L’Agulhas: Raaisel oor 24 dooie voëls

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die gebied in L’Agulhas waar die dooie voëls gevind is.
Die gebied in L’Agulhas waar die dooie voëls gevind is. (Foto: Verskaf)

Waarskuwing: Dié berig bevat grafiese beskrywings en beeldmateriaal wat sensitiewe lesers kan ontstel.

Owerhede krap kop nadat die karkasse van minstens 24 dooie voëls van verskillende spesies, soos die krities bedreigde brilpikkewyn, in ’n beboste gebied in die kusdorp L’Agulhas gevind is.

’n Lid van die publiek het verlede Maandag op die toneel afgekom in die omgewing van Jessiestraat en die bewaringsorganisasie The Freddie Conservation Project daaroor ingelig.

Lede van die organisasie is na die toneel. Volgens hulle is die karkasse meestal dié van seevoëls, maar daar was ook uile, valke en selfs ’n rot. Volgens die organisasie is die voorval by CapeNature en die polisie aangemeld.

Omgewingsbewustes vermoed dat die karkasse almal saam onwettig gestort is deur iemand wat moontlik taksidermie beoefen. Die dooie voëls en rot is moontlik weggegooi toe die gebied tydens onlangse storms vyf dae lank sonder krag was. Van die karkasse was glo ook opgekook.

Dis nog onbekend wat die oorsaak van die voëls se dood is of presies waar hulle almal vandaan kom. Dit blyk ook glo nie ’n geïsoleerde voorval te wees nie omdat ou beendere ook in die gebied gevind is, wat daarop dui dat ander karkasse al vantevore hier gestort is.

’n Dooie brilpikkewyn waar dit gevind is.
’n Dooie brilpikkewyn waar dit gevind is. (Foto: Verskaf)

Luke Folb, Cape-Nature-woordvoerder, het Dinsdag gesê die saak word ondersoek. “24 voëlkarkasse, insluitend brilpikkewyne, kormorante en tarentale, is in ’n bos in die binneland, nie langs die kuslyn nie, gevind.”

Volgens Folb was amptenare van Sanparke, die Overberg-distriksmunisipaliteit en die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling op die toneel. Monsters is vir toetsing versamel, terwyl die meeste van die karkasse in die gebied begrawe is (CapeNature was nie self op die toneel nie, maar is oor alles ingelig).

Folb sê CapeNature het sedertdien ’n ondersoekdossier by die polisie geopen vir verdere ondersoek. “Weens die verskeidenheid van spesies wat op die perseel gevind is, insluitend spesies wat nie natuurlik met die gebied geassosieer word nie, kan ons nie in dié stadium bespiegel oor die omstandighede van die voorval of die oorsaak van dood nie.

“CapeNature sal die uitslag van die ondersoek en toetsprosesse afwag voordat enige verdere stappe gedoen word,” sê Folb.

The Freddie Conservation Project waarsku verder dat dooie voëls nooit net bloot weggegooi moet word nie. Die karkasse moet aangemeld en behoorlik begrawe of deur middel van die korrekte kanale mee weggedoen word. Omdat voëlgriep tans ’n ernstige bedreiging inhou, kan onwettige stortings soos dít volgens die bewaringsorganisasie bydra tot die verspreiding van infeksie na ander voëls asook knaagdiere, troeteldiere en moontlik ander wildlewe. – jkruger@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA