Wyk 6 van die Freedom Square-township in Bloemfontein word deur rioolvuil oorstroom, sê Hardie Viviers, DA-koukusleier, in 'n nuusverklaring.
Hy sê die township het 'n historiese belangrikheid as saamkomplek vir vryheidsvegters teen apartheid, wat veerkragtigheid en eenheid simboliseer.
Die gemeenskap het hulself die "regering" van Freedom Square gedoop en dit weerspieël volgens hulle die gees van wat 'n regering in die gemeenskap moet wees.

In die vroeë 1990's was toegang tot basiese dienste soos water en sanitasie uiters beperk, maar ondanks vele uitdagings, soos laekostebehuising, bly hulle vasberade.
"Die gemeenskap het R31 miljoen in finansiering tydens die vroeë 2000's bekom onder die heropbou-en-ontwikkelingsprogram met die doel om infrastruktuur op te knap en laekostebehuisingsprojekte te bevorder."
Nou sit die gemeenskap met 'n rioolkrisis omdat kritieke infrastruktuur nie in stand gehou word nie, sê Viviers.
"Ondanks voortdurende pogings en appèlle, val die gemeenskap se pleidooie op dowe ore."

Die inwoners van Freedom Square, wat nog die stryd om vryheid onthou, worstel nou met ontnugtering omdat beloftes van 'n beter toekoms onvervuld bly.
"Ons sal egter bly druk toepas op die munisipaliteit sodat die gemeenskap geprioritiseer word. Hul krisis sal in die raad beklemtoon word."

Viviers sê inwoners van Freedom Square moenie hoop verloor nie en moet hul stem in die 2024-verkiesing uitbring.
"Dis 'n verkiesing waarin die behoeftes van die mense geprioritiseer word, menswaardigheid herstel moet word en welvaart geskep moet word in gemeenskappe soos dié van Freedom Square. Saam kan ons 'n beter Freedom Square bou en die beloftes van die verlede gestand doen en 'n beter toekoms daarstel."
Vusi Soqaga, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur, sê 'n studie is in Freedom Square gedoen om ondersoek in te stel na die rioolprobleme.
"Die ingenieur is nou aangestel en van die pype gaan vervang word. Sommige van die pype was te dun en die kapasiteit van die pype moet vergroot word."

Soqaga sê ingenieurs is ook Woensdag na Freedom Square en die Bergman Square-township om vas te stel hoekom die pype weekliks verstop raak.
"Is dit mense wat komberse, speelgoed en allerlei goed in die rioolnetwerk stort of is dit die munisipaliteit se pype wat die probleme veroorsaak?"
Itumeleng Masobeng, departementshoof vir water-en-sanitasie-infrastruktuur by die Mangaung-metro, sê die sanitasie-herstelspan fokus nou op Freedom Square sodat die sanitasieprobleme opgelos kan word.


















