Hoewel toestande bevorderlik vir die verspreiding van wegholveldbrande steeds in die Vrystaat heers, sal die reënbuie wat vandeesweek vir die provinsie voorspel word tot ’n aansienliker kleiner risiko lei as wat die afgelope twee weke die geval was.
So sê Johann (Savage) Breytenbach, bestuurder van die Vrystaatse Sambreelbrandbeskermingsvereniging (FSUFPA).
“Hoe meer dit reën en hoe meer vogtigheid daar is, hoe minder is die moontlike probleme.”
Breytenbach sê ondanks winderige toestande, veral die afgelope Vrydag, is daar die naweek geen brande in die Vrystaat aangemeld wat buite beheer gewoed het nie.
Volgens hom was daar in die verlede groot probleme in vergelykbare omstandighede.
Die Vrystaat beleef steeds ’n ondergemiddelde brandseisoen.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het vir Maandag ’n geel vlak 2-waarskuwing oor hewige donderstorms vir die Oos-Vrystaat uitgereik, en vir Dinsdag in die oostelike deel van die provinsie en langs die Lesotho-grens.
Dit kan tot sterk wind, groot hoeveelhede klein haelkorrels en oorstromings lei.
Muneiwa Singo, weervoorspeller van die SAWD in Bloemfontein, sê geïsoleerde en verspreide buie en donderbuie word vandeesweek vir die Vrystaat voorspel.
Sy sê geïsoleerde buie is Maandag vir die grootste deel van die provinsie voorspel, terwyl verspreide buie meestal in die oostelike dele en langs die grens met Lesotho verwag word.
Nie reën op dié dae verwag
Verspreide buie word Dinsdag verwag, en enkele buie in die westelike dele.
Die provinsie het Woensdag ’n 30%-kans op reën, meestal in die verre weste en langs die grens.
Daar word nie vir Donderdag, Vrydag of Saterdag reën voorspel nie.
Volgens Singo word ’n warm tot baie warm week vir die Vrystaat en Noord-Kaap voorspel.
Minimum temperature van tussen 9 °C en 16 °C word in albei provinsies verwag, met die kwik wat in die Vrystaat tot tussen 25 °C en 32 °C en in die Noord-Kaap tot tussen 26 °C en 33 °C kan styg.
Singo sê dit sal ’n winderige week vir die twee provinsies wees, met ’n hoë risiko vir brande tot minstens Woensdag op plekke in die Noord-Kaap en Vrystaat.
Geïsoleerde buie en donderbuie word Maandag in die sentrale en suidelike dele van die Noord-Kaap verwag en Dinsdag in die oostelike en suidoostelike dele van die provinsie.
Geen reën word vir Woensdag, Donderdag en Sondag in die Noord-Kaap verwag nie, maar geïsoleerde buie word wel vir Vrydag en Saterdag in die westelike dele verwag.
5506




















