Hy is g’n held, sê polisiehoë wat help keer dat man van brug spring

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Hy is nie 'n held nie.

So sê lt.kol. Mark Psaradelis (51), wat verbonde is aan die polisie se provinsiale kantoor in Groenpunt, Kaapstad, nadat hy verlede Vrydag gehelp keer het dat 'n man van die M5-brug oor die N1 in die stad afspring.

Netwerk24 het vroeër berig die Kaapstad-metro se verkeersdienste is verlede week drie keer na die brug ontbied waar dieselfde persoon telkens probeer het om van die brug af te spring.

'n Video van die voorval is verlede Saterdag op die Facebook-blad van Kraailove, 'n gemeenskapsorganisasie, geplaas en is reeds meer as 1 miljoen keer gekyk.

Die video wys hoe die man verlede Vrydag op 'n reling van die brug staan, met 'n leë rolstoel daarnaas, en twee mense (Psaradelis en nog 'n onbekende verbyganger) wat hom probeer oorreed om af te klim. Hulle het die man uiteindelik van die reling afgehelp nadat hy byna sy balans verloor het.

Lt.kol. Mark Psaradelis Foto: Verskaf
Lt.kol. Mark Psaradelis Foto: Verskaf

Psaradelis sê hy was van diens af en verlede Vrydag omstreeks 14:00 op pad huis toe toe hy en die bestuurder van die motor die man op die brug se relings gewaar het. Hulle het besluit om dadelik om te draai.

"Ons grootste vrees was dat hy dalk klaar afgespring het tot op die N1, wat 'n chaos sou veroorsaak het. Motors sou uitgeswaai het of hy kon op 'n motor beland het."

Volgens hom het hulle toe reeds die afrit in die rigting van Milnerton en Table View geneem.

"Ons het omgedraai, maar die verkeer was baie druk," sê hy. "Ek het uitgeklim en na die brug begin hardloop. Dis toe dat ek hom - die man - gesien het. Sy linkerbeen was in 'n mediese stapskoen (moonboot). Hy het letterlik op een been op die brug se reling gestaan. Ek het by myself gedink iets moet hier gedoen word."

In daardie stadium het nog 'n voertuig, wat vermoedelik aflewerings gedoen het, stilgehou. Iemand het uit die voertuig geklim en nog 'n persoon aan die oorkant van die brug het begin skree. Psaradelis sê hy het homself geïdentifiseer en "terug aan diens geplaas" en almal gevra om kalm te bly.

Hy was ook bekommerd dat die wind, wat sterk gewaai het, die man kon skep omdat hy net op een been op die reling gestaan het.

'n Skermgreep van die man op die brugreling, met lt.kol. Mark Psaradelis regs en 'n onbekende verbyganger links. Foto: Skermgreep
'n Skermgreep van die man op die brugreling, met lt.kol. Mark Psaradelis regs en 'n onbekende verbyganger links. Foto: Skermgreep

Volgens Psaradelis het hy die man probeer gerusstel. "Ek kon sien hy was wanhopig. Hy het aanhou sê hy het genoeg gehad."

Psaradelis het sy hand uitgesteek en die man gevra om af te kom. "Maar dit was asof hy nie wou nie," sê hy.

Psaradelis het toe aan die ander persoon gesê hulle gaan die man moet gryp. Die ander persoon het die man om die middellyf gegryp en Psaradelis sy arm. "Ons het hom toe afgekry," sê hy.

Die verbyganger het die toneel toe verlaat. Psaradelis het die man terug in die rolstoel gehelp en na 'n nabye graskol gestoot. Hy het die polisie in Woodstock gebel en die man is na 'n mediese fasiliteit geneem.

Volgens Psaradelis was hy verlig dat alles uitgewerk het.

"Ek dink nie aan myself as 'n held nie," sê hy. "Ek het net gereageer soos enigiemand anders sou."

Kevin Jacobs, woordvoerder van die Kaapstad-metro se verkeersdienste, het vroeër gesê ná die tweede poging om van die brug af te spring, is die man na die Somerset-hospitaal geneem. Ná die derde poging het die man ingestem om na 'n plek van veiligheid geneem te word.

• Kyk hier na die video.

Kry hier hulp:

Enigiemand wat met geestesgesondheidskwessies sukkel, kan die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) se 24 uur-geestesgesondheidshulplyn by 0800 456 789 skakel.

Sadag se WhatsApp-beradingslyn kan van 09:00 tot 16:00 by 076 882 2775 geskakel word.

Bel ook die Federasie vir Geestesgesondheid by 011 781 1852 of LifeLine South Africa by 0861 322 322.

SPELETJIES VANDAG

CTA