'n Ma van Gauteng gaan in verband met die beweerde verberging van 'n geboorte en regsverydeling aangekla word nadat die oorskot van twee babas, wat deel was van 'n drieling, in 'n vlak graf gekry is.
Die misdaadtoneelondersoekspan van die polisie het Saterdag die oorskot van 'n seun en meisie by die vrou se huis in Temba naby Hammanskraal opgegrawe.
Hulle is ontbied nadat die Temba-polisie inligting oor die moontlike verberging van 'n geboorte opgevolg het. Dit nadat die departement van gesondheid inligting ontvang het van 'n ma wat by 'n huis die lewe geskenk het, maar dit nie by die departement van binnelandse sake geregistreer het nie.
"Die vrou het op 8 Maart aan 'n drieling die lewe geskenk. Een van die baba's is glo doodgebore, terwyl 'n ander een ná twee dae dood is. Die babas is toe begrawe."
Die vrou se 51-jarige ma is in aanhouding en sal dalk van regsverydeling aangekla word omdat sy glo haar dogter gehelp het.
'n Lykskouing sal gedoen word om te bepaal hoe die twee babas dood is.
Die vrou en haar oorblywende babadogter is in die hospitaal en sy sal in die hof verskyn sodra sy ontslaan word.


















