Gesonde vel wat optimaal funksioneer, vra ’n plan! Een wat jy van jongs af in werking stel en deur die jare aanpas soos nodig.
Volgens velkenners van die Isa Carstens Akademie (ICA) is die sleutel altyd om enige wanbalanse in die vel te herstel. ’n Holistiese benadering is nodig: waar nie net die toestand van jou vel in ag geneem word nie, maar ook fisieke en emosionele faktore en jou leefstyl.
Die ICA-aksieplan is geskik vir alle geslagte, velkleure en -soorte en jou rigtingwyser op jou reis na ’n gesonde, stralende vel – vir altyd.
1. Identifiseer ’n salon en somatoloog en maak ’n afspraak
Begin jou velsorgreis deur ’n salon en somatoloog te vind wat jy vertrou en met wie jy ’n pad kan stap om jou vel in topkondisie te kry.
Hoe kies jy?
Maak seker die terapeut het ’n kwalifikasie in somatologie van ’n erkende opleidingsinstansie, sê Yolandé Swanepoel, akademiese hoof by die ICA.
“Vra hoeveel ondervinding hulle het. Moenie huiwer om voor- en ná-foto’s of verwysings aan te vra nie.”
2. Laat doen ’n velanalise
’n Goeie terapeut sal ’n deeglike konsultasie en velanalise doen voordat met die behandeling begin word.
Dis nodig om die toestand van jou vel te ontleed en die grootste kwessies te identifiseer, bv. pigmentasie, aknee, lyne en plooie of droogheid.
Dit gee die terapeut ook insig in die oorsaak van jou velkwessies. Deesdae word spesiale masjiene ook ingespan om die dieper lae van jou vel deur middel van beelding te analiseer en verbeterings oor tyd te meet.
3. Bepaal ’n holistiese tuissorgroetine
Met die kennis van jou velkwessies en leefstylgewoontes kan jou somatoloog aanbevelings maak oor watter velsorgprodukte om tuis te gebruik.
Die terapeut kan ook leefstylaanpassings voorstel, soos ontspanningsmetodes of ’n anti-inflammatoriese dieet om bv. sensitiwiteit te verminder.
4. Kry ’n salon-behandelingsplan
Buiten ’n goeie velsorgroetine tuis, is gereelde professionele behandelings noodsaaklik omdat dit dieper werk.
Roné Wheatley, opleiding- en bemarkings-fasiliteerder van Isa Carstens Aesthetics, meen ’n sesmaandeplan wat deurlopend hersien word soos jou vel verbeter of verander, is ideaal. ’n
Kombinasie van tegnologiese, afskilfering- en ontspanningsbehandelings elke vier tot ses weke kan aanbeveel word, in ag genome jou leefstyl, begroting en beskikbaarheid.

5. Vestig jou roetine
Soos die meeste dinge in die lewe, sien jy die beste resultate as jy op lang termyn met ’n gereelde roetine volhou. Nie net ten opsigte van velsorg nie, maar ook jou dieet, oefening en bestuur van stresvlakke.
Roné sê dis belangrik om jou velkwessies en die werking van die produkte wat jy gebruik, te verstaan.
“As jy dít weet, sal jy meer oorgehaal wees om jou produkte getrou te gebruik. En as jy op ’n dag net tyd het vir één produk, is die antwoord sonskerm.”
6. Monitor en meet
Ouderdomsverskille?
Cara Vosloo en Jacinda Louw-Schutte
verskil 28 jaar, maar dié aksieplan kan vir albei werk.
Deur die loop van jou velsorgreis en soos jy ouer word, sal die toestand en behoeftes van jou vel verander. Seisoen- en klimaatsveranderinge kan ook ’n invloed hê. Jou terapeut sal met elke afspraak jou vel monitor en aanpassings aanbeveel soos nodig.

7. Geniet die reis!
Hou jy vol met jou tuissorg- en behandelingsplan, sal jy gou resultate begin sien. Onthou, ná enige verandering in jou roetine neem dit sowat drie maande om werklik ’n verskil te sien.
Die Isa Carstens Akademie is die hoofborg van SARIE Voorbladgesig 2025.
Die Isa Carstens Aesthetics-produkreeks is beskikbaar by verskeie salonne landwyd, insluitend die Isa Carstens Wellness Sanctuaries in Pretoria en op Stellenbosch, asook aanlyn by isacarstensaesthetics.co.za. Kontak hulle op die webwerf vir meer inligting oor verskaffers, persoonlike konsultasies en velsorgadvies.


















