Het jy ook kleintyd Peanuts gelees en in dié strokies die dinge herken waarvoor jy nie altyd self die regte woorde gehad het nie?
Hoe ek daaraan gekom het, kan ek nie meer onthou nie, maar iewers in my kinderjare het Charles M. Schulz se karakters by my kop kom intrek. Ek het gehou van daardie klein geel voëltjie, Woodstock, wie se woorde net Snoopy kon verstaan. ‘‘‘‘‘‘‘‘‘‘‘‘‘‘‘‘‘, sou hy sê.
En dan het Snoopy geweet presies wat Woodstock bedoel, en ek daarmee ook.
Ek het gehou van Charlie, met sy goeie bedoelings en onsekerheid. Van die beterweterige ou Lucy. Van die slim, bekommerde Linus met sy kombersie. En veral van Snoopy, wat met sy lang ore weerskant van sy rooi hondehok lê en hom verbeel hy’s ’n vlieënier wat niks vrees nie.
As Snoopy hom enigiets kan verbeel, kan ek mos ook, het ek gedink. Daai tyd het ek nog nie geweet waar die karakters vandaan kom nie – ek het hulle net geken soos mens die mense ken wat jou help om die wêreld te verstaan.
Peanuts is vanjaar 75 jaar oud, en nog net so geliefd soos altyd – lees ons storie oor die fenomeen op bl. 104. “Good grief,” sou die karakters se skepper seker oor sy onverwagte sukses sê.
En dan sou Woodstock antwoord: ‘‘‘‘‘‘‘‘‘‘‘‘.
En Snoopy sou weet presies wat hy bedoel.
1630





















