Mense

Redakteursbrief: Die storie van ’n vis

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Yvonne Beyers
Yvonne Beyers (.)

Ek het al agter my pa oor die rotse geklim en dan my vingers gedruk in die sagte anemone wat skuil in die poeletjies wat hoogwater agterlaat wanneer sy wegtrek.

Ek het gesoek vir mooi stukkies skulp en die groen kringetjie van ongebreekte seepampoentjies terwyl my pa met sy lyn in die water wag. Inkatrol as dit voel of iets byt; stok oor die regterskouer met die lyn wat weer doer oor die water trek

Soms was ons gelukkig. Elf. Kabeljou. Stompkop. Galjoen.

Eenmaal leervis; soms ’n hamerkophaai. Ek het geleer hoe om ’n seekat vir aas te vang en om nie te gril vir goed wat glibberig deur my vingers glip nie. Om ’n hoek uit te haal, en hoe om te vlek. Dit alles het ek vergeet toe my eie dinge my kom haal.

Ek het jare laas met sonsopkoms of skemer langs my pa op ’n rots langs die see gesit, met sy lyn in die water en my oë op die kondisies.

Maar toe ek vandeesweek se storie oor ’n visvangfamilie lees (bl. 24), het ek onthou ek kom ook uit een. En toe het ek weer so saggies die name opgesê van al die plekke waar ek en my pa so baie kere gewag het vir die vis om te byt: Snuifklip, die Ouvangplek, die Hoek, die Saal, Verongeluksloep, Fonteintjies, die rooibankies van Kanon.

’n Mens weet nie wat dit is wat jou kinders eendag sal onthou van die dinge wat jy liefgehad het nie. Maar iets daarvan onthou hulle wel. Die gevoel van saamwees, net ons so tesame, of die name van die plekke waar twee rye spore lê.

1630

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM