Sielsdinge

Stephan Joubert: Help ons eensame generasie

Human crowd forming a human link symbol on white background. Horizontal  composition with copy space. Clipping path is included. Bonding and social Media concept.
Human crowd forming a human link symbol on white background. Horizontal composition with copy space. Clipping path is included. Bonding and social Media concept. (Illustrasie: Getty Images)

In ’n nuwe studie van die gesaghebbende Barna Group in die VSA is bevind 39% van alle tieners voel onseker en angstig, 29% voel alleen, en 26% voel hulle is sosiaal geïsoleerd.

Hul ouers sukkel ewe veel. Vier uit elke tien ouers sê hul lewe is so vol stres dat hulle party dae nie eens normaal kan funksioneer nie.

Hierdie syfers lyk nie veel beter wat betref die sogenaamde millenniërgenerasie nie. Dis daardie groep wat tussen 1981 en 1996 gebore is. Sowat 31% van hulle is onseker oor die toekoms, en 23% van hulle voel eensaam.

Mens sou dink sosiale media en KI het tieners en jongmense se lewe verbeter. Jy sou dink hulle is die nuwe generasies wat in beheer van sake in ons nuwe wêreld staan.

Tog is ons almal eensamer en onsekerder as ooit tevore. Ons almal is verhouding-arm.

God het ons vir verhoudings geskep. Ons is gemaak om saam met mekaar te leef en om saam met die Here te stap. Ons is gemaak vir nabyheid. Ons is gemaak vir omgee en daarwees.

Geen selfoon of kletsbot kan dit bewerkstellig nie. Geen nuwe tegnologiese speelding kan die gaping in ons hart vul wat God daar geplaas het nie. Sy nabyheid en die nabyheid van ander is wat regtig nodig is.

Uit die Woord

Twee is beter as een omdat daar vir hulle ’n ruim beloning is vir hul inspanning. Ja, as hulle val, kan die een sy maat ophelp; maar wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te help! As iemand die een wil oorweldig – twee kan teen hom standhou. ’n Driedubbele koord word nie maklik gebreek nie. – Prediker 4:9-10 en 12

CTA