Rioolprobleme: DA eis dringende ingryping vir Koppies se mense

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Carina Serfontein, DA-raadslid. Foto: Verskaf
Carina Serfontein, DA-raadslid. Foto: Verskaf

Tydelike maatreëls moet onmiddellik ingestel word om inwoners van Koppies te beskerm teen die afvalwater wat moontlik van 'n nabygeleë abattoir in die rioolstelsel beland en teen die rioolvuil wat 'n gesondheidsgevaar vir mens, dier en die omgewing inhou.

Carina Serfontein, DA-raadslid in die Ngwathe-munisipaliteit, het op 19 Junie aan Futhuli Mothamaha, die munisipale bestuurder, geskryf en dringende ingryping geëis nadat daar met 'n toesigbesoek verskeie probleme aan die lig gekom het, onder meer dat 'n pypleiding op drie plekke lek.

Die munisipaliteit dien Parys, Vredefort, Heilbron, Koppies en Edenville.

"Op my onlangse toesigbesoek het ek verskeie kommerwekkende kwessies geïdentifiseer, insluitend drie lekplekke in die pypleiding wat beduidende omgewing- en gesondheidsrisiko's inhou, veral vir gesinne wat daar naby woon," sê Serfontein.

Dít en die rioolvuil wat uitloop, veroorsaak besoedeling en 'n slegte reuk hang in die lug.

Weens die ernstige gesondheidsgevolge en die ondraaglike toestande wat inwoners moet verduur, het die DA die Fezile Dabi-distriksmunisipaliteit versoek om onmiddellik in te gryp.

Die DA dring daarop aan dat die hele pypleiding nagegaan en die beskadigde dele herstel word en dat enige moontlike afvalwater van die abattoir wat die munisipale of openbare infrastruktuur binnekom, nagespoor word. Die munisipaliteit moet inwoners presies inlig waar en wanneer hy die werk gaan doen, maar intussen moet tydelike maatreëls onmiddellik ingestel word om die inwoners te beskerm.

Mothamaha het by navraag aan Netwerk24 gesê 'n nuwe pompstasie langs die abattoir in Koppies is nog nie in bedryf of gekoppel nie. Dit is onlangs gebou om rioolvuil van die nuwe uitbreidings vier en vyf te ontvang.

'n Belangrike probleem is pompstasies wat nog met die hand bedryf word en waar skakelaars geïnstalleer moet word sodat dit outomaties kan funksioneer.

By substasie D moet 'n pomp vervang en aan 'n effens groter motor gekoppel word. Dit is reeds bestel, sê Mothamaha.

Rioolwater in Koppies. Foto: Verskaf
Rioolwater in Koppies. Foto: Verskaf

In Parys is die R59-pompstasie, wat doelbewus beskadig is, herstel en dit funksioneer weer, maar die klein pypleiding gaan steeds deur 'n groter pyp vervang word.

"Dié projek is in die ontwerp- en tenderfase en ons beoog om in September te begin," sê hy.

"Wanneer 'n mens deur die dorp gaan, sal jy 'n tenkwa opmerk wat deur die munisipaliteit gehuur is om die instandhouding van die pypleidings en netwerk te hanteer en verstoppings te verwyder waar ongewenste materiale doelbewus in die stelsel gegooi word."

In Vredefort kry die Thula-pompstasie aandag. Die stelsel wat rioolvuil versamel, is verstop en instandhoudingswerk is aan die gang. Die uitgebrande dompelpomp van 7.5 kW by die rioolaanleg word ook vervang. Die vervanging van die rioolvuil-afvoerpyp is ook in die ontwerp- en tenderfase en die projek sal na verwagting ook in September begin.

"Sowat 60% van die projek om die nywerheidspypleiding vir rioolvuil in Heilbron te vervang, is voltooi en ons is daartoe verbind om daagliks verstoppings te verwyder wat voorkom weens die grootte van die pype," sê hy.

In Edenville kan die oksidasiestelsel, wat uit twee damme bestaan, nie meer die volume hanteer nie.

"Ons het reeds voorleggings gedoen vir die moontlikheid om op lang termyn 'n kleinskaalse rioolsuiweringsaanleg te ontwikkel," sê hy.

Hy sê 'n derde dam sal intussen help om die uitdaging van die gebied die hoof te bied.

- mailto:keziah.bailey@media24.comkeziah.bailey@media24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA