Die nuwe skoolkwartaal word met groot opgewondenheid in die Vrystaat ingewag en Vrystaters kan vandeesweek oor die algemeen warm en droë weer verwag, maar reën en donderweer behoort teen die naweek terug te keer.
Volgens Muneiwa Singo, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens se Bloemfonteinse kantoor, kan Vrystaters van warm en droë dae tot donderstorms en buie verwag.
Maandag word wydverspreide buie en donderweer oor grootste dele van die provinsie verwag. In die oostelike dele en langs die Lesotho-grens is daar ’n 60%-kans op geïsoleerde en verspreide buie, terwyl die res van die Vrystaat ’n 30%-kans het. ’n Geel vlak 2-waarskuwing is uitgereik teen hewige donderstorms oor die noordelike dele, insluitend Hoopstad en Welkom.
Van Dinsdag tot Donderdag behoort dit egter droog te wees oor die provinsie, met warm tot baie warm toestande. Teen Vrydag word geïsoleerde buie en donderbuie weer oor groot dele van die provinsie verwag, met die uitsondering van Fauresmith, waar dit droog sal bly.
Saterdag kan inwoners weer reën en donderweer verwag, veral oor die sentrale dele van die provinsie. Teen Sondagoggend is daar ’n kans op ligte buie in die oggend oor die ooste, maar dit behoort teen laatoggend op te klaar.
Die weerdiens waarsku ook teen toestande wat uiters bevorderlik is vir die ontstaan van wegholveldbrande aangesien dit die week baie warm en droog oor die grootste deel van die provinsie gaan wees.
Temperature
Minimum temperature sal tussen 9 °C en 17 °C wees, met warmer aande (tot 19 °C) oor die sentrale en noordelike dele Dinsdag en Woensdag.
Maksimum temperature bly warm tot baie warm, met 26 °C tot 33 °C van Maandag tot Woensdag.
Teen Donderdag word effens koeler toestande verwag met maksimum temperature tussen 19 °C en 29 °C oor die hele provinsie.





















