Skaars dwerg-nguni in Somerset-Wes gebore

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Vergelegen se dwerg-nguni-kalfie is nog sonder ’n naam, sê Eben Olderwagen, Vergelegen se omgewingsbestuurder.
Vergelegen se dwerg-nguni-kalfie is nog sonder ’n naam, sê Eben Olderwagen, Vergelegen se omgewingsbestuurder. (Foto: Vergelegen)

Die Vergelegen-wynlandgoed in Somerset-Wes vier “ ’n merkwaardige seisoen van nuwe lewe” met hul mees ongewone nuweling, ’n skaars dwerg-nguni-kalfie.

Toe die kalfie op 26 Desember gebore is, was hy nie veel kleiner as ander pasgebore kalwers nie, maar soos hy gegroei het, het dit duidelik geword dat hy baie stadiger as die ander groei, het Eben Olderwagen, Vergelegen se omgewingsbestuurder, aan Netwerk24 gesê.

Hulle vermoed dat dié bruin-en-wit gevlekte bulletjie nie hoër as knie- of middellyfhoogte sal groei nie.

“Die twee groot tekens van dwerggroei is dat jy van kleins af kan sien dat die bene korter en stewiger is en die kop en gesig korter en meer kompak,” verduidelik hy.

“Wêreldwyd is ek nie bewus van hoe skaars hulle is nie, maar in die byna 10 jaar dat ek by die kudde op Vergelegen betrokke is, is dit slegs die tweede keer in ’n algemene kudde van ongeveer 400 diere dat ons dit teëgekom het.”

Vergelegen het luidens ’n verklaring ’n indrukwekkende 133 nguni-kalwers tussen Julie en September verlede jaar verwelkom, wat hul nguni-kudde op ongeveer 450 diere te staan bring.

Olderwagen sê dat hulle nie bewus is van dwerggene by die kalfie se ouers nie en vermoed dat dit bloot ’n spontane genetiese voorkoms is. Hulle gaan egter nie met dié kalfie teel nie omdat dwerg-nguni-beeste ’n baie korter lewensduur as die gewonde beeste het. Hulle leef ongeveer vier jaar teenoor die normale 20 jaar.

Die kalfie het gelukkig geen spesiale sorgvereistes of dieetbehoeftes nie en drink tans melk van sy ma voordat hy stadig sal begin om ook gras en ander plantegroei te vreet.

“Sy ma is baie beskermend en monitor enigiemand wat naderkom noukeurig,” sê Olderwagen.

“Ongelukkig het ons nog nie aan ’n naam vir die kalfie gedink nie, maar ons kan ons sosiale media gebruik vir openbare voorstelle.”

Benewens dié kalfie verwag die wynlandgoed verdere opwinding aangesien twee van hul Rau-kwaggamerries hoogdragtig is en na verwagte enige tyd sal vul.

Een van die dragtige Rau-kwaggamerries by Vergelegen.
Een van die dragtige Rau-kwaggamerries by Vergelegen. (Foto: Vergelegen)

Vergelegen vorm deel van ’n bewaringsinisiatief wat in 1987 van stapel gestuur is om selektief te teel met suidelike bontkwaggas, wat baie soos die uitgestorwe kwagga lyk, om die Kaapse kwagga te laat herleef.

Die Rau-kwaggas staan só bekend ter nagedagtenis aan Reinhold Rau, wat die projek gestig het.

Hul kudde, wat met vyf Rau-kwaggamerries, een hings en ’n vul begin het toe hulle in Mei 2022 van Pampoenvlei in die Atlantis-Darling-gebied na Vergelegen verskuif is, staan nou al op 10.

Benewens Vergelegen neem die Groote Post-landgoed, die Kloovenburg-landgoed en die Bartholomeus Klip-landgoed deel aan die projek, aldus Olderwagen.

“Die verlangde eienskappe is ’n korter en stewiger dier. Die vel moet ligbruin wees pleks van wit en die strepe moet smaller en minder dig op mekaar wees as dié van ’n normale sebra met die strepe wat na die maag, bene en agterkwart van die dier verdwyn,” sê hy.

Hy voeg by dat dit hulle tot dusver vyf generasies van selektiewe teling geneem het om hul huidige resultate te kon behaal. Hulle moet egter die kwaggas in ’n aparte kudde aanhou om teling met normale bontkwaggas te voorkom.

“Hulle is baie sosiaal en kommunikeer goed met al die ander diere wat ons op Vergelegen huisves en deel ’n kamp met elande en bontebokke.”

Van die elande op die Vergelegen-wynlandgoed.
Van die elande op die Vergelegen-wynlandgoed. (Foto: Vergelegen)

Die wynlandgoed het ook in Desember twee elandkalfies verwelkom, wat hul elandbevolking tot 11 diere laat toeneem het nadat hulle oorspronklik met vyf begin het wat in Julie 2020 na Vergelegen gebring is.

In Oktober is sewe bonteboklammers verwelkom wat die totale bontebokbevolking by Vergelegen op ongeveer 90 te staan bring. Bontebokke is in 2008 by Vergelegen hervestig van die nabygeleë Helderberg-natuurreservaat, waar die bevolking van ’n aanvanklike trop van 13 sedertdien floreer het.

– karla.vandermerwe@media24.com

• Karla van der Merwe is ’n Netwerk24-beursjoernalis.

SPELETJIES VANDAG

CTA