Die polisie in Gqeberha ondersoek 'n saak van roof nadat 'n 17-jarige leerling die naweek in Mill Park gesteek en van sy selfoon beroof is.
Volgens 'n bron is die seun 'n leerling aan die Grey High School, 'n spogseunskool in Mill Park.
Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, het Maandag by navraag aan Netwerk24 bevestig die leerling is Saterdag omstreeks 16:45 in Bowlingweg, 'n klipgooi van die skool, aangeval.
'n Motor het langs die seun stilgehou. Beetge sê die bestuurder van die motor het uitgeklim en glo die seun se selfoon geëis.
Volgens Beetge het die bestuurder glo eers die seun met 'n mes gesteek voordat hy met die leerling se selfoon van die toneel gevlug het. Die aard van die seun se beserings is onbekend.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Brendon Pegram, wyksraadslid, het sy skok en kommer oor die voorval uitgespreek. Sover hy weet, is dit die eerste keer dat 'n leerling van 'n skool in sy wyk so wreedaardig aangeval en beroof is.
"Hierdie voorval is afskuwelik, uiters teleurstellend en maak my bekommerd. Ons woon in wat as die gevaarlikste stad in die land beskou word. Dit is ook 'n duidelike bewys dat die polisie se bronne beperk is."
In Maart het die burgerlike raad vir openbare veiligheid en geregtigheid in Mexiko Gqeberha as Suid-Afrika se gewelddadigste stad gelys. Die stad is negende op die lys van 50 stede wat volgens die raad verlede jaar die meeste moorde per 100 000 mense gehad het.
Pegram het Maandag aan Netwerk24 gesê daar was 'n toename in misdadige aktiwiteite in die wyk. "Ek sien te veel dat mense kla dat hulle beroof word; dit gebeur hopeloos te gereeld."
Pegram waarsku leerlinge om waaksaam te wees en in groepe te loop.
Die Grey High School het Maandag by navraag aan Netwerk24 gesê hy is nie in 'n posisie om kommentaar te lewer oor die beweerde voorval of die welstand van die leerling nie.

















