Inwoners van Moreletapark in die ooste van Pretoria se geduld met Tshwane is op weens die metro se gebrek aan optrede oor die Plastic View- informele nedersetting en die misdaad- en besoedelingsprobleme wat dit skep.
Hulle wag nou al ses maande lank op 'n beloofde vergadering van belanghebbendes met inwoners van wyk 91 en wyk 47 - die twee wyke wat die meeste geraak word - om die probleme te bespreek.
Sedertdien, sê inwoners, word hul opvolg-e-posse oor dié vergadering deur metro-amptenare geïgnoreer - en dit nadat hulle reeds 'n jaar lank moes wag om deur die metro se petisiekomitee aangehoor te word.

Nico Hamman, 'n inwoner, het op 26 Februarie aan verskeie amptenare en Cilliers Brink, die uitvoerende burgemeester, geskryf. "Die belastingbetalers van wyk 91 en wyk 47 verduur konstante aanvalle op ons gemeenskap in terme van besoedeling, geraas, lugbesoedeling, misdaad en geweld, kabeldiefstal en inbrake weens Plastic View."
Hy skryf daar was al verskeie hofbevele teen die metro hieroor, maar "nie een word gehandhaaf nie".
"Daar is 'n blatante verontagsaming van verordeninge en die oppergesag van die reg.
"Dit is 186 dae sedert die petisiekomitee in Augustus 2023 vergader het, waar besluit is dat daar 'n veelparty-belanghebbendesvergadering moet wees. Niks het sedertdien gebeur nie."
Plastic View, wat agter die Moreletapark-kerk geleë is, het in Maart 2006 met 800 inwoners ontstaan. Vandag bly daar tussen 10 000 en 14 000 inwoners, onder wie 'n groot aantal immigrante.
In die 18 jaar sedertdien het inwoners gereeld hul kommer oor 'n toename in misdaad, geweld, inbrake en kabeldiefstal gelug.
Byna 20 hofbevele waarvolgens die metro onder meer verplig word om Plastic View af te baken en te omhein, toegangsbeheer toe te pas, die nedersetting te formaliseer, uitsettingsbevele te kry teen inwoners wat nie vir behuising daar kwalifiseer nie, veiligheidswagte aan te stel en alternatiewe behuising vir die groeiende plakkersprobleem te vind, is volgens die inwoners in dié tyd teen die metro verkry.
Hamman sê selfs die Tshwane-metropolisie is te bang om naby Plastic View te kom.
"Wanneer ons bel om probleme aan te meld, word ons meegedeel dat hulle in die minderheid is, bang is en nie die voertuie of mannekrag het om die onwettige bedrywighede in ons woonbuurt te polisieer nie."

Deirdré van Helsdingen, stigter van die Community Care Forum (CCF), sê niemand wil verantwoordelikheid vir Plastic View aanvaar nie.
"Almal druk hul koppe in die sand. Ons kom nêrens nie. Ons as gemeenskap voel genoeg is nou genoeg. Ons soek 'n aksieplan."
Volgens Van Helsdingen is lug- en geraasbesoedeling die grootste probleme.
"Met beurtkrag kan inwoners nie eens hul vensters oopmaak nie, want dan word hulle deur die rook oorweldig."
Sy sê omdat Plastic View nie geformaliseer is nie, word die duisende inwoners se vullis nie deur die metro verwyder nie, al behoort die grond aan die metro.
Inwoners brand die vullis om daarvan ontslae te raak.
Hulle brand ook sakke en die rubber om koperkabels.
Van Helsdingen, wat al 20 jaar in Moreletapark bly, sê hul regte as belastingbetalers word misken.
Konserwatief geraam, ontvang die metro volgens haar maandeliks sowat R15 miljoen aan eiendomsbelasting uit die gebied, "maar die metro ignoreer ons versoeke vir gesprekvoering".
Wat haar die kwaadste maak, is dat amptenare nie eens ontvangs van haar e-posse erken nie.
"Ek gaan nie ophou nie. As iemand nie nou iets doen nie, gaan daar niks oorbly nie. Ons is gatvol. Ons het genoeg gehad. Die metro moet 'n bietjie na ons begin kyk."
Lucia Venter, wat al 26 jaar in Moreletapark bly, sê die lugbesoedeling weens die verbranding van plastiek en ander stowwe, is elke oggend 'n probleem.
"Hoe kan onwettige immigrante meer regte as ons wettige, betalende inwoners hê? Dit word elke dag slegter hier."
Navrae is Maandag aan die Tshwane-metro gerig oor die situasie. Die metro se kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.















