Omgewing

Takke, bakstene vlieg, dakke afgeruk toe ‘tornado’ noorde van Pta tref

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die plafon in Johan Liversage en sy vrou, Charlene, se woonstel wat ineengestort het. Foto: Deaan Vivier
Die plafon in Johan Liversage en sy vrou, Charlene, se woonstel wat ineengestort het. Foto: Deaan Vivier

Takke en bakstene het deur die lug getrek, bome is ontwortel en dakke is van geboue afgeruk toe 'n soort tornado, bekend as 'n hoos, Dinsdagmiddag die Montana-omgewing in die noorde van Pretoria getref het.

Die hoos is net voor 17:00 aangemeld en onder meer twee woonstelkomplekse, 'n skool en motorhandelaarskappe het deurgeloop.

Verskeie inwoners het Woensdag by Netwerk24 se besoek aan die omgewing gesê dit het geklink soos " 'n erge haelstorm wat binne etlike sekondes verby was".

Die dak van die Caligro Tots Academy and Private Primary School in Ansoweg in Montana nadat 'n sterk wind dit afgeruk het. Foto: Deaan Vivier
Die dak van die Caligro Tots Academy and Private Primary School in Ansoweg in Montana nadat 'n sterk wind dit afgeruk het. Foto: Deaan Vivier

"Die verwoesting wat egter aangerig is, was allesbehalwe van 'n haelstorm. Toe ons buite kom en die skade sien, het ons besef dat dit iets ergers as 'n haelstorm was," sê Rudolph van der Merwe, bestuurder van die Caligro Tots Academy and Private Primary School in Ansoweg in Montana.

Dié skool se staaldak is soos 'n blikkie se deksel van die gebou afgepeul. Die klaskamers is oopgevlek, wat nou onder water staan weens die reën wat van Dinsdag af nog nie een keer bes gegee het nie. Ses bome op die skoolterrein is ook ontwortel.

"Dit was eers die wind en toe die reën wat erg begin optel het. Toe ek deur die venster na buite kyk, het die reëndruppels in 'n horisontale rigting gewaai. Daarna het die krag afgegaan en toe het ons dak afgewaai," sê Van der Merwe

"Die volgende oomblik het takke horisontaal verby die klaskamers deur die lug getrek."

Op die skoolterrein het bakstene gelê wat van die gebou afgebreek, deur die wind opgetel en sowat 100 m verder weer op die grond geval het, sê hy.

Van die skade wat die hoos by die Sand Piper-woonstelkompleks in Montana aangerig het. Foto: Deaan Vivier
Van die skade wat die hoos by die Sand Piper-woonstelkompleks in Montana aangerig het. Foto: Deaan Vivier

Inwoners wat op die boonste verdiepings van die Sandpiper-woonstelkompleks in Vedastraat woon, het Woensdagoggend nog gespook om van hul kosbare besittings uit hul verspoelde woonstelle te red.

Dié inwoners moes Dinsdagmiddag inderhaas ander heenkome soek nadat hul woonstelle se dakke afgewaai en plafonne ineengestort het. Met die dakke wat nou oop is, reën dit direk in die woonstelle in.

Rose Mmualefe besig om van haar besittings uit haar verspoelde woonstel te red. Foto: Deaan Vivier
Rose Mmualefe besig om van haar besittings uit haar verspoelde woonstel te red. Foto: Deaan Vivier

"Dis hartseer om jou huis so te sien," sê Rose Mmualefe, 'n inwoner wat saam met haar drie minderjarige kinders sak en pak in 'n ander woonstel moes intrek nadat hul plafon Dinsdagaand ineengestort het.

"Dit het geklink soos hael wat hard teen die vensters skiet. Ek was bang die vensters breek. Die wind het daarna opgesteek en die dak afgewaai."

Die plafon in Johan Liversage en sy vrou, Charlene, se woonstel wat ineengestort het. Foto: Deaan Vivier
Die plafon in Johan Liversage en sy vrou, Charlene, se woonstel wat ineengestort het. Foto: Deaan Vivier

In die woonstel langsaan het die plafon Woensdagoggend ineengestort. Johan Liversage en sy ma, Mari, was besig om water uit die woonstel te vee. Johan en sy vrou, Charlene, het hier gewoon en gaan nou tydelik by familie intrek.

"Wat kan 'n mens sê. Woorde is op. Ons lewe is ontwrig," sê Johan.

Johan Liversage en sy ma, Mari, probeer die woonstel opruim nadat die dak afgewaai en die plafon ineengestort het. Foto: Deaan Vivier
Johan Liversage en sy ma, Mari, probeer die woonstel opruim nadat die dak afgewaai en die plafon ineengestort het. Foto: Deaan Vivier

Kayla da Silva was besig om die woonstel waar sy, haar ma, Veronica Curry, en suster, Isabella da Silva, byna vier jaar lank gewoon het, te ontruim.

"Ons het baklei om hier te bly omdat ons so lekker bly. Dis nou hartseer om ons goed te pak en te gaan, sê Kayla.

Samantha Pretorius, 'n inwoner van die Roodeplaat-gebied wat in die omgewing gery het waar die hoos getref het, sê sy het dit "met 'n haardikte misgeloop".

"Hy het reg agter my gewoed. Takke en klippe het motors om my getref. Asblikke het oor die paaie gewaai. Motoriste het toeters gedruk en mense het gegil. Dit het gevoel soos iets uit 'n fliek. Dit was scary," sê Pretorius.

Die skade nadat ‘n boom op die perseel van die Jada Motors-motorhandelaar in Montana ontwortel is. Foto: Deaan Vivier
Die skade nadat ‘n boom op die perseel van die Jada Motors-motorhandelaar in Montana ontwortel is. Foto: Deaan Vivier

Puseletso Mofokeng, senior weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), het aan Netwerk24 bevestig dat dit wel 'n hoos was en nie 'n tornado nie.

Mofokeng sê waar 'n tornado in 'n wolk vorm en af na die grond beweeg, vorm 'n hoos op die grond en beweeg op.

Annette Botha, Vox Weather-weervoorspeller, sê hoewel 'n hoos swakker as 'n tornado is, kan dit steeds groot skade aanrig, maar gewoonlik in 'n kleiner omgewing.

‘n Trampolien en sinkplate lê op 'n perseel in Montana nadat dit bo-oor ‘n muur gewaai is. Foto: Deaan Vivier
‘n Trampolien en sinkplate lê op 'n perseel in Montana nadat dit bo-oor ‘n muur gewaai is. Foto: Deaan Vivier
'n Boom in Rooibosstraat in Montana wat gebreek het. Die beskadigde dak van die La Bonne Vie-woonkompleks kan ook gesien word. Foto: Deaan Vivier
'n Boom in Rooibosstraat in Montana wat gebreek het. Die beskadigde dak van die La Bonne Vie-woonkompleks kan ook gesien word. Foto: Deaan Vivier

anja.vandermerwe@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM