Misdaad

Vermoorde man (81) van Welkom Vrydag ter ruste gelê

Die 81-jarige Piet Hendriks, ’n inwoner van Welkom wat verlede week in ’n huisroof klaarblyklik verskeie houe teen die kop gekry het wat vermoedelik sy lewe geëis het, word Vrydag ter ruste gelê.

’n Man wat na bewering voorheen stukwerk vir hom gedoen het, het reeds in verband met sy dood in die hof verskyn.

Hendriks se lyk is verlede Vrydag in die kombuis van sy huis in die Doorn-woonbuurt aangetref nadat ’n vrou, wat haarself as ’n nabye familielid geïdentifiseer het, die polisie ontbied het.

Volgens sers. Palesa Thabana, polisiewoordvoerder, het Hendriks veelvuldige kopbeserings opgedoen.

André van den Berg (49) het reeds Maandag op aanklagte van moord en huisroof in die landdroshof in Welkom verskyn.

Van den Berg is Saterdag in Humewood in Gqeberha in hegtenis geneem nadat Hendriks se gesteelde Mazda 3 met behulp van ’n voertuigopsporingstelsel nagespoor is. Die inligting is met die polisie gedeel, waarna beslag op die voertuig gelê is.

’n TV-stel en selfoon wat glo aan Hendriks behoort het, is volgens die polisie ook gesteel.

Thabana sê die oorledene het volgens beskikbare inligting alleen gewoon. Die motief vir die aanval is nog onbekend en vorm deel van die polisie se ondersoek.

Die saak is tot 1 Junie uitgestel vir ’n borgtogaansoek.

CTA