Omgewing

Kwaai haelstorm tref Warden

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Kwaai haelstorm het Warden Woensdag getref, terwyl ’n woeste donderbui oor Parys uitgesak het.
’n Kwaai haelstorm het Warden Woensdag getref, terwyl ’n woeste donderbui oor Parys uitgesak het. (Foto: Human Muller)

’n Kwaai haelstorm het Warden in die Vrystaat Woensdag laatmiddag getref, terwyl ’n woeste donderbui op Erfenisdag oor Parys uitgesak het.

Ys van die yslike haelstorm was Donderdag omstreeks 09:30 steeds sigbaar op die plaas Majuba in die Warden-distrik.

Dit was ’n erge wind en haelstorm, wat hulle nog nooit vantevore beleef het nie, sê Human Muller van die plaas Vadersgift in die Warden-distrik.

Muller sê die haelbui het tussen omstreeks 16:00 en 16:30 uitgesak. Hoewel daar skade is, “is daar darem geen lewensverliese nie”, sê hy.

’n Erge haelbui het Woensdagmiddag in die Warden-distrik uitgesak.
’n Erge haelbui het Woensdagmiddag in die Warden-distrik uitgesak. (Foto: Tewie Wessels)
Die plaas Vadersgift in die Warden-distrik, waar ’n haelbui Woensdag uitgesak het.
Die plaas Vadersgift in die Warden-distrik, waar ’n haelbui Woensdag uitgesak het. (Foto: Human Muller)

Hy sê dat hulle op die oomblik nie gesaaides het wat deur die hael weggeslaan kon word nie.

Volgens Muller het die dak van een van sy werkers se huise in die slag gebly, terwyl hy skade aan ’n afdak opgedoen het. Hy sê verder is dit maar bome en dié se takke wat deur die haelbui geraak is.

Tewie Wessels van die plaas Majuba in die Warden-distrik sê hy was op die landerye by ’n ander plaas doenig toe dit vir hom lyk asof dit verskriklik op Majuba hael. “Dit was wit.”

Volgens Wessels het hy skade aan sy koring.

“Dit was regtig dik (die lae ys), eintlik skrikwekkend. Dit was die ergste hael wat ek nog in my lewe gesien. Teen 09:30 het dit steeds gelê.”

Hy sê sy broer Sampie Wessels se kuilvoer-seil is stukkend geslaan.

“Dit gee jou nogal ’n idee van hoe groot die haelkorrels was.”

Hy sê die haelkorrels was eers baie groot, soos gholfballe, maar het mettertyd baie fyn geraak.

In ’n plasing op sy Facebook-blad beskryf hy die storm as wild, wat sy middelste afvoergeut verstop en sy huis onder water gelaat het. “Boer bly nou maar eenmaal vol opwinding – goed of sleg.”

Luidens ’n inskrywing op Reënval in SA se Facebook-blad het ’n hewige bui wat met hael gepaardgegaan het ook Woensdagmiddag in Kroonstad uitgesak, terwyl reën, hael en donderweer in Parys gewoed het.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM