Nuwejaarsdag het met groot vreugde in Vrystaatse kraamsale begin, met 20 babas wat reeds teen 08:00 die lig gesien het.
Volgens die departement van gesondheid is agt meisietjies en 12 seuntjies sedert middernag in openbare hospitale in die provinsie gebore. Nog bevallings sal na verwagting later in die dag plaasvind.
Die eerste baba van die nuwe jaar is om 00:20 in die Bongani-streekhospitaal in Welkom gebore. Kefuwe Motaung (27) van Odendaalsrus het die lewe geskenk aan ’n meisietjie wat 2,795 kg geweeg het.

Die tweede Nuwejaarsbaba is net 10 minute later, om 00:30, in die Elizabeth Ross-distrikshospitaal gebore. Rethabile Mofokeng (23) van QwaQwa het die lewe geskenk aan ’n seuntjie wat 2,5 kg geweeg het.

Kort daarna, om 00:44, is nog ’n seuntjie by die Pelonomi- akademiese hospitaal in Bloemfontein gebore. Mobulelo Magwebu (45) van Bethulie se baba het 3,180 kg by geboorte geweeg.
Die departement het die personeel in die kraamsale geloof vir hul voortgesette toewyding en sorg, veral op openbare vakansiedae.















