is en hy was in die tronk (met die Rebellie in 1914)."

"Maar hier op die stoep van Klipfontein se huis het hy vyf maande voor sy dood van versoening en vergifnis gepraat. Hy het gesê as ons taalregte en vryheid het, kan versoening en samewerking plaasvind."

Sy sê 100 jaar ná sy dood is dié woorde nog net só belangrik.

"Beslis, ja. Beslis."

Die woorde op die monument sal op dié dag onthul word.

'n Steggie van De Wet se vyeboom vir die gaste

"Genl. De Wet tussen sy skape," lui die onderskrif by dié foto van C. Kiriel kort voor sy dood. Die vermoede is dat dit op Klipfontein of die aanliggende Sterkwater geneem is. Foto: Verskaf
"Genl. De Wet tussen sy skape," lui die onderskrif by dié foto van C. Kiriel kort voor sy dood. Die vermoede is dat dit op Klipfontein of die aanliggende Sterkwater geneem is. Foto: Verskaf

Dit is egter ironies dat sy nalatenskap nou, net voor die herdenking van sy dood, weer 'n terugslag met die UV se besluit kry.

"Dit is so, maar ons sal ons nie laat terugsit nie. Die menslike gees is in staat tot baie en ek wil graag daarby inskakel."

Hoewel sy onlangs eers uitgevind het dat haar skoonouers familie van De Wet was, het sy altyd baie agting vir hom gehad - juis oor die een besonderse eienskap wat sy wil huldig.

Elkeen van die sowat 50 gaste wat genooi gaan word, sal 'n steggie van De Wet se vyeboom agter die huis ontvang as 'n simbool van sy besonderse rol in die Vrystaat en sy dryfkrag wat sal voortleef.

Sy wys na die groot vyeboom wat steeds welig en groen naby die leidam met sy stam vas in die Vrystaatse grond staan. Om hom in die boord is granaatbome en 'n peerboom wat vol jong vrugte is.

Op foto's in die huis wat van 1921 dateer, is die werf kaal sonder 'n grasperk of tuin.

Die opstal van die plaas Klipfontein, Dewetsdorp, kort voor genl. Christiaan de Wet se dood in Februarie 1922.  Foto: Verskaf
Die opstal van die plaas Klipfontein, Dewetsdorp, kort voor genl. Christiaan de Wet se dood in Februarie 1922. Foto: Verskaf

As die generaal vandag 'n draai op Klipfontein kon maak, sou hy hom in 'n welige oase in die hart van die provinsie begeef met tuinbeddings en 'n grasperk wat lowergroen tussen die bome uitstrek.

In sy sterftekamer skyn die son deur die venster waaruit hy in sy laaste dae oor sy plaas en die Vrystaat uitgekyk het en sy gedagtes weer op sy perd Fleur oor die vlaktes gestuur het.

Dit is hier waar hy vrede gemaak en vir vrede en versoening in sy politieke testament gepleit het:

"Ek voel my einde is naby. Dit is die Here se wil. Wees regverdig, maar bly Afrikaners. As ek net my mense kon verenig en almal wat in gees met ons is, selfs al is hulle Engelse, dat sal ons hulle omarm in vriendskap asof hulle ware Afrikaners is. Christiaan de Wet."

Genl. Christiaan Rudolph de Wet (middel) op die stoep van Klipfontein kort voor sy dood. Foto: Verskaf
Genl. Christiaan Rudolph de Wet (middel) op die stoep van Klipfontein kort voor sy dood. Foto: Verskaf

‘Versoening die wagwoord, maar nie vir huidige heersers'

Natuurlik is versoening die wagwoord, en dit hoor ons dikwels. Maar vir die huidige gesagvoerders beteken dit kennelik die wenner neem alles. Dit behoort nie so te werk nie, sê prof. Fransjohan Pretorius, historikus en kenner van die ABO.

Hy is gevra oor De Wet se rol in die geskiedenis en die UV se poging om die kampus van alles Afrikaans te suiwer: Afrikaans, Steyn se standbeeld en nou al die Afrikaner-helde se name na wie koshuise genoem is.

"In ons nuwe demokrasie in 'n plurale gemeenskap met sy diverse kulturele erfenisse behoort versoening te wees om alle groepe se erfenis in gedagte te hou. Want anders vee jy die minderheid se erfenis en geskiedenis by die agterdeur uit. Dis wat besig is om met die Afrikaner se geskiedenis en erfenis te gebeur - dit word gedemoniseer, en Afrikaners moet daaroor skaam voel."

Hy sê David Noko, voorsitter van die universiteitsraad, sê van die nuwe kanselier, prof. Bonang Mohale: Mohale leef aktief die waardes uit wat die UV na waarde skat en nastreef. Dit is waardes soos respek, empatie, gelykheid, solidariteit, diversiteit en omgee (Volksblad, 8 November 2021).

Pretorius sê daar is baie in die Afrikaner se geskiedenis waarop hy besonder trots kan wees. Maar dan moet die betrokke tydsgees in gedagte gehou word. Jy kán nie verwag dat 'n De Wet, 'n Kestell of 'n Reitz in hul tydperk vir swart stemreg geagiteer het nie. Dit beteken egter nie hulle moet nou na die vergetelheid verban word nie.

"Soos wat ek die Zoeloe-konings Dingane en Shaka respekteer en die verering vir hulle begryp, verwag ek dieselfde respek vir die Afrikaner se leiers. Die kern van die saak is dat die maghebbers kennelik besluit het dat Suid-Afrika se ‘skoon' geskiedenis in 1994 begin het, en dat enige gebeure voor dit wat die Afrikaner uitbeeld, uitgewis moet word."

Daar moet meer ruimte wees vir ons almal se kulturele erfenis - daardie respek, empatie, gelykheid, solidariteit, diversiteit en omgee waarvan Mohale praat, sê hy.

"Wanneer genl. De Wet se naam dus gekoppel word met 'n Sesotho-naam na die naam C.R. de Wet-Bophelong, kan ek my daarmee vereenselwig. Dis 'n wen-wen-situasie, al klink dit vreemd op die oor. Dit gee erkenning aan die diverse groepe op die kampus. Afrikaners wil nie graag sê: "Ja, verwyder die name van ons kulturele erfenis, want by die UV is ons nie meer welkom nie; ons wil nie daarmee vereenselwig word nie."

‘God, maak my getrou tot die dood. Amen.'

Die huis op die plaas Klipfontein buite Dewetsdorp soos dit vandag lyk. Genl. Christiaan de Wet is in 1922 hier dood. Gideon en Rentia Joubert, die huidige eienaars, het die tuin in 'n lushof omskep. Foto: Charles Smith
Die huis op die plaas Klipfontein buite Dewetsdorp soos dit vandag lyk. Genl. Christiaan de Wet is in 1922 hier dood. Gideon en Rentia Joubert, die huidige eienaars, het die tuin in 'n lushof omskep. Foto: Charles Smith

Joubert vat raak - De Wet se geestelike dryfkrag en liefde vir die Vrystaat moet beklemtoon word, sê Pretorius oor die monument op Klipfontein, Dewetsdorp.

Wanneer die nood tydens die Anglo-Boereoorlog op sy hoogste was, het hy 'n weg gevind om sy burgers te inspireer om in die stryd teen Britse imperialisme te volhard.

Daardie geestelike dryfkrag word verwoord in 'n opmerking van De Wet, soos aangehaal deur die Nederlandse skrywer dr. W. van Everdingen: "In eenig groot werk is de eerste vereiste: moet!" De Wet het sy liefde vir vryheid bondig met 'n skietgebed uitgespreek: "God, maak my getrou tot die dood. Amen."

"Só eenvoudig. Pres. Nelson Mandela het op 'n positiewe wyse gewag gemaak van die vryheidsideaal van Afrikaners soos De Wet. Laat ons soos Mandela daaruit besieling put en daardie ideaal inklusief vir alle Suid-Afrikaners laat voortleef. De Wet het ook altyd geleenthede benut en 'n slegte situasie in 'n wensituasie omskep."

'n Ossewa begroet besoekers by die huis op Klipfontein. Foto: Charles Smith
'n Ossewa begroet besoekers by die huis op Klipfontein. Foto: Charles Smith

Oor die ANC en die EFF se geluide om De Wet se standbeeld voor die Vierde Raadsaal in Bloemfontein te verwyder, sê Pretorius die middestad van Bloemfontein behoort tog sekerlik aan al sy inwoners. En daarom behoort die standbeeld te bly waar hy is - as inspirasie vir álle Suid-Afrikaners oor daardie vryheidsideaal teen oorheersing.

Pretorius sê soos met naamsverandering is daar 'n groot taak wat op politieke en kulturele leiers rus - om hulle mense op te voed om die diversiteit en respek waarvan die nuwe kanselier van die UV praat uit te leef en uit te bou.

"Die geskiedenis van Suid-Afrika het nié in 1994 begin nie. Vat my erfenis weg uit die openbare oog en jy vee my geskiedenis weg, asof ek nie in hierdie land hoort nie. Of is dit wat jy beoog?

"Natuurlik sal genl. De Wet se standbeeld by die Oorlogmuseum pas, maar waarom moet my geskiedenis uit die openbare oog in die middestad van Bloemfontein verwyder word asof dit demonies sou wees?"

Foto's van genl. De Wet op Klipfontein in die woonhuis op die plaas.  Foto: Charles Smith
Foto's van genl. De Wet op Klipfontein in die woonhuis op die plaas. Foto: Charles Smith
Die sterftekamer van genl. Christiaan Rudolph de Wet in die huis op die plaas Klipfontein, Dewetsdorp. Foto: Charles Smith
Die sterftekamer van genl. Christiaan Rudolph de Wet in die huis op die plaas Klipfontein, Dewetsdorp. Foto: Charles Smith
'n Groot Vrystater onthou. Rentia Joubert van die plaas Klipfontein in die distrik Dewetsdorp gesels met ds. Barnard Steyn voor 'n muur vol portrette van genl. Christiaan de Wet in die huis waar hy dood is. Joubert beplan 'n gedenkgeleentheid vir De Wet in Februarie 2022 want dan is dit 100 jaar ná sy dood. Steyn, van die NG kerk se sinodale hoofkantoor in die Vrystaat, sal by die geleentheid optree. Foto: Charles Smith
'n Groot Vrystater onthou. Rentia Joubert van die plaas Klipfontein in die distrik Dewetsdorp gesels met ds. Barnard Steyn voor 'n muur vol portrette van genl. Christiaan de Wet in die huis waar hy dood is. Joubert beplan 'n gedenkgeleentheid vir De Wet in Februarie 2022 want dan is dit 100 jaar ná sy dood. Steyn, van die NG kerk se sinodale hoofkantoor in die Vrystaat, sal by die geleentheid optree. Foto: Charles Smith

Pretorius sê hy is nie 'n voorstander van 'n eksklusiewe geskiedenis nie - presies dit wat die gesaghebbers nou voorstaan. Net so is hy nie 'n voorstander daarvan om die Afrikaner se geskiedenis as die enigste verhaal vir sy kinders te vertel nie.

"Vertel die verhaal inklusief. Leer hulle dat die geskiedenis soos die lewe vol nuanses is - daar is altyd die "Ja, maar . . ." in die geskiedenis. Daar was wit konsentrasiekampe én swart konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog.

"Daar is geleentheid in skole om verder as die sillabus te gaan. Na my wete word dit reeds benut om aspekte wat vir die Afrikaner saakmaak na vore te bring, maar dit moet steeds inklusief gedoen word."

• Mense wat graag uitgenooi wil word na die huldigingsgeleentheid vir genl. De Wet op Sondag 30 Januarie 2022 op Klipfontein, kan Joubert by 0824640859 bel.