Tim Page, bekend om sy treffende foto's van die Viëtnam-oorlog, is Woensdag in sy huis in Nieu-Suid-Wallis, Australië, dood. Hy was 78.
Volgens sy jare lange lewensmaat, Marianne Harris, het hy lewerkanker gehad, berig The New York Times.
Die flambojante fotograaf se foto's van die oorlog in Viëtnam het in die 1960's in publikasies wêreldwyd verskyn. Hy is vier keer ernstig gewond in gevegte en 'n stuk skrapnel is selfs uit sy brein gehaal.
Page word gereken as een van die fotograwe wat gehelp het om die verloop van die Viëtnam-oorlog te bepaal. Hy was ook die inspirasie agter die fotograaf in Francis Ford Coppola se rolprent Apocalypse Now, wat deur die akteur Dennis Hopper vertolk is.
Die skrywer Sanford Wexler skryf in sy boek The Vietnam War: An Eyewitness History dat Page as fotograaf onder enige omstandighede na enige plek sou vlieg en selfs sou aanhou foto's neem al is hy gewond.
"Ek dink nie iemand wat deur iets soos 'n oorlog gaan, kom ooit ongeskonde daaruit nie," het Page in 2010 in 'n onderhoud met The New York Times erken.
Page het 'n paar boeke gepubliseer, waaronder twee memoires en Requiem, met 'n versameling foto's deur fotograwe wat in die verskillende oorloë dood is.
"Hy was in die eerste plek 'n humanis wat altyd geglo het in die krag van fotografie en kuns om persepsies te verander en die dwaasheid van oorlog uit te lig," het Ben Bohane, medejoernalis en vriend, in 'n doodsberig in die Sydney Morning Herald oor Page geskryf.
Page het van 1968 ook die hippie-era in Amerika gedokumenteer. Hy het saam met Hunter S. Thompson, vader van gonzo-joernalistiek, gewerk en selfs 'n nag saam met die sanger Jim Morrison van The Doors in die tronk deurgebring nadat hy op 'n klag van onwelvoeglikheid by 'n rockkonsert in hegtenis geneem is.
In sy latere jare het Page, wat in Brittanje gebore is, hom in Australië gevestig en daar gehelp om 'n Australiese oorlogfotograwe-kollektief saam met Bohane te stig om die werk van diegene wat konflik dokumenteer, ten toon te stel en te bewaar, berig CNN.
Hy word oorleef deur Harris en Kit Clifford, sy seun uit 'n verhouding met Clare Clifford.















