Tweede hondsdol rob in O-Kaap gevind

Ter illustrasie.
Ter illustrasie. (Foto: Getty Images)

Die Oos-Kaap het sy tweede geval van hondsdolheid by ’n Kaapse pelsrob in Sardiniabaai, Gqeberha, aangemeld.

Volgens dr. Greg Hofmeyr, mariene bioloog verbonde aan die Bayworld-oseanarium in Gqeberha, is die rob op 8 Januarie waargeneem waar dit stuiptrekkings gekry en skuim om die bek gehad het.

“Menseredders het Bayworld gekontak, wat binne ’n uur op die toneel was. Teen hierdie tyd was die rob reeds dood. Die karkas is verwyder en monsters is die volgende dag geneem.”

As gevolg van die groot aantal mense teenwoordig het die voorval die potensiaal gehad om ’n ernstige gesondheidsrisiko in te hou.

Hofmeyr sê die bewusteloosheid van die dier en die optrede van die menseredders het egter interaksie verhoed.

“Die publiek word daaraan herinner om hul afstand van robbe te hou, in die see en op land. Enige waarnemings op land van robbe wat vreemd optree of karkasse van robbe, moet so gou as moontlik by die Bayworld-oseanarium by 071 724 2122 aangemeld word. Enige robbe op land moet slegs deur kundiges genader word.”

Netwerk24 het vroeër berig dat die eerste geval van hondsdolheid in Jeffreysbaai in November aangemeld is.

Craig Lambon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het vroeër wenke gegee oor wat om te doen wanneer jy ’n rob teëkom:

  • Bly uit die water as ’n rob naby gesien word of vermoedelik naby is.
  • Handhaaf ’n veilige afstand van robbe op die strand en in die water.
  • Moenie robbe voer of aanraak nie; selfs kalm robbe of robbe wat siek lyk, kan onvoorspelbaar en gevaarlik wees.
  • Neem waarskuwingstekens ernstig op en gehoorsaam sluitings van strande.
  • Volg enige waarskuwings wat deur owerhede uitgereik is.
  • Respekteer borde wat aangebring is om gebiede aan te dui waar ’n rob aangemeld is.
  • Robbe met hondsdolheid kan aggressie, disoriëntasie, oormatige kwyling of verlamming toon. Meld sulke gedrag onmiddellik aan.
  • Meld robwaarnemings aan.
  • Beskerm troeteldiere. Hou troeteldiere aan leibande en weg van robbe, robkarkasse of gebiede waar robbe aktief is.
  • Vermy dit om met troeteldiere te gaan stap in gebiede waar hondsdol robbe voorheen teëgekom is of robbe dikwels voorkom, aangesien hondsdolheid na troeteldiere oorgedra kan word.

Maatreëls ná blootstelling:

  • Kry onmiddellik mediese hulp as jy gebyt, gekrap of aan die speeksel van ’n rob blootgestel is. Maak wonde deeglik skoon met seep en water en ontsmet die area.
  • Wees ook versigtig op bote.
  • Duikers, kajakroeiers en bootvaarders moet ’n veilige afstand van robbe handhaaf.
CTA