Alleenheid is 'n werklikheid. Alleenheid is deel van die lewe. Baie van ons ken daardie groot alleenheid ná die afsterwe van 'n geliefde. Of daardie alleenheid wanneer ons vriende en familie ver van ons af woon. Of daardie alleenheid omdat niemand ons meer raaksien of ons menings ernstig opneem nie.
Alleenheid is eie aan baie figure regdeur die Bybel. Die swaarste vorm van alleenheid is sekerlik dié van Jesus aan die kruis toe Hy Psalm 22 se woorde uitgeroep het: "My God, my God, waarom het U my alleen gelaat?"
Die skrywer en psigoterapeut Robert A. Johnson verstaan alleenheid in terme van verlede, hede en toekoms. Hy sê spesifiek alleenheid oor die verlede het te make met ons verlange na dit wat verby is, maar wat nooit weer sal wees nie.
Dit is egter sy begrip van toekomsgerigte alleenheid wat my aangryp. Johnson omskryf dit as "the profound loneliness of being close to God". Vir hom gaan hierdie verlange oor dit wat nog moet wees, maar wat nie hier is nie.
Paulus verwoord hierdie diepe verlange in 2 Korintiërs 4 mooi as hy skryf sy geloofsoog is stewig gerig op God se onsigbare wêreld wat op ons wag. Dit omraam sy huidige alleenwees met hoop en betekenis.
Uit die Woord
Want God wat gesê het, "Laat daar uit die duisternis lig skyn", dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus. - 2 Korintiërs 4:6





















