’n Klein gemeenskap naby Makapanstad in Noordwes het ’n man wat na bewering drie mense met ’n graaf doodgeslaan het, Donderdagoggend aan die polisie oorhandig.
Lt.genl. Puleng Dimpane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, het dié gemeenskap, die media en sosialemediagebruikers bedank vir hul hulp om die 41-jarige James Mohajane vas te trek.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het Donderdagoggend laat in ’n mediaverklaring bevestig Mohajane is omstreeks 09:30 in hegtenis geneem – minder as 12 uur nadat die polisie ’n foto van hom versprei en gevra het die publiek moet op die uitkyk wees vir hom.
“Die gemeenskap (naby Makapanstad) waar die moorde gepleeg is, het ’n deurslaggewende rol gespeel om die man vas te trek. Hulle het hom aan die polisie oorhandig.”
Die lyke van Moipone Lefoka (sy meisie), haar suster, Esther Lefoka, en die suster se kêrel, Tshepo Molekwa, is Sondagoggend in ’n nedersetting naby Makapanstad gevind.
Die lyke is in Molekwa se huis gevind, sê Mathe. Die drie slagoffers is ook laas lewend by Molekwa se huis gesien.
Mohajane was skoonveld toe die lyke gevind is. Sy selfoon was volgens Mathe nog op die moordtoneel.
“Die motief vir die moorde word nog ondersoek. Die polisie bevestig ons verbintenis daartoe om pogings te verskerp om geslagsgeweld en gewelddadige misdrywe te bestry, veral wanneer dit vroue en kwesbare groepe raak.”

















