Die onderwysdrukgroep Equal Education (EE) is bekommerd dat 'n voorgestelde wysiging aan die Wes-Kaapse Wet op Skoolonderwys private instansies in staat sal stel om besluitnemingsmagte in skoolbeheerliggame te "koop".
Die organisasie gaan Dinsdag sy standpunt hieroor stel op 'n openbare sitting oor die wetgewing.
Hy is besorg daaroor dat bepalings van die wetsontwerp die beginsels van demokratiese skoolbestuur en aanspreeklikheid sal ondermyn. Die wetsontwerp maak onder meer voorsiening vir skole wat deur skenkers gefinansier word. 'n Skenker kan beduidende verteenwoordiging in 'n skool se beheerliggaam kry.
EE-lede van skole in Elsiesrivier en in Langa sal onder meer aan die komiteesittings deelneem.
Jessica Shelver, 'n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het vroeër gesê die departement sal die insette en kommentaar van die publiek en belanghebbende partye in ag neem. Hy sal ook die mening van die wetgewer se regsadviseur in gedagte hou.
Die voorgestelde wysigings sluit in:
* Om voorsiening te maak vir die sentralisering van die aankoop van goedere en dienste wat met onderwys in die provinsie verband hou;
* Die regulering van die monitering en ondersteuning van die kurrikulum;
* Om voorsiening te maak vir die vestiging van saamwerkskole en vir skenkers wat openbare skole finansier;
* Om toetse goed te keur vir die toelating van 'n leerling tot 'n openbare skool vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes; en
* Om voorsiening te maak vir geskrewe toestemming van 'n ouer dat 'n leerling 'n skoolaktiwiteit buite die skoolterrein mag bywoon.















