Boodskappe wat teen die hange van 'n berg by die omstrede Mancoba Seven Angels-kerk in die Oos-Kaap geverf is, sal binnekort toegeverf word.
Die polisie in die Oos-Kaap het vandeesweek 30 beamptes gestuur om al die boodskappe toe te verf wat die leiers van die Mancoba Seven Angels-kerk in Ngcobo glo teen die berg aangebring het.


Sowat 60 liter verf is reeds hiervoor gebruik.
Dié optrede is deel van die polisie se opruimingswerk ná 'n dodelike aanval op die Ngcobo-polisiekantoor in Februarie. Vyf polisielede en 'n soldaat is in die aanval doodgeskiet.
Sedertdien is ses verdagtes wat met die Seven Angels-kerk verbind word, in hegtenis geneem.
Drie van die Mancoba-broers, leiers van die Seven Angels-kerk, is in 'n skietery met die polisie op die kerk se gronde doodgeskiet.
Een van die Mancoba-broers is ook vir sy beweerde betrokkenheid by die aanval op die polisiekantoor vasgetrek.

Daar word ook beplan om al die geboue van die omstrede kerk te sloop, sê kapt. Khaya Tonjeni, provinsiale polisiewoordvoerder. Die polisie bekom tans regsadvies oor wat die beste manier sal wees om hiermee te werk te gaan, sê Tonjeni.
Die polisie het die oorblywende lede van die kerk wat nie met enige misdaad verbind word nie, van die kerkperseel verwyder. Die Valke en die departement van maatskaplike ontwikkeling help om dié kerklede weer met hul families te herenig.
Tonjeni sê ná die aanval is die polisiekantoor tot 'n misdaadtoneel verklaar en alle bewysstukke is so gou as moontlik versamel.
Bykomende personeellede is reeds by die polisiekantoor geplaas om dienslewering te verbeter.
Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het die aanval op die polisiekantoor as die ergste tot dusver in die Oos-Kaap beskryf en sê sy hoop dat dit ook die laaste was.
"Ons belowe om ons bes te doen om te verseker dat só 'n voorval nie in ons leeftyd herhaal word nie.
"Ons belowe 'n verbetering in die werk asook in die werksomgewing en die veiligheid van ons lede wat by die Ngcobo-polisiekantoor gestasioneer is," sê sy.


















