“Ons is orraait, maar die bakkie is minder.”
So sê Willie Viljoen nadat ’n witrenoster, wat sowat 15 jaar oud geskat word, Vrydagmiddag vir groot skade aan sy Toyota Hilux-bakkie gesorg het oomblikke nadat die renoster op ’n plaas in die Noord-Kaap afgelaai is.
Viljoen, eienaar van Willie Viljoen Wildbedryf, het die renoster vroeër die dag vanuit Thabazimbi in Limpopo vervoer.
Soos hy al “honderde kere” vantevore gemaak het wanneer hy wild aflaai, het hy agter op die bakkie of wildwaentjie se tralies bly staan. Maar dié keer moes hy toekyk hoe die renoster, in plaas van wegstap en sy nuwe omgewing verken, eers met sy bakkie afreken.
“Die renoster was dalk ’n bietjie gefrustreer oor die lang dag op die pad en het sy frustrasie op die eerste naaste ding uitgehaal. Dit was ongelukkig die bakkie,” sê Viljoen oor die renoster se buitengewone optrede.
Hoewel die plaaseienaar met sy Cruiser-bakkie toeter geblaas het in die hoop om die renoster se aandag af te trek, sê Viljoen dit was duidelik dat die renoster net vir sy bakkie lus was.

Die voorval is deur Lize Marais, Viljoen se meisie, afgeneem, wat saam met hom agter op die bakkie was. In die video word gehoor hoe sy en Viljoen kalm met mekaar praat en by mekaar seker maak hulle hou styf genoeg vas. Dít terwyl die renoster behoorlik die bakkie se enjinkap gaffel en effens oplig. In ’n stadium word Marais gehoor wat sê, “jammer oor jou bakkie”, waarna Viljoen eenvoudig antwoord, “dis oukei”.
Viljoen erken dit was nie ’n lekker ervaring nie, maar sê omdat hy dié werk al sy lewe lank doen, is hy gewoond aan diere wat kan reageer en aanvaar daar is altyd risiko’s in dié bedryf.
Deur sy onderneming word alle wildverwante dienste gelewer, insluitend die vang, vervoer en bemark van diere. Hy het reeds van skooldae af saam met sy pa, Christoff, in die bedryf gewerk. Sy pa het 46 jaar se ervaring, terwyl Viljoen die afgelope 13 jaar voltyds in die bedryf is.
Uit hul ervaring weet hulle swartrenosters is geneig om toerusting te beskadig, en juis daarom gebruik hy nie sy bakkie en wildwa vir swartrenosters nie.

Hy onthou ’n witrenoster het wel sy pa se bakkie sowat 20 jaar gelede ook kort nadat hy afgelaai is effens “gestreel” en die voorste plastiekbuffer gebreek, maar andersins is dié soort gedrag totaal buite die norm vir ’n witrenoster, sê hy.
Hy beraam intussen reeds alternatiewe planne oor hoe om ’n soortgelyke situasie in die toekoms te voorkom en sê ondanks dié voorval bly dit een van die beste beroepe om te volg.
“Ons is orraait, niemand is beseer nie, dis net die bakkie wat beseer is. Dié soort goed is deel van die beroep. Ons is baie lief vir diere en dit bly ’n groot voorreg om met hulle te kan werk.”




















