Die inperkingsmaatreëls en raad van wetenskaplikes oor hoe om die verspreiding van die coronavirussiekte te bekamp, beklemtoon dat jy jou afstand van ander mense moet hou om te keer dat jy nie aansteek nie, maar vir talle eensame mense beteken dit hulle verloor hul sin van verbintenis en menslike warmte.
Daarom het ingenieurs in Japan met die slim plan vorendag gekom om die eensaamheid mee te probeer verdring: 'n Robothand om vas te hou wanneer die gebrek aan menslike interaksie vir jou te veel word.
Die hand is met 'n vel-agtige jel bedek wat warmte uitstraal en die illusie skep dat dit 'n regte hand is wat jy vashou.
Boonop kan die robothand jou hand terug druk, indien jy dit sou verkies, en ingenieurs hoop om dit - in 'n later staduim - te laat ruik, klink en sweet soos 'n menslike hand.

Maar dié uitvindsel, wat vroeg vandeesmaand op die Internasionale Virtuele Werklikheid-konferensie in Djakarta, Indonesië, bekendgestel is, is nog nie voltooi nie. Kenners meen die belangstelling is groot en dat daar reeds 'n groeiende mark is wat asem ophou vir die produk.
"Die mensdom het 'n biologiese behoefte om saam met ander mense te wees," het Julianne Holt-Lunstad, 'n professor in sielkunde en neuro-wetenskap aan die Brigham Young-universiteit, aan Insider gesê.
"Tans weet ons ongelukkig nie hoe om daardie behoefte te vervul nie."
Die probleem is dat hoewel die robothand die warmte en druk van 'n menslike hand kan naboots, ontbreek daar die emosionele verbintenis wat gewoonlik met so 'n gebaar gepaardgaan, meen sy.
"Eensaamheid kan verbind word met die oorsaak van verskeie hartkwale, sowel as demensie of alzheimersiekte. Die eenvoudige ding van iemand se hand vashou, gee baie plesier aan 'n mens. Dit stuur die boodskap na jou brein dat jy nie alleen is nie.
"'n Robothand is daarom nie die ideaal nie, maar dis beter as niks."




















