’n Student van die West Coast College in Citrusdal is dood aangetref nadat sy omtrent ’n week vermis was.
Lilitha Hanisi (19) is op 3 Augustus as vermis aangemeld.
Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê ’n moordsaak word ondersoek nadat haar lyk Sondag, op Vrouedag, omstreeks 11:00 in ’n veld langs die Olifantsrivier in Citrusdal aangetref is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie, sê Van Wyk. Die omstandighede wat tot haar dood gelei het, word ondersoek.
Luidens ’n Pink Ladies-plakkaat is Hanisi laas op 1 Augustus omstreeks 23:00 in Riverview, Citrusdal, gesien.
Gerugte doen die ronde op sosiale media dat sy ’n geselligheid by die kollege bygewoon het voordat sy en haar vriende na ’n ander plek sou gegaan het. Sy is glo saam met ’n ouer man gesien wat haar vriende nie ken nie.
Hulle het na bewering probeer om Hanisi saam met hulle te neem, maar die man het glo geweier en daarop aangedring dat sy saam met hom gaan.
Die man het haar vriende glo aangerand.

Die Citrusdal-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het Maandag op sy Facebook-blad sy innige meegevoel met haar familie en geliefdes betuig. Die GPF het ook ’n beroep op die gemeenskap gedoen om die gereg sy beloop te laat neem.
“Die Citrusdal-GPF veroordeel hierdie tragiese voorval en alle vorme van geslagsgeweld ten sterkste,” lui die plasing. “Ons staan verenig as ’n gemeenskap. Ons sal die familie ondersteun, saamstaan in gebed en die polisie ten volle ondersteun in die ondersoek na hierdie saak,” lui die plasing.










