Woensdag vroegoggend het natuurbewaarders hul vere reggeskud om ’n nuwe bloukraanvoël in die Austin Roberts-voëlreservaat (AR) in Nieuw Muckleneuk, Pretoria, te verwelkom.
Die majestueuse voël is die vierde wat hom in die reservaat tuismaak sedert 2022 toe verteenwoordigers van Tshwane-natuurbewaring (TN) ’n nuwe broeipaar van die Roodeplaatdam hier hervestig het.
Die paar is na die reservaat gebring nadat die vorige bloukraanvoëls wat die park hul tuiste genoem het, gevrek het. In November 2024 het hul eerste kuiken uitgebroei.
“Dit is vir ons lekker om te sien dat die jong kuiken ook nou ’n maat het en hopelik sien ons eendag ’n eier in hul nes,” vertel Hencke Marais, TN-natuurbewaarder, terwyl hy en sy kollega, Karin Coetzee, die vervoerhok van die nuwe inwoner se deurtjie oopskuif.


“Hierdie bloukraanvoël kom van ’n hoewe naby die Wonderboom-lughawe waar hy gebly het totdat nuwe eienaars hom aan die park geskenk het,” sê hy. “Hy was deel van ’n broeipaar totdat die wyfie gevang is en die arme man was toe alleen.”
Nou kan hy weer vlerksleep.
Die bloukraanvoël is Suid-Afrika se nasionale voël en natuurbewaarders is baie opgewonde oor die potensiaal van ’n moontlike nuwe broeipaar in die hartjie van die Jakarandastad.
Die eintlike helde van hierdie verhaal, vertel Marais, is die eienaars van die Blue Crane (BC)-restaurant wat in die reservaat geleë is.


Nadat die oorspronklike eienaars hul hoewe aan Karen Büchling verkoop het, het sy besef dat die voël dalk ’n beter lewe elders sou hê en het sy die restaurant genader om hom aan hulle te skenk.
Daarna het Johan Billman, mede-eienaar van die restaurant, met TN kontak gemaak en die proses is aan die gang gesit.
Marais verduidelik die proses is redelik kompleks en dit kan soms maande duur om ’n voël te hervestig.
“Ons het vier maande gelede met die proses begin en kon gelukkig baie steun op die hulp van Rynette Coetzee van natuurbewaring wat dadelik hand bygesit het om die permitte en wetlike aspekte af te handel.”
Noudat die skuif afgehandel is, word daar vir hom ’n paspoort geskep, met al sy DNS-besonderhede op.

“Hierdie inligting wat deur natuurbewaring ingewin word, is deel van die groter bewaringsprentjie om ’n behoorlike databasis van die voëls te kan bou,” verduidelik Marais.
“Dit is hoofsaaklik om smokkelhandel te kan keer. Baie mense steel eiers wat hulle in broeikaste hou en uitbroei. Hulle dryf dan later daarmee handel asof dit van hul eie broeipaar kom.”
Met hierdie databasis kan natuurbewaring egter bewys watter voëls bloedverwant is en beter kontrole oor die teël van en handel in die bedreigde voëls toepas.

















