'n Pakistanse sakeman wat vroeër vandeesmaand in Graaff-Reinet in die Oos-Kaap ontvoer is, is Donderdag gered en vier vermeende ontvoerders is op verskillende plekke in Gauteng in hegtenis geneem.
Die polisie het ook op 'n ongelisensieerde vuurwapen en 'n voertuig beslag gelê, lui 'n polisieverklaring.
Die voorlopige ondersoek dui daarop dat 'n onbekende groep mense hulself as immigrasiebeamptes aan die 55-jarige slagoffer voorgedoen het. Hy het hulle toe na die naaste polisiekantoor vergesel, maar nie weer by die huis opgedaag nie.
Sy gesinslede het die polisie betrek toe die ontvoerders na bewering 'n losprys geëis het vir die sakeman se vrylating.
Inligting wat die polisie ingesamel het, het 'n multidissiplinêre span na een van die verdagtes in Killarney, Johannesburg, gelei, waar daar op die ongelisensieerde vuurwapen beslag gelê is.

Dié verdagte het die span gelei na die perseel in Evaton waar die slagoffer was. Nog twee verdagtes is daar in hegtenis geneem.
Verdere ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van 'n vierde verdagte in Benoni, aan die Oos-Rand.
Daar is ook beslag gelê op die voertuig wat na bewering gebruik is om die man te ontvoer.
Die vier verdagtes - twee Suid-Afrikaners en twee Pakistani's - sal na verwagting binnekort in die hof verskyn, lui die verklaring.
• In 'n afsonderlike voorval het Zayd Gangat, Muhamed Touray, Tofik Shifa, Mohammed Akbar en Emmanuel Bizanama Woensdag in die landdroshof in Johannesburg verskyn op aanklagte van ontvoering, poging tot moord en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie. Dit was in verband met die ontvoering van 'n Ethiopiese sakeman Sondag in Norwood.
Een van die vermeende ontvoerders is doodgeskiet ten tyde van die slagoffer se ontsetting.
Die Amerikaanse tesourie het voorheen sanksies teen Gangat en Akbar ingestel omdat hulle na bewering bande met die terreurgroep Isis het, het Netwerk24 vroeër berig.















