
Waldo Verwey, die 11-jarige seun van Springs wat die aand van 2 Oktober in die gesig geskiet is, wonderbaarlik oorleef het en ’n week later aan sy beserings beswyk het, is Donderdag ter ruste gelê.
Waldo Verwey se naastes het Donderdagoggend geklee in wit die AGS Jesus is Lig-kerk in Springs binnegestap.
Lindie Burger, Waldo se biologiese ma, haar lewensmaat, Emile Langenhoven, en Waldo se jonger boetie, Logan, het met ‘n klein kissie as slippedraers ingestap.
“Trane uit die hemel vloei oor my vandag,” lui die woorde van ‘n liedjie wat speel soos hulle die kerk om 09:22 binnestap.

Burger staan lank voor by die kissie met Waldo se as, en kyk na die twee foto’s van haar seuntjie wat voor in die kerk staan.
Past. Ruan Maree het die familie en “die gebroke mamma” verwelkom. Maree het self ’n 10-jarige seun en 12-jarige dogter.
Maree sê Waldo het deur sy lewe en sy dood baie mense se lewe aangeraak.
“Hy het in 11 jaar meer mense se lewens aangeraak as wat iemand in ‘n hele leeftyd doen.
“God het gesien wat met Waldo gebeur het en Hy sal dit nie ongestraf laat bly nie. Sy geregtigheid sal geskied.”



















