Duisende mense oor Suid-Afrika heen het Sondag hul groen ruimtes saam met bure, familie, vriende en troeteldiere op die 10de jaarlikse Tuindag gevier.
Op balkonne en plaaswerwe en in agterplase en gemeenskapstuine het Suid-Afrikaners hul blomkrone opgesit, gekuier en die lekkerte wat hul tuine hulle bied, gevier.
Tuindag is ’n dekade gelede gekonseptualiseer deur ’n groep passievolle tuiniers wat Suid-Afrikaners wou aanmoedig om hul groen ruimtes te vier en om die eindelose terapeutiese voordele van blaarryke ruimtes te omarm.
Vanjaar het House of Chommies in Tuine, Kaapstad, wat handgemaakte bykomstighede vir honde en gemaklike drag vir mense verkoop, hul eerste Tuindag-viering aangebied wat geheel en al aan honde – en hul mense – gewy is.
Gaste het self blomkrone vir hul vierpotige vriende gemaak, ligte verversings geniet, en die dieredeelnemers is op hondevriendelike versnaperinge getrakteer.
“Tuindag weerspieël ons visie van ’n stadiger, meer doelbewuste manier van lewe – met ons honde en met mekaar,” sê Nathalie Klijn, Chommies-stigter en -hoof.
Elders, op die Babylonstoren-wynplaas wat bekend is vir sy pragtuine, het inwoners om die prys vir die beste tuin meegeding.
Jan Kanfer en sy vrou, Gerda, inwoners van Perdeskoen in die Simondium-gebied, is Sondag weer eens as wenners van die jaarlikse Perdeskoen Tuindag-kompetisie aangewys. Dié kompetisie word jaarliks vir werknemers van die Babylonstoren-landgoed aangebied.



Die Perdeskoen-cottages – Babylonstoren se plaaswerkershuise wat in ’n hoefystervorm om die landgoed se groen velde gebou is – het die naam van die jaarlikse kompetisie geïnspireer, wat in 2013 begin het.
Alle inwonende werknemers kan deelneem en die tuine word op grond van vyf kriteria beoordeel: netheid, kleur, ontwerp (soos ’n paadjie, sitarea of sosiale ruimte), gebruik vir kos of medisyne, en bome.
Kanfer sê hy dink die vierde agtereenvolgende oorwinning is te danke aan die uitleg van die tuin, en dat hy weer rommel, soos glasbottels, herwin het om in sy tuin te gebruik.
Jumat Lewies was die naaswenner en sê sy tuin wys wie hy in Christus is – “vol lewe, kleur en hoop”. “Daar is tye van droogte en tye van blom, net soos in my eie lewe. Maar deur alles bly daar groei, want God gee nuwe seisoene,” sê hy.
“My tuin is ’n stille herinnering dat selfs die kleinste saad groot kan word as dit in goeie grond geplant is. Ek geniet dit om te sien hoe God se hand in elke klein detail werk.”
Elke deelnemer aan die kompetisie ontvang ’n boom vir hul tuin. “Oor die jare was dit ongelooflik aangrypend om daardie bome te sien groei,” sê Gundula Deutschländer, Babylonstoren se meester-tuinier.
“Dit is ’n bewys dat klein dade van koestering – soos om ’n boom te plant – ’n hele gemeenskap kan transformeer.”
Tuinparty by Babylonstoren
’n Tuinparty is Sondag by Babylonstoren gehou wat deur ’n rits bekendes bygewoon is, onder wie die aktrise en aanbieder Mila Guy en haar man, die regisseur, skrywer en akteur Bennie Fourie, wat hul seuntjie, Karoo, saamgebring het.
Ook die aanbieder en model Marciel Hopkins-Lourens was daar, saam met die sakevrou en gewese Mej. SA Jo-Ann Strauss en die aktrise Beáta Bena Green.


Hopkins-Lourens se man, Handrè, en hul seuntjie, Halki, het Tuindag saam gevier en sy sê hul kleinding se teenwoordigheid was baie spesiaal. “Hy het selfs ’n klein blomkransie gehad, hulle het spesiaal vir die babas ook gemaak,” sê sy.

“Ek het op ’n plaas grootgeword, naby die natuur. Ek het as kind dae in die tuin en tussen die bome omgespeel, so ek het ’n groot liefde en waardering vir die buitelewe en al Suid-Afrika se natuurskoon.
“Tuindag bring weer ’n herinnering om natuurskoon en die wêreld om ons te waardeer, want daar is soveel stede en plekke in die wêreld wat dit glad nie het nie, of wat net mensgemaakte parke het.
“Hier is dit absoluut natuurlik,” sê Hopkins-Lourens.
Privaat tuine
Roomene Calitz en ’n vriendin het Tuindag by die huis in Rosendal, Durbanville, saam met hul kinders gevier. “Ons het tafel gedek onder ons groot boom en blomkranse gemaak,” sê Calitz. “Ons het brunch geëet onder ons boom tussen die plante, en vonkelwyn geniet.”
Dis ’n reusevoorreg om jou eie tuin te hê, sê Calitz. “Ons het vir lank ’n woonstel gebly, en vandat ons drie jaar gelede in ons huis ingetrek het, vier ons elke jaar Tuindag.”


Nicola Huddle van Hoedspruit in Limpopo en haar twee dogters, Lente (9) en Fleur (6), het “met groot opgewondenheid” opgestaan en kruieplantjies wat hulle Sondag later geplant het, voorberei.
“Die kinders het blomme en takkies gepluk vir hul blom-skeppings,” sê Huddle. “En toe maak elkeen ’n skepping met ons tuinblomme waarmee ons toe Tuindag in al sy glorie gevier het!
“Ons vier elke jaar Tuindag, ek is lief vir tuinmaak en om nuwe plante te probeer plant in die Laeveld. Ons klimaat leen homself nie sommer tot blomme nie, miskien ’n aalwyn of so, maar die pragtige blomme van die Hoëveld aard nie altyd by ons nie.
“Vanjaar was my probeerslag Scabiosa-blomme, en toe blom hulle perfek en kon aan die lewe bly in ons warm klimaat.
“Die idee om iets te plant in die grond en dit te sien groei, is alles en meer,” sê Huddle.
Tuine in die Goudstad
In Johannesburg is Tuindag gevier by Victoria Yards in die hartjie van Johannesburg, ’n ruimte van 20 000 m² gewy aan kuns en gemeenskapsbetrokkenheid.
Deelnemers het ’n toer van die tuin gekry, blomkrone gemaak, en geëet en drink saam met mede-plantliefhebbers.
Siyabonga Ndlangamandla, stedelike boer en Vriend van Tuindag, het die geleentheid aangebied. Ndlangamandla het in KwaZulu-Natal grootgeword en by sy oupa van plante, groente en tradisionele genesing geleer.
Vandag bestuur hy die plaas Makers Valley, ’n samewerkende stedelike boerdery-inisiatief in Johannesburg. “Tuindag gaan oor die viering van groen ruimtes en die vreugde wat dit in ons lewens bring,” sê Ndlangamandla.
“By Victoria Yards het ons tuine en argitektuur verken en gesels oor blomme, groente en stories uit ons eie tuin-ervarings.”
Tuindag word volgende jaar op Sondag 18 Oktober gevier.


















