'n Amerikaanse man het dalk nou groter waardering vir sy nie-egte silwer hangertjie wat onlangs 'n koeël gekeer het voordat dit sy nek kon deurboor.
'n Foto van die hangertjie is onlangs deur die polisie in Commerce City in Colorado op sosiale media gedeel met 'n inskrywing dat die hangertjie waarskynlik die rede is waarom die slagoffer van die skietvoorval nog leef. In die foto's kan gesien word hoe die .22-koeël tussen die skakels van die hangertjie vassit.
Volgens Sky News is die man, wie se naam nie bekend gemaak is nie, verlede week tydens 'n argument met 'n .22-vuurwapen geskiet. Die koeël het die hangertjie om sy nek getref, en hy het slegs 'n klein wond opgedoen.

Hoewel die hangertjie, waarvan die skakels sowat 10 mm breed is, silwerkleurig is, meen die polisie dit is in alle waarskynlikheid nie van egte silwer nie, aangesien silwer 'n veel sagter metaal is wat waarskynlik nie die koeël sou keer nie.
"Dink dalk twee keer voordat jy op 'n nagemaakte item neersien," lui die polisie se inskrywing saam met die foto's.
People berig die polisie het die skieter op die toneel in hegtenis geneem en van poging tot moord aangekla. Hy het Maandag in die hof verskyn en is volgens Fox News deur die polisie as Richard Hillman geïdentifiseer.
















