Omgewing

Twee Oseane-akwarium groet geliefde pylstert

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Honey, ’n 15-jarige heuningkoekpylstert van die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad, is dié naweek dood.
Honey, ’n 15-jarige heuningkoekpylstert van die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad, is dié naweek dood. (Foto: Twee Oseane-akwarium)

Die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad is een van sy geliefste inwoners kwyt.

Honey, ’n 15-jarige heuningkoekpylstert (Himantura uarnak), is dié naweek dood nadat sy vir ’n sekondêre infeksie behandel is.

Sy was ’n bekende gesig in die I&J Ocean-uitstalling van die akwarium.

Haar dood is vandeesweek op die akwarium se Facebook-blad bekend gemaak.

Honey was in haar later jare onder die sorg van die akwarium se veeartsenykundige span, wat haar vir ’n sekondêre infeksie behandel het. Omdat haar eetlus afgeneem en sy gewig verloor het, is sy na agter die skerms verskuif sodat sy meer gefokuste sorg kon kry. Ondanks alle pogings kon Honey egter nie herstel nie en is sy die naweek dood.

Honey was ’n geliefde inwoner van die I&J Ocean-uitstalling by die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad.
Honey was ’n geliefde inwoner van die I&J Ocean-uitstalling by die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad. (Foto: Twee Oseane-akwarium)

Volgens die akwarium dui die uitslag van ’n nekropsie moontlik op orgaanversaking, ’n algemene doodsoorsaak by bejaarde seediere.

Heather Wares, woordvoerder van die akwarium, het Donderdag gesê hulle is baie hartseer oor Honey se dood.

“Honey was sedert 2016 ’n grasieuse, geliefde inwoner van ons I&J Ocean-uitstalling. As ’n geliefde ambassadeur vir haar eie en ander mariene spesies het Honey ’n sentrale rol daarin gespeel om onvergeetlike ervarings vir die akwarium se besoekers te skep.”

Volgens Wares het Honey se sagte teenwoordigheid menige besoeker geïnspireer om die akwarium se doelwit te ondersteun om ’n veiliger oseaan vir alle seelewe te skep. “Sy sal baie gemis word en haar nagedagtenis sal sterk by ons akwarium-familie voortleef.” – jkruger@24.com

5506

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM