Hoe weet jy dat jy eensaam is?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Eensaamheid is subjektief; baie mense besef nie hulle is eensaam totdat die gevoel blywend word nie. Foto: Getty Images
Eensaamheid is subjektief; baie mense besef nie hulle is eensaam totdat die gevoel blywend word nie. Foto: Getty Images

Daar kleef helaas 'n stigma aan die bekentenis dat jy eensaam is, veral vir mans. Marlee Bower skryf oor die tekens en wat om daaraan te doen.

Sonder dat jy dit besef, krimp jou wêreld soms geleidelik al hoe kleiner: Jy stap minder, jy gaan minder kantoor toe en jy kanselleer afsprake met vriende. Jy sien hoe planne soos mis voor die oggendson verdamp wanneer vriende sukkel om 'n datum en 'n plek te kry om op te vang.

Jy begin dalk effens futloos of ontkoppel voel. Daar is dalk subtiele veranderinge in jou gewoontes en luim. Kan jy dalk . . . eensaam wees?

Dis nie 'n etiket waarmee baie van ons maklik identifiseer nie, veral as jy weet jy het vriende of jy is in 'n gelukkige verhouding. Maar eensaamheid kan ons almal van tyd tot tyd onkant vang - en as jy dit wil beter maak, moet jy dit heel eerste identifiseer.

So, wat is eensaamheid?

Dis die verdriet wat ons voel wanneer ons verhoudings nie aan ons behoeftes voldoen nie - en dit geld vir kwaliteit óf kwantiteit. Dis nie dieselfde as om objektief vingeralleen te wees nie (andersins bekend as "sosiale isolasie").

Jy kan ten diepste eensaam voel selfs wanneer jy omring word deur vriende, of jy kan heeltemal tevrede wees op jou eie. Eensaamheid is subjektief; baie mense besef nie hulle is eensaam totdat die gevoel blywend word nie.

Wat is van die tekens om voor uit te kyk?

Jy kan 'n fisieke koue, leegheid of holheid ervaar (dis al beskryf as die gevoel dat jy 'n orgaan kort).

Van die navorsing het getoon die brein ervaar sosiale pyn as soortgelyk aan fisieke pyn. Aanduidings in jou gedrag kan insluit:

• Veranderinge in roetine

• Dit kan moeilik wees om aan die slaap te raak of aan die slaap te bly.

• Veranderde aptyt (Dalk eet jy meer of minder as gewoonlik of jy het minder verskeidenheid in jou dieet.)

• Jy kanselleer planne wat jy andersins sou geniet (dalk gaan jy nie meer na 'n gereelde oefenklas nie of jy gaan minder na vertonings of sportgeleenthede).

Emosioneel kan jy die volgende ervaar:

• Volhardende verdriet

• Moegheid

• Jy voel ontwortel.

• Jy voel asof jy nêrens tuishoort nie, selfs wanneer jy saam met ander is.

• Jy kan ook meer sensitief wees vir verwerping of kritiek.

'n Evolusionêre alarmstelsel

Jy is nie al een wat só voel nie en daar is niks fout met jou nie. Die Amerikaanse neurowetenskaplike wyle John Cacioppo het eensaamheid as 'n evolusionêre alarmstelsel beskryf.

In die verlede was dit gevaarlik om afgesonder van jou stam te wees, want jy kon bedreig word deur roofdiere. Ons breine het dus 'n manier ontwikkel om ons terug te dwing na samesyn. Die pyn van eensaamheid is ontwerp om ons verbonde en veilig te hou.

Hoekom is dit dikwels moeilik om te herken?

Helaas kleef daar baie stigma aan die bekentenis dat jy eensaam is, veral vir mans. Baie mense skop vas daarteen om te identifiseer as eensaam, want hulle voel dit sal hulle brandmerk as "verloorders".

Soms krimp jou wêreld so geleidelik dat jy dit skaars merk - totdat dinge handuit ruk. Foto: Getty Images
Soms krimp jou wêreld so geleidelik dat jy dit skaars merk - totdat dinge handuit ruk. Foto: Getty Images

Maar die stilte kan die probleem vererger. As niemand daaroor praat nie, word dit moeiliker om die siklus van eensaamheid te verbreek en die stigma bly kleef.

Terwyl verbygaande eensaamheid normaal is, kan chroniese of blywende eensaamheid sleg wees vir ons gesondheid. Navorsing wys chroniese eensaamheid word geassosieer met:

• Depressie

• Angs

• Verswakte immuniteit

• Hartsiektes

• Vroeër sterfte

Verbreek die siklus

Eensaamheid kan ook 'n bose kringloop word. Wanneer dit eers normaal voel, kan dit jou wêreldbeskouing begin vorm. Jy verwag verwerping, dus onttrek jy meer en die siklus verdiep.

Hoe gouer jy besef jy is eensaam, hoe makliker is dit om die siklus te verbreek. Jy kan dalk dink: Maar ek is in 'n verhouding, ek het baie vriende en ek het 'n vervullende werk.

Hoe gouer jy besef jy's eensaam, hoe makliker is dit om die siklus te verbreek. Foto: Unsplash
Hoe gouer jy besef jy's eensaam, hoe makliker is dit om die siklus te verbreek. Foto: Unsplash

Ja, maar jy kan steeds eensaam voel.

Die meeste van ons het verskillende soorte verhoudings nodig om te gedy. Dit gaan nie oor hoeveel mense jy ken nie, maar of jy voel jy het 'n band met ander en of jy 'n betekenisvolle rol het in hierdie vriendskappe.

Jy kan selfs in nabye vriendskappe eensaam voel as daar nie 'n dieper konneksie, gedeelde identiteit of 'n sin vir gemeenskap is nie.

Dit beteken nie jy is ondankbaar of 'n swak vriend nie. Dit beteken bloot jy het meer of ander soorte konneksie nodig.

Wat kan jy daaraan doen?

Nou goed, ek het besef ek is eensaam. Wat nou?

Begin deur jouself af te vra: Watter soort verbondenheid mis jy? Is dit een-tot-een vriendskappe? 'n Lewensmaat? Terloopse sosiale interaksies? 'n Gedeelde doelstelling of gemeenskap?

Die Amerikaanse neurowetenskaplike wyle John Cacioppo het eensaamheid as 'n evolusionêre alarmstelsel beskryf. Foto: Unsplash
Die Amerikaanse neurowetenskaplike wyle John Cacioppo het eensaamheid as 'n evolusionêre alarmstelsel beskryf. Foto: Unsplash

Dink dan aan wat jou in die verlede gehelp het om meer verbonde te voel. Vir sommige mense is dit om by 'n koor of 'n boekklub of 'n sportklub aan te sluit. Vir ander kan dit wees om te werk as vrywilliger of om net ja te sê vir klein sosiale momente soos om te gesels met jou plaaslike barista of om die naam van die slagter in jou gebied te leer.

Indien jy steeds sukkel, kan 'n sielkundige jou help met bepaalde strategieë net vir jou om konneksies te bou.

Die strukturele oorsake van eensaamheid

Dis ook belangrik om te onthou eensaamheid is dikwels nie te wyte aan persoonlike mislukkings of algehele psigiese gesondheid nie.

My eie navorsing wys eensaamheid word dikwels gevorm deur strukturele faktore soos swak beplanning in jou plaaslike omgewing, finansiële ongelykheid, werkdruk, sosiale norme of selfs langtermyneffekte van die inperkings tydens die Covid-19-pandemie.

Ons leer ook meer oor hoe klimaatsverandering sosiale konneksie kan ontwrig en eensaamheid kan vererger weens byvoorbeeld hoër temperature en veldbrande.

Eensaamheid is normaal, algemeen, menslik en oorbrugbaar.

Begin deur dit in jouself raak te sien en reik uit as jy kan. Kom ons begin om meer daaroor te praat sodat ander ook minder eensaam kan voel.

• Bower is 'n senior navorsingsgenoot by die Matilda-navorsingsentrum vir psigiese gesondheid en middelmisbruik aan die Universiteit van Sydney. Hierdie artikel het eerste op The Conversation verskyn.

Marlee Bower

CTA