Noord-Kapenaars kan die naweek uitsien na heerlike lentereënweer wat wyd oor die provinsie voorspel word.
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) behoort veral die noordelike en sentrale deel van die provinsie van Vrydagmiddag af lekker reën en donderstorms te ervaar.
In die verre suide, soos die Hantam en Roggeveld, sal min tot geen reën val nie, maar dorpe soos Upington aan die Oranjerivier en Brandvlei in die Boesmanland kan volgens die voorspelling verwag om tot 17 mm reën te kry.
De Aar in die Bo-Karoo kan uitsien na tussen 8 mm en 12 mm reën tussen Saterdag en Sondag.
Die moontlikheid van reën is veral welkom vir veeboere wie se weiding ná die winter sal baat vind by die reën.
Die SAWD sê inwoners van die provinsie kan matige tot hoë temperature van in die lae 20 °C tot in die lae 30 °C te wagte wees.
Geen ernstige waarskuwings vir die gebied is uitgereik nie.
Hoewel daar nie ’n moontlikheid vir hoë brandgevaar en wegholveldbrande uitgereik is nie, bly brandspanne in gebiede met ’n hoë brandgevaar, soos Kathu, Kuruman, Postmasburg en Daniëlskuil, op hul hoede weens die gevaar van brande tydens donderstorms.





















