Hoewel die Vaaldam en ander belangrike damme se watervlak die afgelope week effens gedaal het, is dit steeds voldoende.
Die departement van water en sanitasie (DWS) se jongste verslag oor damvlakke wys die Vaaldam op die grens van Gauteng en die Vrystaat is nou 103,6% vol teenoor 105% verlede week.
Die dam se vlak word doelbewus bo volle kapasiteit gehou om voldoende berging tot middel-lente te verseker totdat die somerreënseisoen eindelik sy buiging maak, lui ’n verklaring. Die benadering vorm deel van die DWS se watervoorsiening-bedryfstrategie en het ten doel om veerkragtigheid vir moontlike droogtetoestande te verseker.
Die geïntegreerde Vaalrivierstelsel, wat grootliks Gauteng en omliggende provinsies van water voorsien, bly stabiel, al het sy watervlak effens van 98,7% tot 98% gedaal.
Die Grootdraaidam naby Standerton in Mpumalanga se vlak het van 96,6% na 95,4% teruggesak, terwyl die Sterkfonteindam naby Harrismith in die Vrystaat nou 99% vol is. Die vlak van Bloemhofdam op die grens van Noordwes en die Vrystaat het van 101,2% tot 100,5% gedaal.
In die Lesotho Hoogland-waterskema het die Katsedam ’n rapsie voller geraak – van 91,4% tot 91,5% – terwyl die Mohaledam se vlak van 90,4% na 88,3% gedaal het.
Die departement verwag bonormale reënval in die oostelike en suidoostelike dele van die land tot middel-lente. Ander streke sal na verwagting minder reën as gewoonlik kry.
Die DWS sê hy het by kenners aangeklop om omvattende planne in werking te stel sou daar vloede plaasvind. Dit sluit in beter samewerking met nooddienste en die insameling van hidrologiese data.





















