Sewe mense is van Woensdagaand tot Donderdagoggend in hegtenis geneem in verband met ’n skietvoorval verlede week wat sewe lewens in Philippi-Oos, Kaapstad, geëis het.
Die polisie in die Wes-Kaap het Donderdag gesê die sewe mense wat aangekeer is, is tussen 16 en 22 jaar oud en in ’n reeks goed gekoördineerde operasies opgespoor.
Hulle sal Vrydag in die landdroshof in Athlone verskyn.
Dit kom nadat sewe mans van tussen 20 en 30 jaar oud verlede Vrydagaand in die Better Life- informele nedersetting doodgeskiet is.
Die polisie het in ’n verklaring die inhegtenisnemings as ’n noemenswaardige deurbraak beskryf in hul poging om gewelddadige en georganiseerde misdaad in die provinsie uit te roei.

Lt.genl. Thembisile Patekile, provinsiale polisiekommissaris, het die spoedige optrede van die speurders en polisielede geprys en gesê dit stuur ’n duidelike boodskap uit aan diegene wat geweld pleeg.
“Ons sal nie genadelose dade van geweld duld wat lewens verwoes en ons gemeenskappe destabiliseer nie. Die mans en vroue van die polisiediens sal voortgaan om dié aan te keer wat sulke barbaarse misdade pleeg.”
Patekile benadruk dat daar geen skuilplek vir misdadigers in die provinsie is nie.
Anroux Marais, LUR vir gemeenskapsveiligheid en polisietoesig, het die middag ook die polisie vir die inhegtenisnemings geprys en sê dit is ’n bewys van talle polisielede se toewyding.
“Noudat die verdagtes aangehou word, dring ek aan dat die ondersoekspan ’n waterdigte saak bou wat tot suksesvolle skuldigbevindings in die hof sal lei. Diegene wat glo dat hulle straffeloos kan optree, moet weet dat hulle opgespoor sal word en met die volle mag van die gereg te doen sal kry.”




















