Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff International, word vir bedrog ondersoek.
Steve Booysen, voorsitter van Steinhoff se ouditkomitee, het by navraag in 'n SMS-boodskap gesê hy het Dinsdag 'n klag teen Jooste by die Valke ingedien.
Booysen wou nie uitbrei oor die klag nie en sê hy wil nie die Valke se ondersoek belemmer nie.
"Die klag kom neer op bedrog," voeg hy in 'n laaste SMS-boodskap by.
Brig. Hangwani Mulaudzi, die Valke se nasionale woordvoerder, het Woensdag bevestig dat Jooste deur hulle ondersoek word.

Mulaudzi sê daar is reeds drie dossiere in verband met Jooste geopen.
Een is deur 'n politieke party geopen, reeds in die laaste maande van 2017. Nog 'n dossier is in opdrag van lt.genl. Yolisa Matakata, die Valke se nasionale waarnemende hoof, namens die staat geopen.
Die derde dossier hou verband met 'n verslag wat lede van die Steinhoff-direksie Dinsdag ná 'n vergadering vir die Valke aangestuur het. Dié verslag moet die Valke nou help in hul ondersoek na moontlike finansiële ongerymdhede wat by Steinhoff plaasgevind het toe Jooste die uitvoerende hoof was.
Die saak teen Jooste word deur die Valke se eenheid teen ernstige ekonomiese misdrywe ondersoek.
Op 'n vraag oor hoe lank die ondersoek teen Jooste kan duur, het Mulaudzi gesê dit kan jare duur.
Hy het bygevoeg die Valke sal met die nasionale vervolgingsgesag (NVG) saamwerk om 'n plan vir die ondersoek op te stel.
"Hierdie is nie 'n pap-en-vleis-ondersoek nie. Ons sal die samewerking van lande in die buiteland, waar Steinhoff (onder meer) ook genoteer is, moet kry. Ons moet ook vir Interpol inkry."
Mulaudzi sê hulle weet nie waar Jooste hom tans bevind nie.
"Maar ons sal wel, wanneer die tyd reg is, met hom in verbinding tree."
'n WhatsApp-boodskap is Woensdag na Jooste se selfoonnommer gestuur. Hy het dit gelees, maar nie daarop reageer nie.
Jooste het verlede jaar as uitvoerende hoof van Steinhoff bedank.
Verskeie lede van Steinhoff se direksie het die afgelope week in die parlement verskyn voor 'n gesamentlike sitting van drie komitees wat ondersoek wat by Steinhoff gebeur het.

Nellie Brand-Jonker berig dat Christo Wiese, voormalige voorsitter van Steinhoff se direksie, sê het hy is net drie werkdae voordat die finansiële jaarstate vir die direksievergadering afgehandel moes word deur Booysen, voorsitter van die ouditkomitee, oor die probleme ingelig.
Booysen sê 'n tydskrifartikel in September in Duitsland het daartoe gelei dat hulle op 20 September ingelig is oor sekere vraagstukke wat die bestuur moes oplos en hulle het toe met die eksterne ouditeure daaroor geskakel.
"En die weerligstraal waarna Christo verwys het, het my op 14 November getref."
Volgens Booysen was hy daarna die heeltyd by die maatskappy om agter die kap van die byl rakende die aantygings te kom.
"Die bevestiging van die onreëlmatighede was eers die Maandagaand."
Hy sê Jooste is om 09:45 ontbied om aan die ouditkomitee "aanbiedings te maak en te verduidelik oor transaksies, boekinskrywings en, nog belangriker, die kontantvloei van sekere transaksies".
"Ons het die hele dag vir hom gewag om sy voorlegging te kom doen. Hy het nie opgedaag nie. En toe bedank hy daardie aand om 19:45."
Booysen sê Jooste het aan hom as voorsitter van die ouditkomitee 'n SMS gestuur en die "inhoud het my tot die gevolgtrekking laat kom dat dit 'n bevestiging is van die onreëlmatighede met die boekhouding".

















