As deel van die inisiatief tussen die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) en die departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer in die Vrystaat, word slaggate op die R717 in Philippolis in die Vrystaat tans herstel.
Werner Pretorius, DA-LPW, sê die inisiatief inkorporeer jeugdiges uit die verskillende distrikte om die slaggate te herstel.
Die departement het verlede jaar aangedui dat die pad deur die SUT-projek herstel sou word.
650 sertifikate is verlede jaar as deel van die Slaggat-uitwissingsprogram oorhandig, wat daarop gemik is om slaggate uit te wis, die jeug in die Vrystaat op te lei en te bekwaam, en om padveiligheid en die gehalte van paaie in die provinsie te verbeter.
Die inisiatief lê sterk klem op vaardigheidsopleiding en kennisdeling, en voorsien die studente van Seta-geakkrediteerde opleiding.

Die voortdurende navorsing verseker ook dat die oplossings volhoubaar is wat op lang termyn in padinstandhouding toegepas word, lui 'n verklaring wat vroeër deur die SUT uitgereik is.
Luidens 'n inskrywing deur Jens Friis op Facebook is die eerste slaggate tussen Merino Motors en die brug waar mense Philippolis vanaf Trompsburg inry, reeds opgevul.
LEES OOK | VS-regering en SUT lei 650 mense op om slaggate te vul
Prof. Alfred Ngowi, waarnemende visekanselier en prinsipaal van die SUT, het beklemtoon die gesamentlike poging tussen die regering en die SUT is 'n innoverende inisiatief en 'n potensiële keerpunt wat die benadering tot padinstandhouding in alle provinsies kan transformeer.
Intussen het Tjaart van der Walt, DA-raadslid, op Saterdag 17 Mei die konstruksiemaatskappy Raubex bedank vir die herstelwerk aan slaggate in Nelson Mandela-rylaan tussen die SUT en die N1 in Bloemfontein, onder meer.
Volgens Van der Walt se inskrywing op Facebook is 162 slaggate herstel.





















