Die polisie in die Wes-Kaap het ’n grootskaalse klopjag van stapel gestuur ná die noodlottige skietery waarin sewe mans, tussen 20 en 30 jaar oud, Vrydagaand in Philippi-Oos doodgeskiet is.
Die voorval het Vrydagaand in Road 53, Better Life- informele nedersetting, plaasgevind.
Speurders verbonde aan die provinsiale eenheid teen ernstige geweldsmisdade is aan die saak toegewys en volg elke leidraad op om diegene wat verantwoordelik is vir hierdie wrede aanval te identifiseer en aan te keer, lui ’n polisieverklaring.
Die Wes-Kaapse polisiebestuur het die sinnelose daad van geweld sterk veroordeel en bevestig dat die ondersoek geprioritiseer is.
Lt.genl. Thembisile Patekile, die provinsiale kommissaris, het sy kommer uitgespreek oor die vlak van geweld en ’n beroep op gemeenskapslede gedoen om die polisie te help deur enige inligting te deel wat die ondersoek kan help.
“Gemeenskapsamewerking is van kardinale belang om diegene wat verantwoordelik is aan die pen te laat ry en veiligheid in ons woonbuurte te herstel,” het Patekile gesê.
Anroux Marais, Wes-Kaapse LUR vir polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, het in ’n verklaring die wrede moord op die sewe mans sterk veroordeel.
Marais het die polisie versoek om die skuldige van hierdie gruwelike misdaad op te spoor nie, insluitend diegene wat die vuurwapens verskaf het.
Sy het gesê hoe kritiek belangrik deeglike ondersoeke is wat tot suksesvolle vervolging en die oplegging van swaar vonnisse lei.
Marais sê dit is nie bloot net lukrake gewelddadige dade nie.

“Dit is gekoördineerde, gewelddadige aanvalle op gemeenskappe wat reeds onder beleg is. Ons kan nie toelaat dat hierdie moorde ’n norm word nie. Diegene wat verantwoordelik is, moet met die volle mag van die wet te doen kry, en dit sluit diegene in wat wapens in hul hande sit,” sê Marais.
Marais het ook die behoefte aan ’n regerings- en samelewingsbenadering beklemtoon om misdaad te bekamp en veiligheid te herstel. Ons moet gesonder gemeenskappe skep om die vloedgolf van geweldsmisdaad te stuit, sê sy.
“Ons het nodig dat ons gemeenskappe saam met ons staan en saamstaan,” sê sy.
“Die polisie kan dit nie alleen doen nie. As jy iets gesien het, sê iets. Ons sal nie hierdie stryd sonder jou hulp wen nie,” sê sy.
Enigiemand wat die voorval moontlik gesien het of inligting het wat die polisie kan help, word versoek om die Stop Misdaadnommer, 08600 10111, te skakel of die MySAPS-app te gebruik. Alle inligting sal met die strengste vertroulikheid behandel word.



















