Dele van Baai al vier dae sonder krag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ziyanda Mnqokoyi, burgemeesterskomiteelid vir elektrisiteit en energie in die Nelson Mandelabaai-metro.
Ziyanda Mnqokoyi, burgemeesterskomiteelid vir elektrisiteit en energie in die Nelson Mandelabaai-metro. (Foto: Phiwokuhle Mothemela)

Die Nelson Mandelabaai (NMB)-metro staan bont om geld te kry om kragmastorings langs die Bethelsdorp-Greenbushes-132 kV-transmissielyn te herstel wat deur sterk winde omgewaai is en daartoe gelei het dat talle woonbuurte sedert Donderdag sonder elektrisiteit sit.

Volgens ’n aanbieding wat op ’n gesamentlike bedryfsvergadering gedoen is, het winde van tot 150 km/h die kragmastorings omgewaai wat kragvoorsiening na die Chetty-, Rowallan Park-, Chelsea-, Lorraine-, Arlington- en Summerstrand-substasie afgesny het.

Inwoners van Lorraine, Summerstrand, Lovemore Park, South End, Pari Park, Arlington, Chelsea, Forest Hill, Walmer, Miramar, Providentia, Sherwood, Kamma Park en Kamma Heights, Fairview en Walmer-township sit al vier dae sonder elektrisiteit.

Ziyanda Mnqokoyi burgemeesterskomiteelid vir elektrisiteit en energie, het Maandag gesê goeie vordering is al met die herstelwerk gemaak.

Volgens Mnqokoyi moes ses tydelike kragpale geplant word om die struktuur van die kraglyne te onderhou. “Die span probeer tans om die kragkabels te herstel,” sê Mnqokoyi.

Die munisipaliteit het voorheen gesê dat die herstelwerk sal tussen 10 en 14 dae duur, maar ná die vorderingsevaluering kan dit vroeër voltooi word.

Sithembiso Soyaya, woordvoerder vir die metro, het by navraag gesê dat kragtoevoer na die geraakte dele van die stad na verwagting teen Donderdag herstel sal wees.

Bernhardt Lamour, die waarnemende uitvoerende direkteur vir elektrisiteit en energie, het die koste om die transmissielyn te herstel op nagenoeg R10 miljoen geraam.

Hy het die rede vir die kragonderbreking toegedig aan vandalisme en wou nie toegee dat ’n gebrek aan onderhoud ook tot die wydverspreide kragonderbreking bygedra het nie.

Dit nadat Lance Grootboom, ’n ACDP-raadslid, foto’s van geroeste gedeeltes van die kragpale op sosiale media gedeel het toe hy in die loop van die naweek die terrein besoek het om inspeksie te doen waar die kragmaste omgewaai het.

’n Foto van ’n geroeste kragmastoring wat deur raadslid Lance Grootboom op sosiale media geplaas is.
’n Foto van ’n geroeste kragmastoring wat deur raadslid Lance Grootboom op sosiale media geplaas is. (Facebook/Raadslid Lance Grootboom)

Toe Lamour gevra is hoe gereeld instandhoudingswerk langs die transmissielyn gedoen word, het hy geantwoord dat ’n span van drie munisipale werkers gereeld kontrolebesoeke doen.

Hy het volgehou dat die kragpale nie by die geroeste gedeeltes gebreek het nie en dat boute wat die struktuur regop hou, gesteel is. Hy het gesê dit het daartoe gelei dat die kragmaste omval.

“Ons is besig om ’n kontrakteur aan te stel om al die kragpale te herstel. Die finansiële hoof en die stadsbestuurder kyk tans waar ons (geld uit die) begroting kan kry om al die kragpale te herstel.”

Lamour sê die stad se begroting van R30 miljoen is uitgeput deur die herstelwerk wat aan die Summerstrand-substasie gedoen moes word.

Oor die veiligheidsmaatreëls by die verskeie substasies sê Lamour dit gaan die stad te veel geld kos om sekuriteitswagte aan te stel om die substasies te bewaak.

Intussen het sommige skole in die geraakte gebiede leerlinge toestemming gegee om met gewone klere of hul uniforms vir liggaamlike opvoeding skool toe te kom.

NMB
NMB (Grafika24)

SPELETJIES VANDAG

CTA