Waldo Verwey, die 11-jarige seun van Springs wat Donderdag oorlede is nadat hy vroeër in die gesig geskiet is, was ’n orgaanskenker.
Waldo se organe is gebruik om ses mense se lewe te red: vier kinders en twee volwassenes, sê sy biologiese ma, Lindie Burger.
Waldo is op 2 Oktober in die gesig geskiet. Die koeël het hom bo sy regter-oogbank getref. Die voorval het buite die huis gebeur. Waldo se jonger boetie, Logan, het op hom afgekom.
Daar word beweer dat Waldo deur ’n vermeende huisrower geskiet is, maar dit is nie bevestig nie.
Die twee boeties was in pleegsorg.

Waldo was vir ’n week in die intensiewesorgeenheid van die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal onder verdowing en is Donderdagoggend oorlede.
Burger sê Waldo was die “liefste seun” met “ ’n hart van goud”.
Waldo was ook baie lief vir visvang en kamp. “En as hy ’n vis gevang het, het hy seker gemaak almal om die dam weet.”
Burger onthou die eerste keer toe Waldo ’n baber gevang het. “Hulle het mos nie tande nie, hulle bekke is soos skuurpapier. Op ’n manier het sy handjie toe in die baber se bek beland, en hy het vir almal vertel die baber het hom gebyt,” sê sy met ’n laggie.
Sy sê haar seun wou altyd almal laat lag. “En sy lag was aansteeklik, jy kon nie anders as om saam te lag nie. En dan blink sy ogies.
“Hy sou eerder sy toebroodjie of lekkers vir ander kinders by die skool gee wat dalk nie het nie,” sê sy.
Dis juis hierdie karaktereienskap van haar seun wat vir Burger vrede gegee het in die “groot besluit” om sy organe te skenk.
“Ek kan my net indink hoe die mammas moet voel. Hulle dink hul kind gaan dit nie maak nie, en toe kom Waldo. Hy het hulle gered.”
Burger sê die verlies van haar seun is “hartverskeurend” en dit is moeilik om voort te gaan. Sy vind egter vertroosting in die wete dat haar seun ander kon red en só voortleef.
“Waldo leef nog deur ander, so vir my is dit asof hy nie weg is nie.”



















