Geweld by Kovsies: Hier is die redes

'n Gebrek aan beslissende leierskap, onvoldoende veiligheid en polisieoptrede, onopgeloste arbeidsonrus en rassisme het tot verlede jaar se vlaag van geweld en onrus op die Kovsiekampus bygedra.

So bevind die Universiteit van die Vrystaat (UV) se "onafhanklike ondersoekspan" na die "Shimlapark-voorval en verwante gebeure op die kampus in Februarie 2016" (soos toe die standbeeld van C.R. Swart afgebreek, aan die brand gesteek en in 'n visdam gegooi is).

Die ondersoekspan het bevind "die gedrag van die wit toeskouers wat vanuit die paviljoen in Shimlapark die betogers op die veld aangeval het - sodat sommige bewusteloos was - was gewelddadig, rassisties en barbaars."

Die gedrag van die wit toeskouers wat vanuit die paviljoen in Shimlapark die betogers op die veld aangeval het - sodat sommige bewusteloos was - was gewelddadig, rassisties en barbaars.

Verskeie getuies het die hervatting van die Varsitybeker-rugbywedstryd as "uiters sensitief en pynlik" beleef. Luidens die verslag het die betogers hul vreedsame reg op protes uitgeoefen, maar moes hulle besef het die reg om te betoog bring nie die "reg mee om gesonde verstand te ignoreer nie".

Die verslag van 90 bladsye, getiteld "People, not stones", van die span regsgeleerdes aangestel deur die UV-raad en gelei deur oudregter Johann van der Westhuizen, voormalige regter van die konstitusionele hof, is op 2 Desember aan die UV-raad voorgelê.

Dit bespreek die afdanking van 'n studentewerknemer, viktimisasie van studenteaktiviste, armoede onder studente (en werkers), ongelyke "bevoorregting" en die groei van "swart nasionalisme" op kampus as bydraende faktore.

Die paneel sê: "Sterk, beslissende, maar regverdige leierskap is altyd noodsaaklik, veral in toestande van verandering, onsekerheid en plofbaarheid."

Dit betreur die feit dat prof. Jonathan Jansen en Lindokuhle Ntuli, voorsitter van die studenteraad (SR), nie beter kon saamwerk nie. Dit het gelyk asof Jansen in 'n "persoonlike stryd of mededinging met die SR-voorsitter, 'n student in sy 20's" gewikkel was.

'n Senior UV-bestuurslid het in getuienis aangevoer "die ego van die SR-voorsitter is geensins kleiner as die visekanselier (Jansen) s'n nie".

Die paneel het bevind die uitlatings oor white bastards, "rassisme" en "rassiste" deur Ntuli op sy Facebook-bladsy is nie haatspraak nie.

Die verslag bevind die afbreek van die Swart-standbeeld was vir die betogers 'n "simboliese oorwinning".
Die verslag bevind die afbreek van die Swart-standbeeld was vir die betogers 'n "simboliese oorwinning".

Die afbreek van die Swart-standbeeld was vir die betogers 'n "simboliese oorwinning" en het hulle gekalmeer. Die "afbreek van die standbeeld van 'n apartheidspolitikus" is nie "gewone skade aan eiendom nie" en soortgelyk aan die val van die Berlynse muur en die standbeeld van Saddam Hoesein.

Die verslag beskryf hoe Ju-Marie Pretorius van AfriForum voor die paneel die aanvaller wat haar by Shimlapark met 'n megafoon bygedam het, nie herken het nie (al het hy haar om verskoning gevra) waarskynlik omdat sy rastalokke afgeskeer was.

Dit betrek die destydse omstrede Reitz-videovoorval, die beweerde omry van 'n swart student deur twee wit mense op kampus en die #FeesMustFall-veldtog en bespiegel daaroor of die naam van die manskoshuis Heimat ("wat Reitz vervang het") wat nie op kampus is nie, 'n apartheids- of Nazi-verbintenis het.

Die paneel het verneem Jansen het die aand van die rugby eintlik ander dringende werk gehad, maar die wedstryd gaan bywoon omdat hy gehoor het van die "studenteplan" om Shimlapark toe te gaan.

Toe die betogers die veld betree, het Jansen sy selfoon gesoek om veiligheid te bel. Hy het besef dis gekoppel aan die laaier in sy motor en het dit gaan haal. Met sy terugkeer het hy net die laaste gevegte op die veld gesien.

Prof. André Keet van die Instituut vir Versoening en Maatskaplike Geregtigheid is in 'n "rassistiese aanval" op die veld platgeloop en deur JC van der Merwe van die instituut gered. Keet moes 'n bier gaan drink om sy senuwees te laat bedaar.

Regter Ian van der Merwe, toe UV-raadsvoorsitter (sy termyn het einde Desember 2016 verstryk), het gesê die raad aanvaar die verslag as 'n "goeie aanduiding . . . van wat voor, ten tyde van en ná afloop van die Shimlapark-voorval gebeur het en waarom".

Die raad het die UV-bestuur aangesê om in oorleg met belanghebbendes, die studenteraad inkluis, 'n plan as 'n bloudruk vir transformasie en uitwissing van rassisme saam te stel.

Die raad het die UV-bestuur aangesê om in oorleg met belanghebbendes, die studenteraad inkluis, 'n plan as 'n bloudruk vir transformasie en uitwissing van rassisme saam te stel.

Die ondersoekspan beveel aan die verslag moet aan alle studente, personeellede en diegene met 'n wettige UV-belang bekend gestel word.

By navraag het dit geblyk die UV volstaan met die dien van die verslag voor die raad.

Die UV moet ernstig werk maak van rassisme en transformasie, insluitend die verandering van die name van geboue met "oënskynlik onskuldige of neutrale Afrikaanse name van bome" na ander tale vir 'n omgewing waarin swart studente meer tuis sou voel.

Só lui UV-reaksie op verslag

Voordat Netwerk24 die verslag gekry het, is vrae daaroor aan die UV gestel, onder meer oor hoekom dit nie bekend gestel word nie. Hieronder is die UV se reaksie. Die UV is later ook verwittig dat Netwerk24 die verslag gekry het en daaroor berig.

Lacea Loader, UV-woordvoerder, het op die aanvanklike vrae gesê:

Die ondersoek na die voorvalle in Februarie 2016 op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat se Xerox-Shimlapark, asook ander verwante voorvalle voor, tydens en ná afloop van die gebeure, is afgehandel en die verslag van die paneel het op 2 Desember 2016 voor die UV-raad gedien.

Die paneel, wat deur die UV-raad aangestel is en onder leiding was van 'n afgetrede regter van die konstitusionele hof, regter Johann van der Westhuizen, het omvattend ondersoek ingestel na die voorval onder personeel en studente van die UV verlede jaar. Bewyse wat versamel is, sluit in skriftelike voorleggings en ander dokumente, oudiovisuele opnames, terreininspeksies en verhore op die Bloemfontein-kampus.

Die UV-raad het die paneel op sy vergadering op 2 Desember 2016 vir die verslag bedank en het ag geslaan op die inhoud daarvan. "Die raad aanvaar dat die verslag 'n goeie aanduiding is van wat onmiddellik voor, gedurende en ná afloop van die Shimlapark-voorval gebeur het en waarom," het regter Ian van der Merwe, voorsitter van die UV-raad, gesê.

Aanbevelings in die verslag behels onder meer dat openlike of verskuilde rassisme, opsetlik of andersins, sonder versuim deur die UV hanteer moet word. Verder is deurlopende gesprek oor transformasie en begrip tussen studente en personeel van verskillende rasse en van verskillende agtergronde nodig om maatskaplike samehorigheid te bevorder. Die gebruik van "haatspraak", of opruiende en kwetsende taal wat daaraan grens, moet vermy word. Die aanbevelings dui verder daarop dat almal by die UV daadwerklik daarna moet streef om groter begrip te kweek, byvoorbeeld begrip van wit studente vir die frustrasie en woede van swart studente en begrip van swart studente vir die vrees van wit studente en begrip van almal vir die lot van werkers ensovoorts; alle pogings moet aangewend word om te voorkom dat enigeen op die UV-kampus gemarginaliseer, geïgnoreer of verneder voel; en protesleiers moet hulle uiterste bes doen om binne die grense te bly van die grondwetlik gewaarborgde reg om vreedsaam te betoog.

In die lig van die ondersoekpaneel se verslag, het die UV-raad op sy vergadering op 2 Desember 2016 in sy bestuurshoedanigheid aan die bestuur van die UV opdrag gegee om 'n transformasieplan in oorleg met alle belanghebbendes op te stel, waaronder die Studenteraad (SR), waarin die aanbevelings van sommige ander bestuursverslae oor die saak in ag geneem word.

"Die denke agter dié besluit is dat 'n omvattende transformasieplan as bloudruk vir die verdere transformasie van die UV en die uitwissing van rassisme moet dien. Die raad het ook besluit dat oorweging geskenk moet word aan die vestiging van 'n transformasiekomitee wat regstreeks aan die raad verslag doen en dat die transformasieplan vroeg in 2017 aan die raad voorgelê moet word," het regter Van der Merwe gesê.

Wat personeellede se beweerde betrokkenheid by die studenteprotes betref: Die feit dat die UV aangedui het dat dit "modererend van aard was - by die UV sowel as op nasionale vlak" beteken dat van die personeel die rol van onderhandelaars vertolk het wat met die protesterende studente gesprekke gevoer het om sodoende te help dat die protesaksie(s) nie handuit geruk het nie. Die wyse waarop die gesprekvoering plaasgevind het, het daartoe bygedra dat protesaksies by die UV nie in geweld ontaard het nie. Een personeellid dien ook in 'n adviserende rol op nasionale vlak en is betrokke by voorheen Afrikaanse universiteite in dieselfde hoedanigheid.

Jansen stel paneel aan om ondersoek na Shimlapark te lei

Prof. Jonathan Jansen, toe rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV), het in Maart 2016 aan regter Johann van der Westhuizen, 'n voormalige regter van die Grondwethof, en prof. Leon Wessels, oudmenseregtekommissaris, sy idee van 'n kommissie van ondersoek na die gebeure op Shimlapark voorgestel.

Die regter is gevra om die ondersoek te lei en 'n "senior swart vroulike advokaat" as sy medepaneellid te identifiseer. Dit is ooreengekom dat 'n senior advokaat nie noodwendig nodig is nie.

Die paneellede was: regter Van der Westhuizen, staatsadvokaat Phoebe Labuschagne; Molebogeng Kekana van die Regshulpsentrum en adv. Mduduzi Skhosana van die Johannesburgse balie.

Die ondersoek is gerig op "die Xerox-Shimlapark-voorval en alles voor, ten tyde van en ná die gebeure".

Enige ondersoek na moontlike aanspreeklikheid het geval buite die reikwydte van die ondersoek.

Die paneel was nie 'n "geregtelike kommissie" nie en kon niemand dagvaar nie. Almal was bereid om die eed af te lê of om plegtig te verklaar hul getuienis is waar. Hoorsêgetuienis is aanvaar, maar minder waarde is daaraan geheg as aan direkte "oog- en oorgetuienis".

Die ondersoek het onder beskerming van die UV se Instituut vir Versoening en Maatskaplike Geregtigheid geskied.

Altesaam 43 "getuies" is aangehoor, onder andere huidige en voormalige studente (veral "aktiviste"), UV-dosente, UV-bestuurslede en kontrakwerkers by die UV. Onder hulle was Jansen, Lindokuhle Ntuli (SR-voorsitter), Trevor Shaku (navorsingsassistent by die Instituut vir Versoening en Maatskaplike Geregtigheid), Cornelia Faasen (vorige studentedekaan), dr. Lis Lange (viserektor: akademies), prof. Nicky Morgan (viserektor: bedryf), verskeie "studenteaktiviste", Wilhelm André Kotzenberg (Shimla-rugbyspeler), Dougie Heymans (Shimla-afrigter), prof. André Keet (direkteur van die Instituut vir Versoening en Maatskaplike Geregtigheid), en Lacea Loader (direkteur: kommunikasie en handelsnaambestuur).

Paneel maak aanbevelings

Die ondersoekpaneel beveel aan dat sy verslag aan die raad van die Universiteit van die Vrystaat (UV) met alle studente, personeellede en diegene met 'n wettige belang by die UV gedeel word.

Aangesien dit buite sy mandaat val, maak die paneel geen bevindinge oor individuele aanspreeklikheid nie.

Ander aanbevelings sluit in:

-Ondersoeke en dissiplinêre verhore oor "die opmerking deur 'n personeellid dat rekeningkunde nie vir swart mense is nie, die beweerde skree van die k-woord vanuit Karee-manskoshuis en die gooi van urine of 'n ander vloeistof deur wit studente na 'n swart vroulike veiligheidsbeampte" moet afgehandel word

-"Daar moet onmiddellik werk van openlike of bedekte rassisme, doelbewus of andersins, gemaak word. Sterk dissiplinêre stappe is nodig, want die tyd vir oordadige verdraagsaamheid is verby. Onderrig in sensitiwiteit en bewustheid oor die waardes en regte van die Grondwet kan nuttig wees. Gegewe die vestiging van die Instituut vir Maatskaplike Geregtigheid en Versoening en die Instituut vir Menseregte is "nuwe instellings waarskynlik onnodig".

Kosmetiese stappe kan skadelik wees, lui die verslag

-Deurlopende gesprek oor transformasie en begrip tussen studente en personeel van alle rasse is dringend nodig, ook om die "punt waar geen terugkeer meer moontlik is nie" af te weer.

-Die UV-leiers moet ook dringend aktiewe stappe vir transformasie doen, lui die verslag. "Transformasie behels meer as die verandering van name van geboue en ander ruimtes, maar die verandering van name met oënskynlik onskuldige of neutrale Afrikaanse name van bome na ander tale sou kon bydra tot 'n omgewing waarin swart studente meer tuis voel.

Die UV moet hom vir groter begrip by wit studente vir die frustrasie en woede van swart studente beywer en by swart studente vir die vrese van wit studente - en by almal vir die lot van die werkers.

-Die paneel sê sommige studente verwelkom die naam van oudhoofregter Ismail Mahomed vir die regsgebou

-Die persepsie van "revolu­sionêre studente" van geheimsinnigheid en afsydigheid by die UV-bestuur en -raad moet as 'n feit erken word - of dit geregverdig is of nie.

-Die UV moet hom vir groter begrip by wit studente vir die frustrasie en woede van swart studente beywer en by swart studente vir die vrese van wit studente - en by almal vir die lot van die werkers

-Die UV moet sterk oorweeg om die optrede van die polisie by Tswelopele-manskoshuis op 25 Februarie na die polisiewaghond Opod te verwys.

Bevindings en indrukke

Die ondersoekspan se verslag oor sy "gevolgtrekkings en indrukke" lui soos hier onder uiteengesit.

Hy neem kennis dat arbeidskwessies, veral rakende "inkontraktering" tot die onrus bygedra het, maar doen nie bevindinge hieroor nie.

* Beweerde viktimisasie Die verslag neem kennis daarvan dat verskeie aktiviste aangevoer het hulle is "geviktimiseer".

Die paneel meen verskeie e-posse asook dr. Lis Lange en dr. Karen Lazenby, registrateur: stelsels en administrasie, se getuienis steun die slotsom dat daar 'n proses was "om van moeilikheidmakers ontslae te raak, dit deur die rektor aangevoor en gedryf is, die bestaande proses van akademiese uitsluiting en appèl gebrekkig is en dat minstens een fout begaan is".

Luidens die verslag was dit nie noodwendig verkeerd om op die akademiese rekords van individue te fokus nie.

"Die gebrek aan openhartigheid en eerlikheid in die verband is egter betreurenswaardig."

Die paneel meen ook Trevor Shaku van die Instituut van Maatskaplike Geregtigheid en Versoening se ontslag was jammer, maar hy kan nie 'n wetlike bevinding daaroor lewer nie.

"Skade is aangerig deur wat na 'n redelike impromptu, informele en nalatige aanslag lyk."

Geen bevinding daaroor of die uitsluiting en ontslag "viktimisasie" is, word gemaak nie. Nogtans het die gebeure en hantering daarvan "tot die besoedeling van die atmosfeer in aanloop tot 22 Februarie" bygedra.

* Vreedsame protes

Uit die beskikbare getuienis lyk dit asof die betoging - met uitsondering van die luidsprekervoorval - grootliks vreedsaam was totdat die betogers deur die toeskouers aangeval is.

Die studenteaktiviste het aangevoer hul betoging was vreedsaam, terwyl ander (soos Chantelle du Preez van AfriForum) sê hulle was gewelddadig.

"Uit die beskikbare getuienis lyk dit asof die betoging - met uitsondering van die luidsprekervoorval - grootliks vreedsaam was totdat die betogers deur die toeskouers aangeval is," lui die verslag.

Elders in die verslag word verwys na die ou regering se "swartgevaar-taktiek" (soos geopper deur dr. Lis Lange).

"Die gesindheid kom oënskynlik steeds op die UV-kampus voor en kan met rassisme verband hou."

Dan stel die verslag dit: "As mejj. Pretorius en Du Preez (van AfriForum) nie gewoon oneerlik oor die beweerde gewelddadige optrede van die aankomende betogers was nie, sou hulle die dansery, toi-toi-ery en stappery anders as ‘skoppe' kon beleef het.

"Die (latere) luidsprekeraanval deur 'n swart man op 'n wit vrou by die Shimlapark-hek het ongelukkig die moontlike bestaan van 'n ‘swartgevaar'-mentaliteit gevoed."

* Aanval in die park

Die verslag se die aanval op die betogers was "gewelddadig, rassisties en barbaars"
Die verslag se die aanval op die betogers was "gewelddadig, rassisties en barbaars"

"Die gedrag van die wit toeskouers wat vanuit die paviljoen in Shimlapark die betogers op die rugbyveld aangeval het - sodat sommige bewusteloos was - was gewelddadig, rassisties en barbaars," lui die verslag.

* Bepalend

Dinge kon anders verloop het as dit nie vir beslissende "indien nie"-oomblikke was nie. Dit sluit in die sluit van die hoofhek op 22 Februarie, die inhegtenisneming van Shaku, die besluit om op Shimlapark te gaan betoog, die versuim van die polisie en veiligheidsdiens om die betogers van Shimlapark af weg te hou, Siya Lufele se aanval met 'n megafoon op Ju-Mari Pretorius van AfriForum, te min veiligheidspersoneel by Shimlapark, die hervatting van die rugbywedstryd en die vertrek van die hoof van Tswelopele sonder om die primarius en ander studente in te lig.

"Die betogers het beslis hul grondwetlike reg op vreedsame protes uitgeoefen. Hierdie reg moes nie van hulle weerhou gewees het deur diegene wat dit gewelddadig wou stopsit nie. Nogtans sou dit nie wys wees om jou reg op vrye beweging op 'n besige snelweg voor 'n aankomende vragmotor vol bakstene uit te oefen nie. Die reg om te betoog, of vryelik te beweeg, bring nie die ‘reg' mee om gesonde verstand te ignoreer nie."

Lufele het voor die paneel aan Pretorius verskoning aangeteken dat hy haar met die luidspreker geslaan het, maar kon nie belowe dat dit gegewe "omstandighede en vereistes van die revolusie" nie weer sou gebeur nie.

Luidens die verslag was Pretorius in haar skik met die verskoning, maar het sy gesê Lufele was nie haar aanvaller nie! Lufele het haar verseker dit was hy en dat sy hom nie herken nie omdat hy sy rastalokke afgesny het.

Die paneel wys daarop dat verskeie getuies die hervatting van die rugbywedstryd as "uiters onsensitief en pynlik" beleef het.

"Dit het bygedra tot die woede wat die onderonsie by die Tiekie (verkeersirkel by Vishuis) aangevuur het," bevind die ondersoekspan.

Die paneel betreur dit dat nie een van die toeskouers wat op die veld gestorm en "werkers en betogers aangerand het", na vore gekom het om te getuig nie.

"Nogtans is elke wit student aan die UV nie 'n rassis nie. Baie sou dalk tot hul universiteit en land wou bydra."

"Nogtans is elke wit student aan die UV nie 'n rassis nie. Baie sou dalk tot hul universiteit en land wou bydra."

Urine, eiers en 'n volkstaat - rassisme vervolg?

Die paneel verwys na die Reitz-videovoorval as 'n "aanduiding van onaanvaarbare rassisme, waarskynlik institusioneel van aard".

Dan wys hy uit die Heimat-manskoshuis (nie op die kampus self nie) is gestig "deels om Reitz se inwoners te huisves", asook dat Christo Dippenaar, raadslid van die Universiteit van die Vrystaat (UV), instrumenteel hiertoe was.

Een getuie het vertel dat van die wit studente wat by die rugbywedstryd aan die betogers gesê het hulle gaan hulle "bliksem", van Heimat was. Ander getuies het dit gestel hulle beskou Heimat as Reitz se opvolger en "taamlik rassisties".

Asof dit 'n verbintenis nie net met apartheid het nie, maar asof dit ook Nazi-bande het.

Dan bespiegel die ondersoekspan in sy verslag daaroor dat die vestiging van Heimat, gegewe die afwesigheid van getuienis tot die teendeel, taamlik sinister is, "asof dit 'n verbintenis nie net met apartheid het nie, maar asof dit ook Nazi-bande het".

Luidens die verslag is geskille tussen swart en wit in Suid-Afrika, ons geskiedenis van apartheid en die omstrede ideaal van 'n "wit tuisland" in verregse kringe welbekend.

"Die keuse van 'n Duitse woord wat ‘tuisland' of ‘vaderland' beteken om die inwoners van 'n koshuis te huisves wat vir sy rassistiese gebruike berug geraak het, gaan nie ongemerk verby nie.

"Hetsy dit bedoel om 'n growwe, wrede herinnering aan wit baasskap te wees, die gevolg van onkunde, lompheid en onsensitiwiteit of 'n poging ter goeder trou is om met studenteverblyf te help, is aan die paneel onbekend. Die boodskap lyk nie na 'n positiewe een gerig op versoening en beter rasverhoudinge nie."

Die paneel meen die wys van die middelvinger en gooi van eiers (by Karee-manskoshuis) is verstaanbaar op 'n kampus, maar uitsnouery met die k-woord, moontlik tesame met die woord "ape", is rassistiese optrede.

* Polisieoptrede:

Luidens die verslag kan daar nie ontken word dat "die optrede van die polisie, tesame met persepsies oor hul optrede, 'n prominente rol in kampusdinamika gespeel het" nie.

Die paneel meen die afwesigheid van voldoende veiligheid by Shimlapark is merkwaardig. Verskeie getuies het die gedrag van veiligheidsbeamptes gekritiseer.

* Haatspraak: Die paneel het getuienis oor beweerde haatspraak deur Lindokuhle Ntuli, voorsitter van die studenteraad, aangehoor.

Lindokuhle Ntuli
Lindokuhle Ntuli

Ntuli self het "gretig" afdrukke van sy Facebook-blad aan die komitee voorgelê en sy uitsprake verduidelik.

Hy het geen rede vir verskoning gesien nie en het verwys na wit studente wat hom om 'n verskoning genader het en eindelik "verstaan" en "gehuil" het.

Die verslag lui: "Die paneel meen nie opmerkings oor white bastards en ‘rassisme' en ‘rassiste' (soos Penny Sparrow en Gareth Cliff) wat ‘letterlik moet val' en ‘graf toe gaan', kom op haatspraak of grondwetlik onbeskermde spraak ingevolge die Grondwet se artikel 16 neer nie. Dit sou vanselfsprekend wel haatspraak gewees het indien 'n wit persoon dieselfde opmerkings oor swart mense uiter, gegewe Suid-Afrika se apartheidsgeskiedenis. Gegewe die konteks van die uitlatings (deur Ntuli) is die woede verstaanbaar en die figuurlike bedoeling duidelik."

Die paneel het met Ntuli oor sy uitsprake gedebatteer en verduidelik dat die reg tot vryheid om iets te sê nie beteken dit is "goed" om dit te sê nie.

"As hy 'n leier vir alle Suid-Afrikaners en alle studente op kampus wil wees, moet hy die begrip wen van diegene wat nie oop is om sy saak te verstaan nie en hy moet die uitwerking van sy woorde op almal heroorweeg."

Jammer dat rektor SR-leier nie beter kon saamwerk

Sterk, beslissende maar regverdige leierskap is altyd noodsaaklik, veral in tye van verandering, onsekerheid en plofbaarheid. Dit is betreurenswaardig dat die rektor en die SR-voorsitter nie beter kon saamwerk nie.

Só stel die verslag dit onder die hofie "Leierskap"

Jonathan Jansen
Jonathan Jansen

Oor die rektor (prof. Jonathan Jansen) sê die paneel: "Dit is welbekend dat die vise-kanselier intellektueel indrukwekkend, welsprekend en charismaties is. Hy het 'n sterk teenwoordigheid, wat sommige (selfs op die paneel) intimiderend vind. Hy het baie vir transformasie op die UV-kampus gedoen en meer as sy voorgangers met studente gepraat, luidens getuienis.

"Dit is jammer dat hy negatief beïnvloed is deur kritiek en die ‘Must fall'-slagspreuk wat vir baie mense, politici en simbole aangewend is. Dit is ook jammer dat dit gelyk het asof hy in 'n persoonlike stryd of mededinging met die SR-voorsitter, 'n student in sy twintigerjare, betrokke geraak het."

Die verslag lui ook dat 'n senior UV-bestuurslid tydens getuienis aangevoer het "die ego van die SR-voorsitter is geensins kleiner as die visekanselier s'n nie. Volgens die paneel is dit ook jammer dat dié vergelyking getref moet word. Die SR-voorsitter is aan die paneel beskryf as 'n sterk leier, opportunisties, manipulerend en intimiderend, en na aan Sasco.

Teenoorgestelde menings is ook gelug. Die paneel kan nie 'n beslissende mening vel nie. Ntuli is deurgaans beleef as 'n kalm, duidelike getuie wat die paneel gehelp funksioneer het.

Die studente- en akademiese leierskap van die UV moet geluk gewens word met die herstel van relatiewe vreedsaamheid ná die betogings oor studiegeld, vergeleke met ander kampusse, lui die verslag.

‘Breek van beeld simbolies'

Die verslag het bevind dat Hoe dit ook al sy, die afbrekery van die standbeeld van 'n apartheidspolitikus, die eerste president van 'n republiek waar die meerderheid Suid-Afrikaners nie kon stem nie, is nie gewoon slegs skade aan eiendom, soos die brand van 'n biblioteek of 'n bus nie.
Die verslag het bevind dat Hoe dit ook al sy, die afbrekery van die standbeeld van 'n apartheidspolitikus, die eerste president van 'n republiek waar die meerderheid Suid-Afrikaners nie kon stem nie, is nie gewoon slegs skade aan eiendom, soos die brand van 'n biblioteek of 'n bus nie.

Die verslag wys uit dat die Grondwet die reg op vreedsame, ongewapende protes erken.

"Wanneer dit by oortreding en doelbewuste skade aan eiendom kom, is die kwessie nie so eenvoudig nie. Beskadiging van geboue of voertuie is nie vreedsame protes nie," lui die verslag.

Dan besin dit oor skade aan standbeelde en ander openbare artefakte.

"Die neertrekkery van die standbeeld van ‘apartheid se pres. Swart' en die gooi daarvan in 'n visdam was tegnies gesproke strafregtelike skade aan eiendom. Tog het dit groot verligting in 'n gespanne atmosfeer gebring, is getuig. Die betogers het gevoel hulle het 'n simboliese oorwinning behaal. Dit het 'n graad van kalmte oor hulle meegebring."

Luidens die verslag is die vraag ook gestel of dit nie beter vir transformasie sou wees en of dit nie die gewelddadige beskadiging van eiendom sou verhoed het as die Universiteit van die Vrystaat (UV) vroeër al die standbeeld verwyder en die regsgebou herdoop het nie.

"Of was die val van Swart nodig in die konteks van die uitspelende stryd op kampus?

"Hoe dit ook al sy, die afbrekery van die standbeeld van 'n apartheidspolitikus, die eerste president van 'n republiek waar die meerderheid Suid-Afrikaners nie kon stem nie, is nie gewoon slegs skade aan eiendom, soos die brand van 'n biblioteek of 'n bus nie. Het enigiemand die moeite gedoen met strafregtelike klagte toe die Berlynse muur of die standbeeld van Saddam Hoesein geval het?"

* Armoede

'n Onontkombare indruk van die probleme op die UV-kampus is dat skreiende armoede aan die hart van baie probleme is. Sommige studente kom vanuit baie arm agtergronde, het klein beurse en kom onvoorbereid op kampus aan. Sommige kry berading vir honger.

"Gegewe die opmerklike ongelykheid tussen ryk en arm op 'n klein, afgeslote kampus, is die frustrasie en wrok verstaanbaar."

* Swart nasionalisme

Die paneel het ook aangehoor dat 'n "eng swart nasionalisme" groei en dat dit die idee van 'n diverse nasie gegrond op niediskriminasie vervang. As wit mense nie meer moeite doen om swart mense se uitgangspunt te verstaan nie, gaan dit "spoedig 'n punt bereik vanwaar daar geen omdraaikans is nie".

Geskiedkundige aanloop

In die verslag "People, not stones" van sowat 90 bladsye word 16 bladsye aan die aanloop tot die gebeure voor die Shimla-wedstryd gewy. Dit is onder die subhoofde hieronder ingedeel.

* Rassisme onaangeroer? Dit begin met 'n verwysing na die voorval in 2014 toe "twee wit mans - een 'n student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) - mnr. Dumane (Muzi) Gwebu, ook 'n student, na bewering op die kampus probeer omry het". Volgens die verslag het Gwebu hom tot die hof gewend en is die wit student geskors.

(Geen melding word gemaak van die strafregtelike hofsaak waarin twee geskorste UV-studente, Charl Blom en Cobus Muller, in 2014 in die Bloemfonteinse streekhof vrygespreek is op 'n aanklag dat hulle Gwebu in 'n sogenaamde "rassevoorval" op die kampus sou aangerand het nie. Ook nie van Blom en Muller se latere lastereis teen prof. Jonathan Jansen wat weens tegniese redes misluk het nie.)

* Reitz-video-voorval: Die paneel neem kennis van die omstrede voorval en aanvaar die beskrywing daarvan deur JC van der Merwe en Dionne van Reenen in hul boek Transformation and Legitimation in Post-apartheid Universities: Reading Discourses from ‘Reitz'. (Geen kennis word van die hofuitspraak oor die voorval geneem nie.)

* #FeesMustFall: Die verslag neem kennis daarvan dat UV-studente se deelname aan die #FeesMustFall-veldtog in 2015 vreedsaam en konstruktief was en dat die UV-raad studenteleiers hiervoor geloof het.

* Beweerde viktimisasie van aktiviste: Die paneel het verskeie weergawes aangehoor van die viktimisasie van studenteaktiviste, onder meer op grond van ras. Dit sluit rassistiese uitlatings teen hulle in, asook uitsluiting van die UV (een nadat hy gedruip het en 'n ander weens deelname aan betogings). Lindokuhle Ntuli, SR-voorsitter, se aanbod van klerkskap by Phatshoane Henney Prokureurs, wat UV-sake behartig, is teruggetrek. Die beëindiging van diens van Trevor Shaku, 'n intern by die UV se Instituut vir Versoening en Maatskaplike Geregtigheid en 'n lid van die Werkers-en-studenteforum (WSF), deur die UV (oënskynlik op aandrang van proff. Jansen en Nicky Morgan) het ontevredenheid veroorsaak. JC van der Merwe, waarnemende instituutdirekteur, was verras oor die afdanking en het vir Shaku beding.

* E-posse en "moeilikheidmakers": Die paneel het gehoor UV-bestuurslede het per e-pos gekommunikeer oor "moeilikheidmakers"op kampus wat eerder moes weg. Navraag is ook per e-pos oor die aktiviste se akademiese vordering gerig.

* Outsourcing Must Fall: Ná sukses met die studiegeldveldtog het die studente hul steun aan die kontrakwerkers toegesê. Die WSF is in 2015 gestig. Die UV, by monde van Jansen, het laat blyk hy steun "insourcing" en het werkers 'n maandloon van R5 000 aangebied. Probleme het ontstaan toe van die werkers nie die beloofde geld gekry het nie. Shaku het die werkers gehelp mobiliseer. Hul griewe was oor lone, herontplooiing en intimidasie, het hy getuig.

Die kontrakwerkers het toenemend beswaard geraak en het op 18 Februarie, vier dae voor die Shimla-wedstryd, onwettig begin staak.

Stakende werkers nie op die kampus toegelaat nie.
Stakende werkers nie op die kampus toegelaat nie.

Op Vrydag 19 Februarie is die busse met stakende werkers nie op die kampus toegelaat nie. Morgan het hulle by die hoofhek toegespreek. In antwoord op een van hul liedjies "Leentse ka bomo. Ke masepa tho ena" ("Jy het dit met opset gedoen. Dit is k*k."), het hy gesê hy is "nie k*k nie". Volgens Shaku het Morgan dalk verkeerdelik gedink die liedjie is oor hom.

Morgan se uitlating het die betogers opgerui. Dit is toe voorgestel dat hulle die Shimla-rugbywedstryd daardie Maandag moet gaan ontwrig.

Daardie Sondag het prof. André Keet, op inisiatief van Jansen, met die WSF in 'n township gaan praat. 'n Ooreenkoms is getref.

Toe werkers die Maandag by die UV-hoofhek aankom, was hul toegangskaarte gedeaktiveer en is hulle toegang geweier. Hulle was verbyster en ontstoke, gegewe die vorige dag se ooreenkoms.

Noko Masalesa, direkteur: UV-beskermingsdienste, het getuig die werkers is in opdrag van hul onderskeie kontrakteurs toegang geweier omdat hulle nie die wettige prosedure vir staking gevolg het nie. Ook het van hulle op Donderdag 18 Januarie klasse ontwrig en niestakende werkers met geweld "verwyder".

Wedstryddag

Altesaam 36 mense is in hegtenis geneem.
Altesaam 36 mense is in hegtenis geneem.

Die stakende werkers en "aktiviste" het in DF Malherbelaan buite die kampus aanhou betoog. Luidens getuienis het die polisie hulle met rubberkoeëls en traangas bestook. Die polisie het Trevor Shaku, 'n intern by die UV se Instituut vir Versoening en Maatskaplike Geregtigheid en 'n lid van die Werkers-en-studenteforum (WSF), in die skare uitgesoek en aangekeer.

Altesaam 36 mense is in hegtenis geneem. Die nuus van hul inhegtenisneming het versprei.

Studenteaktiviste het hulle daarvoor beywer om alle bedrywighede op die kampus gestaak te kry. Hul mening was die UV se aktiwiteite kon gegewe "die inhegtenisnemings en werkers se angs" nie gewoonweg voortgaan nie.

Van hulle is na die studenteraad (SR) se kantoor en het by Lindokuhle Ntuli, die voorsitter, daarop aangedring hy moet toesien dat Shaku en die werkers vrygelaat word.

Bongani Mazula, student en voorsitter van die Jong Kommuniste-liga en ANC-jeugligalid, en Siyamcela Mtamzeli, lid van WSF en PAC, koördineerder van Unsilence UFS en studentewerker by die instituut, het op die kampus beweeg en studente aangesê om werksaamhede te stop en geboue te ontruim.

Muammer MoAfrika, hoofsweep van die studenteparlement, en Mazula is na die hoofhek waar die betogende werkers nou weer terug was.

MoAfrika het getuig Shaku se inhegtenisneming het beteken die staking was leierloos. JC van der Merwe en prof. André Keet het getuig Shaku se ontslag en inhegtenisneming het die "dinamika en stemming" van die betoging verander.

Volgens Mtamzeli was "die handskoene af" en het die UV-bestuur "vuil gespeel" deur Shaku te ontslaan.

MoAfrika het die betogers by die hoofhek ingelig hulle kon na prof. Jonathan Jansen by Shimlapark gaan om hul griewe te lug of vir hom wag om te reageer.

Gcinumoze Elias Gatebe, sekretaris van die Jong Kommuniste-liga, se getuienis staaf dit. Hy het ook bevestig die werkers het self besluit om na Shimlapark te gaan nadat die studenteaktiviste die opsies aan hulle gestel het.

Vroegmiddag het die SR 'n massavergadering belê. Die aandrang was dat hulle toegang tot die UV-bestuur wou kry. 'n EFF-studentelid het voorgestel dat hulle opruk Shimlapark toe om Jansen daar te siene te kry.

"Die plan was om na Shimlapark te gaan vir 'n onderhoud met prof. Jansen wat oënskynlik nie tyd gehad het om op die SR se brief te reageer of aan die werkers se lot en inhegtenisnemings tyd te wy nie, maar wel tyd gehad het om 'n Shimla-rugbywedstryd by te woon. Die betogers, luidens mnr. Gatebe se uiteensetting, sou ‘die wedstryd onderbreek', met die bestuur praat en dan die wedstryd toelaat om aan te gaan," lui die verslag.

Die "sentiment" onder die betogers was dat die belangrikheid wat aan die rugbywedstryd geheg is, 'n "weerspieëling van wit oorheersing by die UV" was.

Gatebe het getuig hulle het gekies om na Shimlapark te gaan ook omdat hulle geweet het die media en kameras was teenwoordig, indien die UV-bestuur met die gewone "UV-arrogansie" reageer.

Ná die massavergadering is Ntuli na die hoofhek.

"Hy het twee beginsels neergelê vir die betoging wat hy sou lei: geen geweld en geen beskadiging van eiendom nie.

"In sy eie getuienis het mnr. Ntuli dit kalm en sag gestel - die plan was om die rugbywedstryd te ‘ontwrig' en met die visekanselier (Jansen) te praat."

Onder die voorwendsel dat die werkers kos op die kampus wou gaan koop, is die veiligheidswagte omgepraat om hulle toegang te gee. Die "revolusionêre strategie" (om Shimlapark toe te gaan) is nie aan hulle onthul nie.

Op pad na Shimlapark is die betogers by die manskoshuis Karee verby.

" 'n Wit man in die koshuis het hulle met eiers gegooi en die ‘k'-woord toegesnou. Mnr. Mazula het bygevoeg die woord ‘aap' is ook gebruik. Nog een het aan hulle die middelvinger gewys. Mnr. Gatebe het die voorvalle as tekenend van ‘die kultuur van witheid aan die UV' beskryf," lui die verslag.

Hoorsêgetuienis is aangehoor dat die student wat die middelvinger gewys het, gesê het die betogers het hom 'n setlaar genoem. Toe wys hy vir hulle die middelvinger.

Shaku het getuig sy boodskap vanuit die polisieselle was dat dit weens rassespanning in die land nie 'n goeie idee was om Shimlapark toe te gaan nie.

Betogery by die rugbywedstryd sou ‘reg in hul wit arrogansie' in speel.

"Betogery by die rugbywedstryd sou ‘reg in hul wit arrogansie' in speel."

Noko Masalesa, direkteur van UV-beskermingsdienste, het lt.kol. Munusamy telefonies meegedeel die betogers tree in stryd met die Fees Must Fall-hofbevel op.

'n Onderonsie het tussen die betogers (op pad na Shimlapark) en die polisie uitgebreek wat by die UV-krieketveld stelling ingeneem het. Van die betogers het die polisie met klippe bestook en hulle getart. Die ander het solank Shimlapark toe gehardloop.

Die polisie is weens "situasietoepaslikheid" nie agterna nie. Masalesa en die UV-veiligheidspersoneel het die betogers wel gevolg.

Stryd op Shimlapark

Sowat 20 minute ná die beginfluitjie het die betogers in die middel van die rugbyveld gaan staan en die Solomon Mahlangu-strydlied gesing "om die wedstryd gestop te kry en die UV-bestuur se aandag te trek", lui die verslag.

Van die betogers het getuig hulle het hande gehou as 'n vredesgebaar en om te wys hulle is niegewelddadig. Lindokuhle Ntuli (SR-voorsitter) en Sikhululekile Lucawa, regstudent en WSF-lid, het in die middel van die kring gestaan. Ntuli het oor die luidspreker verklaar: "Ons is nie hier om te baklei nie."

Prof. Jonathan Jansen was in die BBP-losie. Hy het getuig hy het paniekerig geraak toe die groep op die veld gaan omdat hy nie polisie- of sekuriteitsbeamptes gesien het nie.

Toe hy sy selfoon wou uithaal om sekuriteit te bel, het hy besef dit is in sy voertuig aan die batterylaaier gekoppel.

"Prof. Jansen het gesê hy het hom toe na sy motor gehaas en probeer om sekuriteit te bel, maar tevergeefs. Hy het toe 'n UV-personeellid gebel, moontlik me. Cornelia Faasen (direkteur: studentesake en -leierskap), maar hy kon nie presies onthou wie hy gebel het nie.

Die skeidsregter het die spelers aangesê om die veld te verlaat.

Die toeskouers het die betogers begin uitjou. Een getuie het gehoor "hoe lede van die Heimat-manskoshuis (buite die kampus) gesê het: ‘Ons gaan hulle bliksem.' "

Vier of vyf toeskouers het op die veld gegaan. Hulle is aangemoedig. Die betogers het gebly staan en oor die megafoon gesê hulle wil net vir Jansen ontmoet.

Die wit toeskouers het gereageer en op die veld gestroom.
Die wit toeskouers het gereageer en op die veld gestroom.

Een toeskouer op die veld het ander in die paviljoen nader geroep. "Die wit toeskouers het gereageer en op die veld gestroom, of, in mnr. Moafrika (Muammer Moafrika, hoofsweep van die studente-parlement), se woorde, ‘soos 'n tsoenami'."

JC van der Merwe en prof. André Keet van die UV se Instituut vir Versoening en Maatskaplike Geregtigheid het kort voor dit by Shimlapark opgedaag. Hulle het op die veld gegaan "om met die studente te praat om 'n geveg te voorkom", maar is in die stormloop vasgevang.

Luidens die verslag is Keet twee keer platgestamp en het sy hemp geskeur toe toeskouers hom daaraan omgeruk het.

Keet het getuig Van der Merwe het hom beskerm terwyl hy plat was, wat voorkom het dat hy ernstig beseer is.

Keet was "gedisoriënteerd en verbouereerd" en het padgegee (retreated) om 'n bier te gaan drink om sy senuwees te kalmeer.

Volgens Keet was dit op daardié tydstip "onmoontlik" om die situasie te bestuur.

Van der Merwe het getuig die aanvalle op Keet was waarskynlik doelbewus en rasgedrewe, en dat hyself (Van der Merwe) nie geteiken is nie, omdat hy wit is.

Anathi Nyadu, student, was een van die betogers wat "aangeval" is. Hy het getuig toeskouers "moered him until he fell". Eers een groep en toe nog een het hom daarna geskop.

Bongani Mazula, student en voorsitter van die Jong Kommuniste-liga en ANC-Jeugliga-lid, is aan sy rastalokke platgetrek en geslaan toe hy 'n vriend probeer help het. Sy oog was die volgende dag geswel.

Die paneel het nog getuienis van verskeie betogers en studente-aktiviste aangehoor oor hoe hulle aangeval en die k-woord toegesnou is.

Rektor soek sy selfoon

Prof. Jonathan Jansen het getuig hy het slegs die laaste aanvalle aanskou toe hy teruggekeer het nadat hy sy selfoon in sy kar gaan haal het.

Volgens Jansen het hy nie beplan om daardie aand rugby toe te gaan nie, omdat hy ander werk gehad het.

Die UV-bestuur het vroeër in sy kantoor vergader toe hulle hoor van die "studenteplan" om Shimlapark toe te gaan, asook dat studente klippe na die polisie gooi.

Dít, het prof. Jansen getuig, was die rede hoekom hy besluit het om rugby toe te gaan. Hy het geweet oproerigheid by die rugbywedstryd (of enige Suid-Afrikaanse sportbyeenkoms) sou katastrofies wees.

"Dít, het prof. Jansen getuig, was die rede hoekom hy besluit het om rugby toe te gaan. Hy het geweet oproerigheid by die rugbywedstryd (of enige Suid-Afrikaanse sportbyeenkoms) sou katastrofies wees."

Volgens Jansen het UV-personeel ná die chaos op die hoofpaviljoen stelling ingeneem om skadebeheer toe te pas. JC van der Merwe het getuig Jansen het hom en Cornelia Faasen, studentedekaan, gevra of die wedstryd moet aangaan. Faasen het onomwonde gesê dit moet afgelas word.

Toe Jansen in sy getuienis-sessie hieroor gevra is, het hy gesê hy het nie die gesag gehad om die wedstryd af te las nie. Die Varsity Cup en nie die UV nie organiseer en bestuur die rugbywedstryd.

Dougie Heymans, assistantdirekteur van Kovsie Sport: Rugby en Varsity-beker-koördineerder, het getuig verteenwoordigers van albei spanne (Shimlas en NMMU se Madibez) en Varsitybeker-verteenwoordigers - Marius van Rensburg en Duitser Bosman (hoofbeampte) - het samesprekinge oor die hervatting van die wedstryd gehou.

Volgens Heymans is dit Varsity Cup-protokol dat die wedstryd kon voortgaan as dit veilig vir spelers en toeskouers is. Nadat hy toegesien het behoorlike veiligheidsmaatreëls geld, het Heymans die UV-bestuur verwittig die wedstryd kon voortgaan.

"Hy het aan die paneel gesê prof. Jansen was besig op sy selfoon toe hy hom oor die hervatting van die wedstryd geraadpleeg het." Jansen het in gedagte en geskok voorgekom, maar nogtans vir Heymans die jawoord gegee dat die wedstryd kon aangaan.

Heymans het ontken dat daar geen sekuriteitsbeamptes op die veld was voor die aanvalle nie. SecuriForce-beamptes in oranje beffies ("bibs") en kampus-sekuriteitsbeamptes in groen beffies was sigbaar.

Jansen het getuig toe hy sien die skeidsregters roep die spelers terug op die veld, het hy gedink hy kon niks doen nie, omdat die skeidsregter hul eie opdragte gehad het. Volgens hom kon net die raadsvoorsitter die wedstryd namens die UV aflas. Al wat hy kon doen was om sy kommunikasierol, tesame met Lacea Loader, UV-woordvoerder, na te kom. Hulle twee het vanuit die losie met ouers gepraat en verklarings uitgereik, terwyl die wedstryd aangegaan het.

Jansen en ander personeellede se kommer was dat hulle nie by magte was om die voorval te voorkom nie. Dit was nuut vir hulle, omdat die drie UV-kampusse gewoonlik vreedsaam is. Dit het hulle laat besef die UV het nog 'n "laag van sekuriteit" in krisissituasies nodig.

Wilhelm André Kotzenberg het daardie aand sy debuut-wedstryd vir die Shimlas gespeel. Hy het getuig die Madibez het aangedui hulle voel onveilig om spel te hervat en wou hê die wedstryd moes afgelas en punte gedeel word. Kotzenberg het gemeen dit was 'n "taktiese skuif" van die Madibez, aangesien die Shimlas die gunsteling was (en toe ver gewen het).

Heymans het gemeen die betogers het die UV beledig toe hulle op die veld gaan en 'n vreedsame wedstryd ontwrig. Rugby is "die spel wat ons liefhet". Hy het die betogers se optrede sterk veroordeel. Daardie Maandag was die tweede slegste dag van sy lewe - ná die dag waarop sy pa oorlede is.

Borgtog, kos is selle

Prof. André Keet van die Instituut vir Versoening en Maatskaplike Geregtigheid en ander UV-personeellede het op Maandag 22 Februarie by die Parkweg-polisiekantoor gaan beding vir borgtog vir die betogers wat daardie dag in hegtenis geneem is.

Die polisie was onwillig om borgtog toe te staan. Luidens Keet se getuienis het die polisie die UV-amptenare van bakboord na stuurboord gestuur, vermoedelik as " 'n vertragingstaktiek sodat die betogers minstens een nag agter tralies kon deurbring".

Keet "was desperaat om hulle vrygelaat te kry omdat hy hom daartoe verbind het en ook omdat hul vrylating nodig was as 'n positiewe punt wat hy kon benut om toekomstige gesprekke met betogende werkers aan te knoop".

Ná verdere onderhandelinge het die polisie ingestem tot borgtog, mits die UV, deur die rektor, 'n brief lewer wat staaf dat die werkers sal ophou betoog wanneer hulle vrygelaat word.

Van die UV-amptenare het ene lt.kol. Munsamy "kras en veglustig" gevind, maar Keet het getuig Munsamy het selfs gehelp om kos by die betogers in die selle uit te kry.

Keet (en adv. Inez Bezuidenhout, direkteur van die UV-regskliniek) is met die brief wat deur Jansen onderteken is Parkweg toe. Hulle het die werkers en Trevor Shaku (instituutlid wat saam met die werkers aangekeer is) in die selle probeer oorreed om dit te teken, soos die polisie wou hê.

Al die betogers was wantrouig omdat die brief van die UV-bestuur kom en het geweier om dit te teken.

Munsamy het die onderhandelinge afgelas nadat hy verneem het nog betogers is na Shimlapark op pad.

Die dag toe Oom Blackie geval het

'n Klein groep van agt het daarin geslaag om die standbeeld af te breek.
'n Klein groep van agt het daarin geslaag om die standbeeld af te breek.

Op Dinsdag 23 Februarie het die betogers by die hoofhek vergader. Hulle het gesing en oor hul "lyding aan die hand van wit vaders en seuns" die vorige aand by die rugby gepraat. Hul slotsom was dat die stryd teen die stelsel was, nie net teen die wit individue wat hulle die vorige aand by die Shimla-wedstryd aangeval het nie.

"Hul geveg was groter as rassespanning - dit was ook een teen die burokrasie van die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat die status quo handhaaf."

Hulle het hul woede op die standbeeld van C.R. Swart, eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika, gerig omdat "die waardes wat die UV nastreef, dieselfde is as die waardes waarvoor Swart tydens apartheid gestaan het".

EFF-lede in rooi T-hemde en ANC-jeugligalede het hulle by die aktiviste van die Werkers-en-studente-forum (WSF) geskaar.

Die studente het na die Swart-standbeeld op die kampus opgeruk terwyl ander na koshuise is om "wraak" te gaan neem. Ander het vullisblikke voor die hoofgebou aan die brand gesteek.

Die studente het die Swart-standbeeld voor die regsfakulteit probeer ontwortel. Sommige het dit met klippe gekap, terwyl Teboho Ntsalong, 'n geologiestudent, dit met sy geologiehamer gekap het. Hulle het dit ook met brandende bande en plastieksakke probeer brand.

"Dit was 'n manier om hul frustrasie te lug oor hoe swart studente by Shimlapark behandel is."

'n Klein groep van agt het daarin geslaag om die standbeeld af te breek. Hulle het dit in die dam voor die C.R. Swart-gebou (soos dit toe geheet het) gegooi en die woorde "Sobukwe Law School" op die gebou se muur geverf.

Die ondersoekspan het gehoor die EFF-lede wou die gebou aan die brand steek, maar die ander wou nie omdat hulle - anders as die EFF-lede - aan die UV studeer en die geriewe nodig het. Hulle wou net die "simbole van kolonialisme en apartheid" verwyder en ontsier, nie geboue brand nie. (Die gebou se naam is later na Equitas verander.)

Die Akasia-vrouekoshuis het die graffiti "Winnie Mandela House" gekry, Wag-'n-Bietjie-vrouekoshuis "Charlotte Maxeke" en die naam "Biko Learning Centre" is op die biblioteekgebou geverf.

Graffiti regoor die kampus op verskeie gebou geverf.
Graffiti regoor die kampus op verskeie gebou geverf.

Luidens getuienis was dit simbolies dat studente die standbeeld ontwortel het omdat hulle die UV-bestuur lankal reeds gevra het om apartheidsimbole te verwyder.

Die afbreek van die Swart-standbeeld het vrede en kalmte oor die betogende studente gebring.

"Die afbreek van die Swart-standbeeld het vrede en kalmte oor die betogende studente gebring."

Eise en onderhandelinge het die res van daardie week voortgegaan.

Op Donderdag 24 Februarie het die oproeriges ook die standbeeld van M.T. Steyn, die laaste president van die Oranje-Vrystaat, voor die hoofgebou probeer afbreek en brand, maar misluk. Dit staan steeds.

Die paneel het uitgebreide getuienis oor oproerigheid en onderonsies by die Tswelopele-manskoshuis, onder meer tussen studente en die polisie, aangehoor.

Studente wat by die Steyn-standbeeld en in Tswelopele aangekeer is, het op Vrydag 26 Februarie in die hof verskyn.

Prof. André Keet van die Instituut vir Versoening en Maatskaplike Geregtigheid het getuig die SA Menseregte-kommissie het regsverteenwoordiging en borgtog vir die studente gereël.

Die studenteraad het later die "transformasiekomitee" gestig wat op 1 Maart nabetragting gehou het oor die Shimlapark-voorval en "die verstaan van swart pyn en wit bevoorregting". Lindokuhle Ntuli, voorsitter van die studenteraad, het getuig die gesprekke was produktief en het "kalmte oor die kampus gebring".

SPELETJIES VANDAG

CTA