Mense

Pite plat weens bloedklont ná Covid

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pite van Biljon, die Knights se krieketkaptein, het ’n bloedklont deur die longe gehad nadat hy in Nederland Covid-19 opgedoen het. Hy sê sy toekoms as krieketspeler is dalk in die gedrang, maar hy wag om te sien hoe hy op die bloedverdunners reageer
Pite van Biljon, die Knights se krieketkaptein, het ’n bloedklont deur die longe gehad nadat hy in Nederland Covid-19 opgedoen het. Hy sê sy toekoms as krieketspeler is dalk in die gedrang, maar hy wag om te sien hoe hy op die bloedverdunners reageer

Pite van Biljon (36), kaptein van die Knights, se toekoms as krieketspeler is dalk in die gedrang nadat hy in Nederland waar hy speel Covid-19 opgedoen en 'n bloedklont deur die longe gehad het.

Die Protea-speler, wat in tien T20-wedstryde vir Suid-Afrika gespeel het, het uit Utrecht in Nederland, waar hy sedert Mei vir die Kampong-klub speel, gesê hy was baie siek en kan nie vlieg óf krieket speel nie terwyl hy op bloedverdunners is.

"Ek is verlede Dinsdag positief vir Covid getoets. Hulle sê dit is die nuwe variant deltakron. Ek was baie siek en het rêrig vir drie of vier dae gestruggle waar ek basies bedlêend was. Dit het rêrig nie goed gegaan nie."

Hy het die naweek begin beter voel en was sonder enige simptome.

Hy moes Maandag vir 15 minute met ligte oefening begin en het 'n kort ent gaan stap, maar die volgende oggend om 03:00 wakker geword met 'n kwaai pyn in die bors.

Dit is later die oggend met skanderings vasgestel dat hy 'n bloedklont het.

Van Biljon, wat voorheen al trombose op 'n vlug opgedoen het, sê hy mag die volgende vier weke nie na Suid-Afrika terugvlieg nie.

Sy seisoen in Nederland is ook kortgeknip.

"Ek het definitief klaar krieket gespeel in Nederland. Ek sal beslis nie weer hier kan speel nie. Dit is omdat my bloed weens die medisyne so dun is dat enige stamp lewensgevaarlik kan wees. Ek sal eers heeltemal van die medisyne moet af wees voordat ek weer kan krieket speel. In die stadium moet ek dit drie maande neem."

Die vraag of sy krieketloopbaan in die weegskaal kan wees, is 'n moeilike een. Omdat hy tien jaar gelede ook 'n bloedklont gehad het toe hy gevlieg het, is hy nie seker hoe dit sy toekoms as professionele krieketspeler kan raak nie.

Pite van Biljon  Foto: Gallo Images
Pite van Biljon Foto: Gallo Images

"Die vorige bloedklont kan weens 'n vlug wees en hierdie een kan weens Covid wees. Ek is nie heeltemal seker nie. Hulle sal seker toets of dit 'n kroniese ding is of dalk weens gebeure (beserings), maar dit kan 'n effek hê op my loopbaan. Dit kan beteken dat ek klaar is met krieket, ek is nie seker nie."

"Kom ek stel dit so: As ek vir altyd op die medisyne moet wees waarop ek nou is, sal ek nie weer krieket kan speel nie. Ek weet nie lekker wat die plan ná die drie maande gaan wees nie."

Hy het reeds die diagnose vir die dokter in Suid-Afrika gestuur en wag vir sy mening.

"Ek het gelees Pierre Spies (die Springbok-agtsteman) het ook bloedklonte in sy longe gehad en hy het weer rugby gespeel. Ek is nogal hoopvol dat ek 'n terugkeer kan maak."

Hy hoop om einde Augustus of September by die Knights in Bloemfontein in te val as alles goed gaan.

"In die stadium kyk ek net na die eerste twee weke. Dit is belangrik dat ek hierdeur kom vir veiligheid. Ná twee weke behoort my gestel goed te gereageer het op die medisyne. Dan kan ek weer liggies begin oefen."

Sy vrou, Jessica, en dogter, Debi, is in Bloemfontein.