Westbury-bendegeweld: Man (20) vasgetrek, drie nog soek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

’n 20-jarige man is in hegtenis geneem in verband met ’n massaskietery in Westbury in Johannesburg waartydens twee tieners dood en vyf ander gewond is.

Hy is na bewering een van vier aanvallers wat verlede Dinsdag op die tieners losgebrand het.

Volgens brig. Brenda Muridili, Gautengse polisiewoordvoerder, het die polisie se teenbende-eenheid Woensdag inligting van die misdaadintelligensie-eenheid ontvang rakende die plek waar iemand wat glo by die skietvoorval betrokke was hom bevind.

“Die teenbende-eenheid het op die inligting gereageer en die persoon se verblyfplek by ’n hoërskool in Diepkloof geïdentifiseer.

LEES OOK | 2 tieners sterf, 5 in hospitaal ná skietery in Westbury

“By hul aankoms het lede van die teenbende-eenheid die 20-jarige verdagte geïdentifiseer en hom in hegtenis geneem,” sê Muridili.

Die man sal na verwagting Vrydag in die landdroshof in Johannesburg op aanklagte van moord en poging tot moord verskyn.

Ondersoekwerk is aan die gang om die oorblywende aanvallers op te spoor.

Die vier aanvallers, van wie drie vuurwapens gehad het, het die tieners die middag te voet genader en sonder om ’n woord te rep op hulle losgebrand en daarna van die toneel gevlug, het Netwerk24 vroeër berig.

LEES OOK | Westbury-bendegeweld: ‘Ons kom vir jou,’ waarsku Masemola

Die twee slagoffers is as Tigan du Plessis (18) en Diegan Ryters (17) geïdentifiseer. Hulle is by hul aankoms by die Helen Joseph-hospitaal dood verklaar.

Die vyf oorlewendes, tussen die ouderdomme van 13 en 18 jaar, is in die hospitaal opgeneem. Twee van hulle is intussen ontslaan, het Muridili Donderdag bevestig.

Dit is vroeër berig dat die skietery oënskynlik as gevolg van twee wedywerende bendes was.

– anja.vandermerwe@media24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA