Enigeen wat sonder die nodige permit met dele van 'n uitgespoelde walviskarkas in Gqeberha in hul besit betrap word, kan vervolg word.
Dit is die waarskuwing van dr. Greg Hofmeyr, 'n mariene bioloog verbonde aan die Bayworld-oseanarium in Gqeberha, nadat dit blyk gemeenskapslede het dele van die karkas verwyder.
Die karkas van 'n bultrugwalvis is Maandag op die rotse by Willows Park Gate 5 naby Schoenmakerskop aangetref. Voorheen is berig die karkas was een van drie bultrugwalvisse wat Maandag aan die Oos-Kaapse kus uitgespoel het.
Beeldmateriaal is op sosiale media geplaas waar gesien kan word hoe mense met 'n kapmes en kettingsaag op die walviskarkas in Gqeberha toesak.

Gedurende Netwerk24 se besoek aan die toneel is gesien dat die walvis se stert afgekap en twee vinne verwyder is. Een van die vinne is sowat 100 m verder naby die parkeergebied by die strand aangetref.
Polisielede was Woensdagmiddag ook op die toneel om ondersoek in te stel na die voorval.
Die vermoede is dat die karkas vir moetie gestroop word.
Hofmeyr waarsku egter dit is ingevolge die Wet op Mariene Lewende Hulpbronne onwettig om dele van 'n karkas te verwyder en dit sonder 'n permit te besit.

Kommer bestaan ook dat mense dele van die karkas sal gebruik terwyl dit nog onseker is wat die oorsaak van die walvis se vrekte was en of dit enige gifstowwe ingekry het.
Lede van Bayworld sal binnekort monsters van die karkas neem vir verdere ontleding. Hofmeyr sê hulle beskik oor 'n permit hiervoor en volg die nodige voorgeskrewe veiligheidsmaatreëls.
Die Nelson Mandelabaai-metro is vir kommentaar genader oor die verwydering van die karkas.



















