Skole

Maroen Masjien stoomroller voort

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Daar is steeds g'n keer aan die Maroen Masjien nie.

Paul Roos Gimnasium het sy segetog Saterdag in Gqeberha voortgesit waar hy Grey High School met 21-7 verslaan het.

Met dié oorwinning het die Stellenbossers dit ses uit ses is in 2024 gemaak en die span sal vandeesweek na die Wildeklawer-toernooi in Kimberley opruk met 'n teiken op die rug.

Ofskoon Grey High in die vroeë stadium van die wedstryd alles in die stryd gewerp het om die besoekers onder druk te plaas, was dit Gert Kemp (flank) wat sy indrukwekkende spelpeil voortgesit het met die eerste drie van die wedstryd nadat Oliver Reid (loskopstut) hom weggestuur het.

Reid het sy hand in eerste drie opgevolg deur self oor te beur vir die tweede.

Likona Sodlaka (slot) het die gaping in die tweede helfte laat krimp toe hy die Oos-Kapenaars se enigste drie van die wedstryd afgerond het, maar Keenan Stoffels (linkervleuel) het met sy drie en Paul Roos se derde die bult te steil gemaak vir die tuisspan om uit te klim. Kemp en Reid het boonop ook 'n aandeel in Stoffels se vyfpunter gehad.

Keenan Stoffels van Paul Roos Gimnasium vroeër vanjaar in aksie. Foto: Frans Lombard
Keenan Stoffels van Paul Roos Gimnasium vroeër vanjaar in aksie. Foto: Frans Lombard

Die spel van die Paul Roos-kaptein, Riley Norton (flank), het ook nie ongesiens verbygegaan nie. Norton, wat ook 'n SA o. 19-krieketspeler is, is 'n werkesel van formaat op die rugbyveld en het Grey High se momentum deurlopend in die lynstane ontwrig.

Paarl Gimnasium is terug op die wenpad ná hul oorwinning van 35-10 oor die South African College High School (Sacs).

Gim was stadig uit die blokke, met al hul punte wat eers in die tweede helfte ingeryg is. Sacs se Nic Reynolds (binnesenter) en Rayaan Solomons (losskakel) se doelskop was die enigste punte van die eerste helfte.

Die senterpaar van Kobus Blanckenberg en Markus Muller het egter amok gesaai in die tweede helfte en albei het twee keer vir die Paarliete gaan druk. Chandler Green (losskakel) het op behendige wyse die toutjies agterlangs getrek.

Die Hoërskool Stellenberg is uiteindelik van die merkie af nadat hulle die Hoërskool Strand met 76-10 oorrompel het.

'n Driekuns deur Dale du Toit (flank) sou die Jade Brigade sonder twyfel breëbors gelaat het, terwyl die twee manne op die punte, Luc Cilliers (linkervleuel) en Luka Tonitz (regtervleuel), albei ook twee keer onder die driedrukkers getel het.

Die Hoërskool Outeniqua het die besoekende Parel Vallei met 68-0 slae gegee in George, terwyl Rondebosch Boys' High School min moeite ervaar het om die Hoërskool Melkbosstrand met 45-13 te gaffel.

Die Hoërskool Brackenfell se Wade Fortuin (agtsteman) het twee keer vir sy span gedruk in hul oorwinning met 22-17 oor Worcester Gimnasium, terwyl Milnerton High School naelskraap met 29-28 die oorhand oor die Hoërskool Bellville gekry het.

Verder was daar wegholseges vir die Hoërskool Swartland (65-7) teen DF Malan, vir Hopefield (39-3) teen Dirkie Uys en Hoërskool Robertson (48-12) teen Tygerberg.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM