Omgewing

Miljoene rande se skade in Welkom nadat tornado verwoesting saai

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Miljoene rande se skade is in Welkom in die Vrystaat aangerig nadat 'n tornado dié stad Sondag getref en verwoesting gesaai het. Intussen stroom versekeringseise in en opruimingswerk is oral aan die gang.

Verskeie ondernemings en instansies het erg deurgeloop, onder meer die Matjhabeng-munisipaliteit se brandweerstasie in Volksweg waarvan die dak afgeruk is, die Lejweleputswa-rampbestuursentrum reg langsaan, die Unitas Secondary School en ondernemings soos Freshbake, Transito Cash & Carry, 'n Sasol-vulstasie, die plaaslike Isuzu-agentskap en Galison, wat treinspoorwaens vir die buiteland vervaardig, om 'n paar te noem.

Só lyk dit by die brandweerstasie in Welkom waar dele van die dak afgeruk is.  Foto: Facebook
Só lyk dit by die brandweerstasie in Welkom waar dele van die dak afgeruk is. Foto: Facebook

Dit is bo en behalwe skade aan tientalle huise en meenthuise.

Wayne Venter van die Suid-Afrikaanse Weerdiens het intussen bevestig dat dit 'n klas F1-tornado was wat Welkom getref het.

Francois Klaassen, assistentbrandweerhoof, sê die tornado het die brandweerstasie Sondag omstreeks 12:40 getref.

"Die oostelike vleuel van die brandweerstasie se dak is afgewaai en die deure is uitgeruk, maar gelukkig is daar minimale skade aan die voertuie aangerig."

Hy sê hulle raam die skade aan die brandweerstasie op tussen R5 miljoen en R6 miljoen.

"Ons is ook besig om 'n lys op te stel van al die eiendom in Welkom wat geaffekteer is."

René Steyn, prokureur in Welkom en DA-wyksraadslid van wyk 32, een van die woonbuurte wat erg getref is, sê dit is beslis miljoene rande se skade wat aangerig is.

"Wyk 32 en 27 is die hardste getref. Daar is ook groot skade aan fabrieke/ondernemings in die nywerheidsgebied aangerig.

"Daar was Sondag ná die tornado ook lang kragonderbrekings op plekke," sê sy.

Sy sê hulle moes in 'n stadium die premierskantoor van Maqueen Letsoha-Mathae bel om te vra dat rampbestuur van die provinsie se kant af toegepas word omdat die Matjhabeng-munisipaliteit nie in staat was om nooddienste en rampbestuur te lewer nie aangesien sy eie brandweerstasie en rampbestuursentrum ook geraak is en van die telefone buite werking was.

"By Transito is sinkplate van die dak afgeruk waarvan sommige op 'n motor geval het. Verfrommelde sinkplate en omgewaaide strukture het orals op die terrein gelê. Dele van die Unitas Secondary School se dak het ook afgewaai."

By HTS Welkom is bome ontwortel en parkeer-afdakke beskadig.

Sy sê telefoonlyne en kragvoorsiening is meestal intussen herstel.

Tonele van verwoesting is orals in Welkom sigbaar. Foto: Facebook
Tonele van verwoesting is orals in Welkom sigbaar. Foto: Facebook
Nog 'n foto wat die skade in Welkom wys. Foto: Facebook
Nog 'n foto wat die skade in Welkom wys. Foto: Facebook
Só lyk dit waar dakke van huise in Welkom afgewaai is. Foto: Facebook
Só lyk dit waar dakke van huise in Welkom afgewaai is. Foto: Facebook
Nog 'n foto van die skade wat die tornado aan die brandweerstasie in Welkom aangerig het. Foto: Facebook
Nog 'n foto van die skade wat die tornado aan die brandweerstasie in Welkom aangerig het. Foto: Facebook
Huise se dakke is afgeruk deur die tornado wat Welkom Sondag getref het. Foto: Facebook
Huise se dakke is afgeruk deur die tornado wat Welkom Sondag getref het. Foto: Facebook

Jakes Jooste, eienaar van Freshbake, sê die dak van sy onderneming se administrasieafdeling is afgeruk en die plafonne is ook uitgeruk.

"Van Sondag om 15:00 tot Maandag om 01:00 het mense kom werk om alles weer veilig te maak sodat ons in produksie kan bly."

Hy sê hy reken die skade beloop sowat R2,5 miljoen, met toerusting soos rekenaars en fotokopieërders wat flenters is, asook oproldeure.

"Van die verkoelingswaens het omgewaai en ruite is ook uit vensters by die store geruk.

"Herstelwerk by ons onderneming behoort teen Saterdag en op die laaste volgende week Woensdag voltooi te wees."

Jooste sê hy het reeds video's en foto's van die skade aan sy versekeraar gestuur en dat inwoners oral besig is om vir hul skade te eis.

Hy het bygevoeg dat dit hom omkrap dat "nie een ambulans of polisievoertuig gedurende die hele ramp in Welkom te siene was nie".

Tshediso Tlali, woordvoerder van die uitvoerende burgemeester, Thanduxolo Khalipha, het in 'n verklaring gesê die munisipaliteit neem met diepe kommer kennis van die enorme skade wat aan belangrike infrastruktuur, skole, sakeondernemings en huise aangerig is.

"Nooddiensspanne is ontplooi om die skade te help bepaal en om inwoners by te staan. Huiseienaars wat skade gely het, word gevra om dit by raadslede aan te meld."

Tlali sê die munisipaliteit is ook bewus van opportunistiese misdadigers wat die geleentheid wil misbruik om hulself te verryk en van die sink en staal wat rondlê, steel.

"Indien hulle gevang word, sal daar geen genade wees nie," het hy gewaarsku.

Zimasa Mbewu, woordvoerder van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, sê twee mense is beseer en hospitaal toe geneem, maar sover sy weet, is hulle nie ernstig beseer nie.

Kyk hier en hier na video's op Facebook van die tornado-skade.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM